Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US ontvang CIMA-toekennings
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 21/12/2021

Die Skool vir Rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch het verskeie prestasietoekennings vir uitnemendheid ontvang tydens die tweede virtuele toekenningsgeleentheid van die Instituut vir Geoktrooieerde Bestuursrekenmeesters (CIMA) op 10 Desember 2021.

Die jaarlikse CIMA-uitnemendheidstoekennings gee erkenning aan instellings en individue regoor die wêreld wat die volgende generasie geoktrooieerde bestuursrekenmeesters en -leiers help slyp vir die rekeningkundige beroep in die toekoms. Dit word geborg deur die Vereniging vir Gesertifiseerde Internasionale Professionele Rekenmeesters (AICPA), 'n wêreldwye rekenkundige organisasie wat CIMA en die Amerikaanse Instituut vir Gesertifiseerde Professionele Rekenmeesters verteenwoordig.

Die Skool vir Rekeningkunde het 'n streeksonderskeiding in twee kategorieë ontvang: die CIMA-pryswennerstoekenning en CIMA se wêreldwye uitnemendheidstoekenning. Die CIMA- pryswennerstoekenning gee erkenning aan universiteite wat toppresterende CIMA-studente in gevallestudie-eksamens in Augustus en November 2020 en Februarie en Mei 2021 opgelei het. US het agt topstudente tydens hierdie eksamens opgelewer. CIMA se se wêreldwye uitnemendheidstoekenning verleen erkenning aan sy universiteitsvennote wat die hoogste slaagsyfers bo die internasionale gemiddelde oor 12 maande (1 Sept 2020 tot 31 Aug 2021) vir CIMA-eksamens behaal het.

Dié prestasie plaas die Skool vir Rekeningkunde op gelyke voet met ander vooraanstaande universiteite wêreldwyd wat ook verskeie CIMA-prestasietoekennings ontvang het. Dit sluit die Universiteite van Nottingham en Manchester in die VK in.

Die Skool se CIMA-program fokus nie net op rekeningkundige kennis nie, maar berei studente voor vir 'n sakeloopbaan. Dit onderrig vaardighede met die oog op strategiese advies en besluitneming, asook risikobestuur.

Mnr Roelof Baard, senior dosent en leier van die HonsBCom-program in Bestuursrekeningkunde by die Skool vir Rekeningkunde, het gesê: “Ons is werklik geëerd dat ons verskeie CIMA-uitnemendheidstoekennings vir 2021 ontvang het. Ons is trots om met CIMA geassosieer te word en sien daarna uit om in die toekoms saam met hulle te werk. Ons is dankbaar vir hierdie erkenning vir 'n program wat lank reeds deur die Skool aangebied word. Dit bevestig dat ons studente van hoë gehalte lewer wat nie net CIMA-eksamens slaag nie, maar ook gereed is vir die werkplek."

Volgens mnr Andrew Harding, uitvoerende hoof van Bestuursrekeningkunde by CIMA, is dit “'n eer om diegene wat die afgelope jaar merkwaardige toewyding aan hul studente en die rekeningkundige beroep getoon het, te erken en te vier. Al ons wenners en genomineerdes doen ongelooflike werk om die volgende geslag te help om hul potensiaal te verwesenlik en hul loopbaan 'n hupstoot te gee. Ons is trots om julle ons vennote te noem en waardeer julle ondersteuning opreg."

Meer as 400 nominasies van opvoedkundige instellings en individue is vanjaar ontvang vir oorweging in vier kategorieë: CIMA-toekenning vir Onderriguitnemendheid, CIMA-toekenning vir Uitemendheid in Navorsing, CIMA-uitnemendheidstoekenning in Kampuskultuur, en CIMA-toekenning vir Uitnemendheid in Aanstelbaarheid. Daarbenewens het 'n sentrale toekenningskomitee wenners aangewys vir die CIMA-pryswennerstoekenning, die CIMA Wêreldwye Uitnemendheidstoekenning en die CGMA-toekenning vir Kampus van die Jaar (wat op CIMA-eksamenprestasies in 2020 en 2021 baseer word).

CIMA is in 1919 gestig en is die wêreld se voorste en grootste professionele liggaam vir bestuursrekenmeesters. Dit is deel van AICPA en sy lede en studente funksioneer in 192 lande en gebiede in die nywerheids-, handel- en openbare sektore en in nie-winsgewende organisasies.

CIMA werk nou saam met werkgewers en steun toonaangewende navorsing, terwyl dit voortdurend probeer om sy professionele kwalifikasie en -ervaringsvereistes te verbeter om te verseker dat CIMA werkgewers se voorkeurverskaffer van finansieelopgeleide sakeleiers bly.

  • ​Foto regs: Mnr Roelof Baard, senior dosent en leier van die HonsBCom-program in Bestuursrekeningkunde aanRoelof_small.jpg US se Skool vir Rekeningkunde.