Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kanselierstoekenning vereer FGGW visedekaan vir twee dekades se getroue diens
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Tyrone August
Gepubliseer: 14/12/2021

Dr Therese Fish is een van vanjaar se ontvangers van die prestigeryke Kanselierstoekenning ter erkenning van haar bydrae oor bykans twee dekades tot die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

As Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak sedert 2006 is Fish – ʼn mediese dokter wat as ʼn lektor in die Besigheidskool by die US aangesluit het nadat sy ʼn MBA verwerf het – aan die spits van die integrasie van opleiding en navorsing by kliniese diens.

Dit sluit in om strategiese betrekkinge met die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste en ander vennote te ontwikkel en te handhaaf. Dit behels voorts verantwoordelikheid vir die sluit van ooreenkomste en kontrakte met instellings in die openbare én private sektore, asook gereelde interaksie met verskeie statutêre liggame.

Prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW wat Fish vir die Kanselierstoekenning in die sosiale impak-kategorie genomineer het, meen sy beskik oor die ideale kombinasie van leierskap- en bestuursvaardighede om die wye reeks pligte in haar portefeulje te behartig.

“Sy beskik oor sterk analitiese vaardighede en ʼn unieke vermoё om komplekse prosesse en konsepte te verstaan," het hy in sy motivering geskryf. “Hierdie eienskappe lê ten grondslag van haar uitsonderlike vermoё om in die komplekse ruimte tussen die hoёronderwys- en gesondheidstelsels te funksioneer."

As voorbeeld het Volmink verwys na Fish se rol as mede-leier van die vestiging van die Worcester-kampus en die Ukwanda- Landelike Kliniese Skool in 2011, wat geleenthede vir voorgraadse studente om hulle vir uitgebreide opleidingstydperke in landelike gebiede uit te leef, aansienlik uitgebrei het.

Sy het hierop voortgebou deur die strategiese beplanning en implementering van die Fakulteit se onderwysplatform suksesvol te lei. Dit bestaan nou uit meer as 100 opleidingsterreine in die gesondheids-, maatskaplike diens- en onderwyssektore en sluit uitbreiding na die Noord-Kaap en die Karoo in, wat voorheen ʼn tekort aan dienste gehad het.

Maar dit was nie net Fish se tegniese vaardighede wat Volmink oortuig het dat sy ʼn waardige ontvanger van die Kanselierstoekenning sou wees nie. “As kampvegter vir maatskaplike geregtigheid, gelykheid en transformasie het sy moedig die status quo uitgedaag om dit in lyn met die US se institusionele verbintenis te bring," het hy in sy motivering opgemerk.

As voorbeeld het die Dekaan verwys na ʼn opname wat sy in 2007 by die Tygerberg-hospitaal begin het om vas te stel hoe werknemers – en veral diegene uit onderverteenwoordigde groepe – die kultuur van die instelling ervaar. “Verdere getuienis van Therese se verbintenis tot inklusiwiteit is beliggaam in haar bevraagtekening van die tradisie van afsonderlike eedafleggingsprosesse van ons onderskeie voorgraadse programme," het Volmink gesê. Dit het gelei tot die ontwikkeling en aanvaarding van ʼn nuwe interprofessionele eed vir graduandi in 2018.

Fish het voorts ʼn sleutelrol gespeel in die finalisering van ʼn multilaterale bestuursooreenkoms tussen die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en die vier gesondheidswetenskappefakulteite in die provinsie tydens die onderhandelinge wat van 2012 tot 2016 plaasgevind het. Sy het dit opgevolg deur die taakspan te lei wat die bilaterale ooreenkoms tussen die US en die provinsiale gesondheidsdepartement gesluit het. Dit is in 2020 onderteken.  

Volmink het voorts daarop gewys dat Fish se leierskap ver anderkant die grense van die Fakulteit en die US strek. Sy was byvoorbeeld tien jaar lank ʼn lid van die Mediese en Tandheelkundige Raad van die Gesondheidsberoeperaad van Suid-Afrika, wat oor die opleiding van gesondheidspraktisyns in die land toesig hou. 

“Sy was voorts ʼn aktiewe deelnemer aan taakspanne wat verantwoordelik is vir die hersiening van die finansiering van kliniese opleiding in die gesondheidsberoepe en menslike hulpbronne vir gesondheid," het Volmink geskryf.

Haar Kanselierstoekenning is dus welverdiend. “[Fish] se individuele en kollektiewe bydrae en leierskap … is gekenmerk deur volgehoue uitnemendheid en innovering wat oor meer as ʼn dekade strek," het Volmink opgemerk. “Haar kampvegtersol en betrokkenheid binne die Universiteit Stellenbosch het ʼn transformerende uitwerking op die instelling gehad.

“Haar positiewe betrokkenheid by die raakvlak tussen die gesondheid- en onderwyssektore, veral wat betref die bevordering van gedesentraliseerde/gemeenskapsgebaseerde gesondheidsberoepsopleiding, het die Universiteit Stellenbosch se impak op die gemeenskap aansienlik verhoog."

Fish sê sy voel geёerd deur dié erkenning van haar bydrae tot die Universiteit en Fakulteit. “Ek het ʼn lang geskiedenis by die Universiteit Stellenbosch, waar ek in 1993 die eerste keer vir ʼn diploma in gemeenskapsgesondheid ingeskryf het terwyl ek voorberei het om die eerste keer in ʼn demokratiese Suid-Afrika te stem," onthou sy.

“Dit was nie ʼn maklike tyd om deur te kom nie, maar ek kyk nou terug en gee erkenning aan Stellenbosch, wat my die vermoё gegee het om verandering teweeg te bring, van my passies uit te leef en verder as ʼn leier te ontwikkel."

Fish kyk met ʼn mengsel van trots en pyn op haar loopbaan terug. “Ek is as ʼn kind van ʼn gemengde ras gebore in ʼn tyd in Suid-Afrika toe die stelsel van apartheid 14 jaar lank bestaan het. My pa, Ronald, het ons grootgemaak en het die belangrikheid van opvoeding beklemtoon (ek het my ma kort voor my sesde verjaarsdag verloor).

“Hy het ʼn briljante brein gehad en was maar 18 jaar oud toe die apartheidstelsel in 1948 in wetgewing vervat is. Hy het nooit die geleentheid vir ʼn universiteitsopleiding gehad nie. My ma, Muriel, het nooit hoёrskool voltooi nie.

“Ek is dwarsdeur my kinderdae, hoёrskooldae, universiteitsopleiding en loopbaan deur talle andere ondersteun wat my in staat gestel het om talle suksesse te behaal. Met die ontvangs van hierdie toekenning wil ek aan hulle – en veral aan Ronald en Muriel – erkenning gee."

Fish, wat vandeesmaand ook ʼn doktorsgraad in besigheidsadministrasie in hoёronderwysbestuur van die Universiteit van Bath sal ontvang, het ook hulde aan ander mense soos haar ouers gebring: “Hierdie Kanselierstoekenning is vir die baie Ronalds en Muriels wat weens die apartheidstelsel nie toegelaat is om hul volle potensiaal te bereik nie."


Foto-erkenning: Damien Schumann