Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​Van kaalvoet skool toe stap tot doktorsgraad
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 15/12/2021

Ná jare van volharding, toewyding en harde werk, het die akademiese loopbaan van dr Simthembile Xeketwana, 'n dosent in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) vandeesweek 'n hoogtepunt bereik toe hy sy sesde kwalifikasie, 'n doktorsgraad in Kurrikulumstudie, ontvang het.

Xeketwana, wat ook die hoof van Huis Franci van Zijl op die US se Tygerberg-kampus is, se graad is by die US se Desember-gradeplegtighede aan hom toegeken.

Afgesien van sy doktorsgraad, spog Xeketwana ook met 'n BA-graad (2011), 'n Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS) (2011) en 'n honneursgraad in Afrika-tale (2012) van die Rhodes-universiteit. Sy ander kwalifikasies, wat hy aan die US behaal het, sluit in 'n meestersgraad in Linguistieke Teorie en Tekslinguistiek (cum laude) (2016) en 'n nagraadse diploma (2017).

“Ek vind altyd 'n rede om verder te studeer. Ná my eerste graad wou ek 'n onderwyser word, toe skryf ek in vir my NOS. Nadat ek by die Diosesaan-meisieskool in Makhanda begin skoolhou het, het ek besef ek moes my begrip van taal en taalonderwys verder uitbrei, toe voltooi ek my honneurs, gevolg deur 'n meestersgraad om my te help om die onderrig van taal beter te verstaan," vertel hy.

Xeketwana het in 2019, kort ná sy aanstelling as dosent by die US, met sy doktorale studie begin. “Ek wou my vaardighede en kennis oor meertalige onderrig in die hoër onderwys uitbrei en het toe 'n doktorsgraad in meertalige onderwys aangepak," sê hy.

Sy doktorale proefskrif, getiteld “The implementation of the language policy for multilingual education: Extending the teaching and learning of isiXhosa for communicative purposes in teacher education", fokus op meertalige onderwys vir leerders uit verskillende taalagtergronde in Suid-Afrikaanse skole.

Die doel van sy studie is om voordiens-onderwysers vir taaldiverse klaskamers voor te berei, veral in die voormalige model C-skole. Daarom het hy in sy studie 'n intensiewe isiXhosa onderrigmodule ontwikkel om Afrikaanse en Engelse studente in die BEd-grondslagfasekursus met isiXhosa vir kommunikasiedoeleindes toe te rus.

Xeketwana hoop sy navorsing sal tot die toeganklikheid tot onderwys in die land bydra en help om taalversperrings in klaskamers af te breek.

“Ek het my lewe daaraan gewy om ons onderwysstelsel te verbeter en om die oplossing te wees om toeganklikheid en gelyke geleenthede tot onderrig en tot al die ander geleenthede wat hierdie pragtige land bied, te bewerkstellig.

“Deur my studie wil ek studente beter verstaan en navorsing lewer wat gemeenskappe sal beïnvloed."

Grootwordjare

Xeketwana, wat in die Oos-Kaap grootgeword het, sê hy hoop sy storie sal die jeug wat moeilike omstandighede ondervind, motiveer. Hy het self as 'n jong seun swaargekry en vertel hoe hy ver afstande skool toe moes stap en selfs riviere moes oorsteek om daar uit te kom.

“Daar is steeds jong leerders wat soortgelyke uitdagings as ek moet oorkom. Hulle moet ver skool toe stap sonder skoene en 'n maaltyd. Ek wil hê hulle moet weet 'n mens kán deur harde werk, volharding en toewyding dít bereik waarvoor jy in die lewe bestem is," sê hy.

Fotograaf: Stefan Els