Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gradedagviering vir ouma en kleindogter
Outeur: Sandra Mulder
Gepubliseer: 21/12/2021
Daar word gesê ’n mens is nooit te oud of te jonk om te leer nie.  Dit is inderdaad waar vir twee studente van die Universiteit Stellenbosch (US), me Marietjie Jordaan, ’n 77-jarige ouma, en haar 21-jarige kleindogter, me Hilde Elema, wat albei vandeesweek hul kwalifikasies by die US se virtuele gradeplegtigheid ontvang het.  

Jordaan, wat op Oudtshoorn woon, het haar Nagraadse Sertifikaat in Teksredigering ontvang om nog n kwalifikasie by haar BA-graad en Hoëronderwysdiploma te voeg wat sy jare gelede behaal het toe sy so oud soos haar kleindogter was. Elema, wat op Stellenbosch woon, het vandeesweek haar BA-graad in Internasionale Studies ontvang. Om saam te gradueer was vir albei ’n baie spesiale oomblik.  

Die twee het saam begin studeer nadat Jordaan – wat sê sy het ’n bietjie “verveeld” met aftrede begin raak – aan die begin van 2021 vir haar kursus ingeskryf het, terwyl Elema haar finale jaar aangepak het.  “Ek vind dit baie stimulerend om te studeer en nuwe kennis in te win. Ek het egter as ’n afgetredene begin voel ek daag nie myself genoeg uit nie.” 

Studentelewe 
Elema sê hulle het so baie bymekaar geleer gedurende hulle tyd saam as studente. Deur haar ouma te sien studeer, sê sy het sy besef ’n mens kan altyd, ongeag jou ouderdom, nog nuwe goed byleer.  Vir Jordaan het Elema se kennis van tegnologie handig te pas gekom toe sy hulp met moderne tegnologie nodig gehad het om haar studies, wat gedeeltelik deur virtuele leer plaasgevind het, te voltooi. “Die nuwe tegnologie was aanvanklik uitdagend. Daar het nie rekenaars, die internet en interaktiewe virtuele sessies bestaan toe ek jare gelede ’n student was nie. Hilde het my baie gehelp,” sê Jordaan.  

Net so het haar ouma haar met taalkwessies in haar akademiese werkopdragte gehelp, sê Elema. “Dit was ook vir my insiggewend om te sien hoe my ouma haar lesse oor ’n onderwerp waaroor sy passievol is, benader. Sy het vir my ’n nuwe insig op studeer gegee,” sê Elema.  

Om saam studente te wees, het die ouderdomsverskil van 56 jaar tussen die twee heeltemal uitgewil. “Dit was pret om saam met my ouma te studeer. Dit het gevoel of ons uit dieselfde era kom,” sê Elema. 

Jordaan is baie dankbaar en sê dit was ’n voorreg om saam met haar kleindogter te gradueer. “Ek is baie trots op dít wat Hilde bereik het,” sê sy.  
Sy sê dit was ook ’n baie spesiale oomblik vir haar om nog ’n kwalifikasie te verwerf.  

Elema beplan om volgende jaar as ’n au pair in Duitsland te gaan werk om sodoende meer oor die kultuur te leer en haar Duitse taalvaardighede te verbeter, terwyl haar ouma se volgende uitdaging is om haar navorsing voort te sit.  

“Ek het nou die geleentheid om dieper in die essensie van Afrikaans in te delf en om my kennis op só ’n manier te gebruik dat ander ook Afrikaans korrek kan gebruik,” sê Jordaan.