Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) gaan sy nuwe MBChB-kurrikulum vir eerstejaars vandeesmaand bekend stel. Dit is die hoogtepunt van ʼn proses wat vyf jaar gelede begin het toe die Universiteit Stellenbosch (US) ʼn program van kurrikulumvernuwing aangepak het.
Dit het begin met ʼn universiteitswye werksessie in Augustus 2017, wat onder andere deur prof Julia Blitz, destyds die FGGW se Visedekaan: Leer en Onderrig, en dr Derick van Vuuren, huidige MBChB-koördineerder, bygewoon is.
Daardie werksessie het ʼn deurslaggewende rol in die ontwikkeling van die nuwe MBChB-kurrikulum gespeel. Die aanvanklike proses het ʼn spangebaseerde benadering tot onderrigontwerp, bekend as Carpe Diem, behels. Dit is ontwikkel deur prof Gilly Salmon, ʼn leerinnoveerder van die Verenigde Koninkryk wat ook die werksessie gefasiliteer het.
Prof Karin Baatjes, Blitz se opvolger, het van meet af aan hierdie proses deelgeneem. “Sommige van die belangrike komponente hiervan [die Carpe Diem-leerontwerp] is om studentedeelname aan hul leerproses aan te moedig, asook groter klem op gemengde leer," verduidelik Baatjes, Blitz en Van Vuuren in ʼn gesamentlike verklaring.
“Ons is sedertdien gerig deur bepaalde beginsels wat gedurende daardie aanvanklike werksessie geformuleer is. Ons wou doelbewus wye insette in die kurrikulumontwerp van oor die Fakulteit heen hê (grondslagwetenskappe, klinici en gesondheidsberoepe-opvoedkundiges en studente), asook van onlangse graduandi, pasiëntverteenwoordigers en die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid."
'n Voorbeeld van die streng konsultasieproses wat die kurrikulumvernuwingsbestuurspan gevolg het, was ʼn ekspo by die US se Tygerberg-kampus in 2019, waar personeel en studente van die FGGW hul sê oor die voorgestelde ontwerp van die nuwe MBChB-kurrikulum kon sê.
Die resultaat van hierdie inklusiewe proses bied klaarblyklik baie stof vir trots en tevredenheid.
“Daar is geen wesentlike veranderinge in die inhoud van die kurrikulum nie," merk Baatjes, Blitz en Van Vuuren op. “Ons lei steeds dokters vir internskap in Suid-Afrika op. Maar daar is ʼn verandering in benadering en klem. Ons fokus op ʼn kern- kliniese kurrikulum wat in lyn is met die eienskappe van graduandi wat deur die US én die Gesondheidsberoeperaad van Suid-Afrika onderskryf word.
“Benewens kwessies wat met pasiëntsorg verband hou, help ons studente ook om kwessies in verband met selfsorg en sorg binne gemeenskappe aan te pak, asook om ʼn begrip te ontwikkel van hoe om die gesondheidsorgstelsel te versterk waar hulle ná hul gradedag sal werk."
Hulle voeg by: “Ons optimaliseer ook die gebruik van leertegnologieë en die verspreiding van opleiding oor die volle kontinuum van gesondheidsorgfasiliteite heen. Die ontwerp maak van ʼn spiraalvormige kurrikulum gebruik wat met die huidige verstaan van die wetenskap van leer ooreenstem.
“Dit is voorts ʼn geïntegreerde kurrikulum wat aan studente die geleentheid bied om hul kennis en vaardighede deurlopend oor alle dissiplines heen te ontwikkel. Dít word deur ʼn sterk klem op die ontwikkeling van die vaardigheid van kliniese redeneervermoë aangemoedig.
“Daar is dwarsdeur die eerste vyf jaar ʼn sterk klem op die ontwikkeling van navorsingskennis en -vaardighede. En ons sal ons pogings voortsit om ons graduandi aan te moedig om in Engels, Afrikaans en isiXhosa met pasiënte en gesondheidsorgkollegas te kommunikeer."
