Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stellenbosch Alumni gereed vir Cape Epic vir #Move4Food
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 14/02/2022

​Sedert 2020 en regdeur die COVID-19-pandemie moes Francois Swart en Robert van Staden die wiele aan die rol hou om te verseker dat hulle fiks bly vir die Absa Cape Epic. Nou het hulle tyd uiteindelik aangebreek, en van 20 tot 27 Maart gaan hulle die 657 kilometer en 16 900 meter se klim oor agt dae aandurf, terwyl hulle bewusmaking vir die Universiteit Stellenbosch se #Move4Food-veldtog skep.

Swart, by Fasiliteitsbestuur, en Van Staden, by die Fakulteit Opvoedkunde, het kragte saamgesnoer om die moeilike Cape Epic in 2020 te ry. Ongelukkig het COVID-19 hul planne verongeluk. Hulle moes toe maar hul die bergfietse eers weggesit het. Nadat die Cape Epic die groen lig gekry het, het hulle weer in die saal geklim en weer probeer fiks en oefen om hierdie uitmergelende wedren aan te pak, terwyl hul ook hul werk- en gesinsverpligtinge nakom. Dit sal Swart se 5de Cape Epic en Van Standen se 4de wees, en die eerste keer dat hulle as 'n span saamry vir 'n liefdadigheidsorganisasie.

Omdat niemand geweet het wanneer die wedren sou plaasvind nie, moes ons ryers ook hul geldinsamelingspogings vir 'n rukkie stop. Hulle doen nou weer 'n beroep op mense om hul liefdadigheidswebwerf te besoek en te skenk aan hierdie #Move4Food-studenteveldtog wat in Augustus 2018 afgeskop het. Die doel is om kosbanke op te rig sodat geen student op kampus honger hoef te lei nie. Studente en Alumni regoor die land het reeds uitdagings aangepak om fondse vir hierdie waardige veldtog in te samel, insluitend die US se rektor en visekanselier prof Wim de Villiers, wat op 13 Maart vanjaar die Kaapstad-fietstoer vir #Move4Food gaan ry.

Swart het voorheen gesê: “Om te dink dat daar een uit elke 100 studente is wat nie kos het om te eet terwyl hy of sy aan die US studeer, is harverskeurend. Hoe kan jy honger wees en steeds akademies suksesvol wees?" vra Swart, wat mense aanmoedig om donasies te maak vir hierdie veldtog. “Dit het net nooit by my opgekom dat daar studente hier op kampus is wat nie kos het om te eet nie. Dit is vir ons so belangrik om soveel as moontlik bewustheid te skep sodat ons kan verseker ons studente lei nie een dag honger nie en is akademies suksesvol."

“Ons sal bewustheid skep en die lewens van studente op kampus verander," sê Van Staden. "Dit is meer as om net deel te neem aan 'n wedren. Elke dag as ons oefen, kan ons nie help om te dink hoe swaar moet dit wees vir studente wat nie eens hul basiese behoeftes kan bevredig nie. Dit sal vir ons die grootste vreugde gee as ons ons teiken vir die veldtog bereik en die Epic voltooi sonder enige beserings," sê Van Staden.

"Skenk asseblief" is die pleidooi van die #Move4Food Epic-span. "Daar is nie 'n ding soos 'n klein skenking nie - elke bietjie help." As jy die span wil ondersteun in hul fondsinsamelingsveldtog, kliek asseblief hier