Die Wêrelddag vir Maatskaplike Geregtigheid is op 20 Februarie gevier. In ʼn meningsartikel vir Daily Maverick, skryf dr Chris Jones (Eenheid vir Morele Leierskap) dat beleggings in die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte kan help om sosiale geregtigheid vir miljoene mense regoor die wêreld ʼn werklikheid te maak.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hieronder.
Chris Jones*
Mense regoor die wêreld gedenk elke jaar op 20 Februarie Wêrelddag vir Maatskaplike Geregtigheid.
Die doel van die dag ondersteun wêreldwye pogings om oplossings vir volhoubare ontwikkeling te vind en om soveel as moontlik van die aspirasies wat in die Verenigde Nasies (VN) se Sekretaris-Generaal, António Guterres, se Our Common Agenda-verslag vervat is, te verwesenlik. Dit sluit die uitwissing van armoede, die bevordering van volle indiensneming en behoorlike werk, maatskaplike beskerming wêreldwyd, gendergelykheid en maatskaplike geregtigheid vir almal in.
Ek verskaf in hierdie artikel sekere perspektiewe op volhoubare ontwikkeling wat onder meer maatskaplike geregtigheid ondersteun.
Ek kyk meer spesifiek na sekere krisisse wat deur die Covid-19-pandemie blootgelê is, asook hoe hulle die VN se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte 2030 (VOD'e) ontspoor het, maar gelukkig ook na hoe ons hierdie uitdagings met toegewyde VOD-intervensies deur die waardes van vertroue en saamhorigheid kan aanspreek.
Covid-19 het die wêreld onderstebo gedraai
Kom ons kyk eerstens na hoe die pandemie die huidige VOD'e van koers af gedwing het met minder as 'n dekade oor voor 2030.
Die wêreldwye bruto binnelandse produk (BPP) het na raming met 3,5% in 2020 gedaal. Die pandemie het 'n verdere 124 miljoen mense na uiterste armoede gedryf om die genderarmoedegaping verder te vergroot. Amper een uit elke drie mense wêreldwyd (2,37 miljard) het nie toegang tot voldoende voedsel in 2020 gehad nie. Dit is 'n styging van bykans 320 miljoen in net een jaar.
Voorlopige skattings dui op 'n moontlike toename van tot 45% in kindersterftes in die jare wat voorlê. Dit is weens die vermindering in toegang tot voedsel en tekorte in gesondheidsdienste.
Gedurende 2020 het die totale aantal werksure met 8,8% gedaal – wat gelykstaande is aan 255 miljoen voltydse poste.
Volgens die Our Common Agenda-verslag word al hoe meer vroue regoor die wêreld slagoffers van geweld in hul eie huise weens beperkte beweging, sosiale afsondering en ekonomiese onsekerhede.
'n Studie deur die VN se Ontwikkelingsprogram (VNOP) en die Pardee Center for International Futures aan die Universiteit van Denver het ondermeer die multidimensionele uitwerkings van die pandemie oor die volgende dekade vasgelê. Dit het bevind dat “Covid-19 die aantal mense wat in uiterste armoede lewe, in 2030 tot meer as een miljard kan laat styg, met 'n kwartmiljoen wat daarheen gedryf word as 'n direkte uitwerking van die pandemie".
Grondverskuiwende VOD-beleggings
Gelukkig is dit darem nie net slegte nuus nie. Ons kan met spesifieke, toegewyde VOD-intervensies ons weg vinniger uit hierdie krisisse vind.
Selfs wanneer Covid-19-implikasies in ag geneem word, toon die VNOP/Pardee-studie dat 'n ambisieuse, maar haalbare stel geïntegreerde VOD-beleggings die potensiaal het om die wêreld se ontwikkelingsbaan vóór die pandemie verby te steek.
- Klik hier om verder te lees oor hoe sommige van hierdie grondverskuiwende VOD-beleggings 'n verskil kan maak.
*Dr Chris Jones is die hoof van die Eenheid vir Morele Leierskap in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.