Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Inklusiewe beraadslaging nodig om kollektiewe klimaataksies aan te spoor – Dr Dominic Okoliko
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 15/12/2021

Mense se persepsies van, houdings oor, en ondersteuning vir klimaatbeleid word beïnvloed deur die wyse waarop die media oor klimaatsverandering berig. Media (kommunikasie) of media-bemiddelde kommunikasie oor klimaatsverandering, of die mediavoorstelling van klimaatsverandering as 'n beleid en mense se mening oor klimaatsverandering, is as 'n belangrike ruimte erken waar die publiek van klimaatkwessies sinmaak.

Ongelukkig is daar nie veel aandag gegee aan die aard van sosiale diversiteit of verskillende kategorieë van sosiale rolspelers in mediavoorstellings, en die mate waarin dit openbare sinmaking rondom klimaatsveranderingbestuur beïnvloed, nie.

Dít is vlogens dr Dominic Okoliko van die Skool vir Publieke Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy het op 14 Desember 2021 sy doktorsgraad in Publieke en Ontwikkelingsbestuur by die US se Desember-gradeplegtigheid ontvang. 

Okoliko, wat van Nigerië afkomstig is, het vir sy PhD-studie media (kommunikasie) oor klimaatsverandering in Suid-Afrika, Nigerië en Kenia ondersoek. Hy het artikels oor klimaatsverandering in sommige van hierdie lande se grootste koerante ontleed en ook onderhoude met joernaliste wat die kwessie dek, gevoer. Sy ontleding het gefokus op die mate waarin sosiale diversiteit en 'n pluraliteit van menings in die media se dekking van klimaatsverandering weerspieël word.

Volgens Okoliko vereis die oorgang na volhoubaarheid 'n publiek wat by die onderhandeling, onderskrywing en wettiging van beleidsopsies betrokke is. Daarom vestig sy studie die aandag op die wyse waarop die prosesse van sinmaking oor klimaatsveranderingkwessies in die media posisionaliteite en wesenlike realiteite ontbloot wat die klimaatsveranderingdiskoers vorm. Posisionaliteit verwys volgens Okoliko na hoe verskille in sosiale posisie en mag die aanspraakmaker se rol vorm.

Hy voeg by dat ons 'n beperkte begrip het van die manier waarop laer-inkomste samelewings, veral dié in Afrika, deur middel van die media by sinmaking oor klimaatsverandering betrokke raak. Hierdie samelewings is volgens hom dikwels die kwesbaarste vir die skadelike gevolge van klimaatsverandering.

Okoliko sê die resultate van sy studie toon dat verskeie rolspelers, insluitend politici, kundiges, transnasionale ontwikkelingsagentskappe, sakelui, groepe in die burgerlike samelewing en gewone lede van die publiek, in die media seggenskap gegee word.

“My studie het egter bevind dat die menings van politici en kundiges ongeëwenaarde en bevoorregte dekking geniet het. Gewone lede van die publiek was op 'n merkwaardige wyse onderverteenwoordig, wat op verdraaide verteenwoordiging ten gunste van die elite dui. Dit was die geval met die koerante van al die drie lande wat ontleed is.

“Die resultate toon dit is belangrik om daarop te let na wie geluister word wanneer klimaatsverandering bespreek word. Verskillende rolspelers beklemtoon die interpretasies wat met hul waardes en belange ooreenstem.

Die nywerheidsrolspelers is byvoorbeeld grootliks met ekonomiese raamwerke oor klimaatsverandering geassosieer, terwyl die publiek meer geneig was om oor die invloed op landboukundige raamwerke te praat. Wat dit vir ons sê, is dat onderverteenwoordiging van 'n bepaalde groep hul bydrae tot openbare beraadslaging oor klimaatsverandering kan beperk."

Okoliko voeg by dat al die joernaliste met wie hy onderhoude gevoer het, saamstem dat dit belangrik is om die ruimte vir beraadslaging oor klimaatsverandering, wat deur die media aangebied word, uit te brei.

“Hulle het egter genoem dat 'n pluraliteit van menings nie altyd in die werklikheid geakkommodeer word nie. Dit het te doen met hoe die joernaliste hul rol in verband met die dekking van klimaatsverandering beskou, die soort norme wat hul praktyk reguleer en hul wesenlike werksomstandighede."

Okoliko sê die joernaliste het ook na die invloed wat dalende media-inkomste op verslaggewing van klimaatsverandering gehad het, verwys.

“Hulle het aangedui dat nuus oor die omgewing en klimaatsverandering dikwels weens beperkte hulpbronne nie voorkeur kry nie. Aangesien redakteurs boonop aan die verwagtinge van lesers probeer voldoen, om meer 'klikke' en 'opmerkings' te verseker, verskyn nuus oor klimaatsverandering nie so prominent nie, tensy dit natuurlik oor 'n spesifieke natuurramp gaan."

Okoliko sê aangesien klimaatsverandering nie 'n probleem van 'n bepaalde groep of streek is nie, kan dit help om bewustheid te verhoog en houdings teenoor oplossings vir klimaatsverandering te verander deur mense aan die verskille in ervaring van en perspektiewe op klimaatsverandering bloot te stel.

“My studie beklemtoon die belangrikheid van mede-skeppende sinmaking sowel as die gevaar van elite-gedrewe media (kommunikasie) beraadslaging, wat deelname van onder na bo beperk.

“Openbare sinmaking oor klimaatsverandering behoort 'n proses van inklusiewe beraadslaging te wees aangesien die kwessie kompleks, veelvlakking en sektoraal-veelvuldig is en baie verskillende rolspelers betrek. Inklusiewe beraadslaging is nodig om klimaataksies aan te spoor."

Foto: Dr Dominic Okoliko by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els