Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meer as 9 000 boomspesies wag om ontdek te word
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 01/02/2022

'n Nuwe studie het bevind dat die totale aantal bekende boomspesies op aarde 73 274 beloop, met 'n bykomende 9 186 wat nog onbekend aan ons is. Na raming kom 40% van hierdie onbekende spesies in Suid-Amerika voor.

Hierdie nuwe globale skatting van die aantal boomspesies wat onlangs in PNAS gepubliseer is, is ongeveer 14% meer as die vorige skattings van 60 000 spesies (2017) en 64 000 (2018).

Prof Cang Hui, 'n biowiskundige in die Departement Wiskundige Wetenskappe, was deel van die span van 147 navorsers van 153 verskillende instellings wêreldwyd wat saamgewerk het aan die projek.

Volgens Prof Hui is biodiversiteitskatting op streeks en globale skaal uitdagend: “Aangesien dit slegs prakties haalbaar is om in 'n klein gedeelte van die ekosisteem in areas van belang opnames te kan doen, moet die skattings van hierdie opnames geëkstrapoleer word na veel groter areas waarvoor daar nie data bestaan nie," verduidelik Hui.

Die navorsingspan het gebruik gemaak van 'n globale grondvlakgeverifieerde databasis van nagenoeg 64 100 spesies ten einde skattings te ontwikkel van die aantal boomspesies op bioom-, kontinentale en globale skaal. Deur die gebruik van die nuutste statistiese metodes het hulle daarin geslaag om 'n skatting te maak van die aantal boomspesies wat tans nog onbekend aan ons is.

Volgens die navorsingspan is die vraag oor hoeveel spesies op aarde voorkom, een van die mees fundamentele vrae in die ekologie. Wetenskaplikes het byvoorbeeld steeds nie 'n fundamentele begrip van hoeveel boomspesies daar is nie, alhoewel bome onder die grootste organismes op die planeet is wat ook die wydste verspreid voorkom.

Deur die vasstelling van 'n kwantitatiewe maatstaf, hoop die navorsingspan dat die inligting sal bydra tot die boom- en woudbewaringspogings en die toekomstige ontdekking van nuwe boomspesies in sekere dele van die wêreld.

“Gegewe die feit dat ons skattings toon dat daar ongeveer 31 100 boomspesies in Suid-Amerika voorkom, maar waarvan slegs 27 200 tans aan wetenskaplikes bekend is, beteken dit byvoorbeeld dat daar nog 3 900 on​ontdekte boomspesies op hierdie kontinent is. Die meeste van bogenoemde kan endemies wees en in diversiteitsbrandpunte van die Amasonekom en die Andes-Amasone-koppelvlak voorkom," skryf die navorsingspan in die artikel.

Dit maak die bewaring van woude 'n topprioriteit – nie net in Suid-Amerika nie, maar ook die tropiese en subtropiese woude op ander kontinente.  

Die studie het bevind dat  43% van alle boomspesies op aarde in Suid-Amerika voorkom, gevolg deur 22 % in Eurasië (wat die hele Europa en Asië beslaan), 16%  in Afrika, 15% in Noord-Amerika (15%) en 11% in Oseanië (Australië en duisende eilande in die Sentraal en Suidelike Stille Oseaan).

Volgens die navorsingspan belig die resultate van hul studie die kwesbaarheid van boomspesies wêreldwyd as gevolg van die mens se veranderende grondgebruik en die gepaardgaande invloed op toekomstige klimaat: “Die verlies van dele van woude waar hierdie rare spesies voorkom, sal direkte en potensieel langdurige gevolge op die globale spesiediversiteit hê, asook op hulle vermoë om ekosisteemdienste te kan verskaf".

“Ons resultate belig die gebrek aan kennis wat ons steeds het oor die boomspesies wat in ons wêreldwye woudsisteme voorkom, asook ons gebrekkige kennis oor die waarde van nuwe benaderings om hierdie gapings te help vul.  Hierdie inligting is nuttig om fundamentele insig te verskaf oor die diversiteit van lewe op ons planeet en die nodige bewaring daarvan," sluit hulle af.

Op die foto bo, twee ikoniese Afrika bome: die Marula (Sclerocarya birrea) en die 'Whistling Thorn' (Vachellia Drepanolobium). Foto's: Steven Tan, Flickr en Mike LaBarbera, Flickr.

Medianavrae

Prof Cang Hui

Departement Wiskundige Wetenskappe, Universiteit Stellenbosch

E-pos: chui@sun.ac.za