Die nuwe kurrikulum vir die sesde jaar bevat ook ʼn opmerklike verandering: “Die finale jaar van die kurrikulum sal weg van ons tersiêre onderrighospitale deurgebring word. Dit sal ʼn geleentheid vir die studente wees om, terwyl hulle nog onder toesig is, aan outentieke leergeleenthede as belangrike lede van kliniese spanne in ʼn verskeidenheid van kontekste oor die distriksgesondheidstelsel heen deel te neem."
Nog ʼn sleutelverandering hou met onderrigmetodes verband: “Daar sal van studente verwag word om selfs ʼn groter rol in die monitering van hul eie vordering te speel en, wanneer nodig, hul leer aan te pas om hul potensiaal vir sukses te optimaliseer," sê Baatjes, Blitz en Van Vuuren. “Daar sal meer van leertegnologieë gebruik gemaak word, met toegang tot aanlyn leerhulpbronne."
Die FGGW het van meet af die belangrikheid besef van die kurrikulumvernuwingsproses wat in Mei 2017 deur prof Arnold Schoonwinkel, destyds die US se Vise-rektor: Leer en Onderrig, geïnisieer is. Daarom het die Fakulteit ooreengekom om voor te stel dat die MBChB-kurrikulum die eerste program sou wees waarmee die proses sou afskop en werk daaraan het kort daarna begin.
“Alle kurrikulums moet gereeld vernuwe word sodat kennis en vaardighede met nuwe ontwikkelinge tred hou, asook sodat prosesse nuwe kennis oor leer en onderrig kan inkorporeer," sê Baatjes, Blitz en Van Vuuren.
“Ons streef daarna om die studentervaring te versterk, sodat hulle lewenslange intern-gedrewe leervaardighede aanleer; en ons hoop ons studente sal selfs meer verdiepende kliniese leergeleenthede hê. Ons beoog ook om ons onderrigpersoneel te laat voel dat hulle groter steun geniet."
Die bekendstelling van die nuwe MBChB-kurrikulum is duidelik die resultaat van ʼn noukeurig beplande en goed uitgevoerde proses.
“Dis nie ʼn reaksie op ʼn probleem nie," benadruk Baatjes, Blitz en Van Vuuren. “Dit is ʼn verdere ontwikkeling van wat reeds ʼn baie goeie, suksesvolle kurrikulum is."
Studente dra by tot vernuwingsproses
Die Universiteit Stellenbosch se mediese studente is gereeld geraadpleeg gedurende die proses om ʼn nuwe MBChB-kurrikulum te ontwikkel en hul terugvoering is in die ontwerp en implementering van die eindresultaat geïnkorporeer.
Jessica Davies, ʼn vyfdejaar- mediese student wat die voorsitter van die Tygerberg- Akademiese Sakeraad is en ook in die Tygerberg-studenteraad dien, is in die perfekte posisie om oor die nuwe kurrikulum kommentaar te lewer.
“As ʼn student wat nou amper die vorige MBChB-kurrikulum voltooi het, kan ek my ervaring van daardie kurrikulum met die nuwe een vergelyk," sê sy. “Die vorige kurrikulum se sterk punte is by die nuwe een gevoeg en die beperkings van die vorige een het gehelp om ʼn nuwe rigting vir die nuwe kurrikulum aan te dui."
Davies verskaf ʼn voorbeeld van sodanige innovering: “Pleks daarvan dat studente aan een orgaanstelsel op ʼn keer blootgestel word, asook aan al die prekliniese en kliniese kennis wat met daardie orgaanstelsel verband hou, bekyk die nuwe kurrikulum dinge in fases en benader die prekliniese konteks eers in sy geheel voordat na die kliniese toepassing aanbeweeg word. Dit sal die werk veel meer verteerbaar vir die studente maak, asook maklik om in kliniese praktyk te verstaan en toe te pas."
Sy voeg by: “Die kurrikulum het ook ten doel om seker te maak dat blootstelling op die kliniese platform so gou as moontlik begin en dit is ʼn enorme voordeel vir studente. Voorts word meer klem op navorsing geplaas, wat nie so eksplisiet in die vorige kurrikulum is nie. Dit is ʼn belangrike bevoegdheid om te ontwikkel om seker te maak ons lewer praktisyns wat daarmee gemaklik is om hul werk op bewysgebaseerde geneeskunde te baseer."
Davies meen die veranderinge sal ʼn veel beter begrip meebring van die fisiologie en patofisiologie wat onderliggend aan siektes is. “'n Stewige grondslag sal deur die nuwe kurrikulum gelê word, wat studente met ʼn veel groter en dieper begrip van die menslike liggaam sal toerus voor hulle leer hoe om dit te behandel," verduidelik sy.
Nog ʼn belangrike verandering is volgens haar die nuwe kurrikulum se groter fokus op holistiese sorg: “Daar is ʼn enorme fokus op gesondheid en welstand, wat van deurslaggewende belang in gesondheidsorg is – nie net vir pasiënte nie, maar ook vir dokters. Dit is nie ʼn sleutelfokus in die vorige kurrikulum nie."
Voorts is die veranderinge aan die MBChB-kurrikulum nie tot inhoud beperk nie, maar het dit ook op onderrigmetodes betrekking. “Die onderrigmetodes is op leergesentreerdheid gerig, met die gebruik van gevorderde multimediategnologie as hulpmiddels," merk Davies op.
Die fundamentele benadering tot leer het heeltemal verskuif en die kurrikulum is op ʼn veel meer gebalanseerde en studentvriendelike manier opgestel. “Die nuwe kurrikulum gaan ʼn veel meer studentgesentreerde benadering hê."
ʼn Blik op die nuwe kurrikulum
Die onlangs voltooide MBChB-kurrikulumvernuwingsproses is die derde groot vernuwing van dié program sedert dit in 1956 die eerste keer deur die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aangebied is.
Die veranderinge is deur twee sleuteldoelwitte gerig: 1) om die kurrikulum meer pragmaties vir studente te maak en 2) om dit meer responsief vir die gesondheidsbehoeftes van die Suid-Afrikaanse bevolking te maak.
Die vernuwingsproses, wat ná ʼn werksessie in Augustus 2017 begin het, is deur ʼn projekbestuurspan van die FGGW gestuur. Die werk is einde verlede jaar voltooi en die kurrikulum is deur die Gesondheidsberoeperaad van Suid-Afrika geakkrediteer.
Die nuwe kurrikulum sal vandeesmaand met vanjaar se inname van eerstejaarstudente in werking tree. Diegene wat voor 2022 vir die MBChB-program ingeskryf het, sal vir die duur van hul studies met die huidige kurrikulum voortgaan. Daar sal dus van 2022 tot 2026 ʼn oorvleueling van die huidige en die nuwe MBChB-program wees.
Die modules in die nuwe kurrikulum is soos volg:
Jaar 1 | Semester 1 | Wees en Word in gesondheidsorg |
| Semester 2 | Vorm en Funksie |
Jaar 2 | Semester 1 | Gesondheid en Welstand |
| Semester 2 | Disfunksie |
Jaar 3 | Semester 1 | Mediese speurder |
| Semester 2 | Intervensie |
Jaar 4 | Semester 1 | Kliniese rotasies |
| Semester 2 | Kliniese rotasies |
Jaar 5 | Semester 1 | Kliniese rotasies |
| Semester 2 | Kliniese rotasies |
Jaar 6 | Semester 1 | Verspreide Vakleerlingskap |
| Semester 2 | Verspreide Vakleerlingskap |
Voorts sal die Longitudinale Primêre Gesondheidsorgblootstelling- en Kliniese Weetgierigheidsmodules in tandem met alle modules onderrig word.