Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Herbesinning oor die studentelewe en studentesukses op kampus
Outeur: SU International
Gepubliseer: 13/12/2021

​Die bevordering van die studentelewe en studentesukses vorm die kern vir die bereiking van een van die Universiteit Stellenbosch se belangrikste oogmerke, naamlik om 'n transformerende studente‑ervaring te bied. Dit behels om leer buite die klaskamer te neem, studente die geleentheid vir interkulturele betrokkenheid te bied, en opwindende globale leerervarings te skep. In vandag se wêreld word die studentelewe en studentesukses egter uitgedaag en daar is skuiwe wat vele noop om oor die studentelewe en studentesukses soos dit vandag op ons kampusse daar uitsien, te herbesin.

“Toe al my ou gereedskap en truuks onbruikbaar raak, is ek gedwing om oor die studentelewe en studentesukses in ons nuwe normaal te herbesin. Ek dink 'n goeie maatstaf vir 'n suksesvolle internasionale studentelewe op kampus is om 'n balans te vind tussen aangesig‑tot‑aangesig‑betrokkenheid en die gebruik van digitale platforms, en om eenvoudig met die integrering en interaksie van studente op kampus voort te gaan," sê Angelo Jephtha, Koördineerder: Internasionale Studentelewe en Studentesukses aan die Universiteit Stellenbosch Internasionaal.

Ons het gaan sit om oor die studentelewe en studentesukses op kampus te herbesin.

Watter rol speel 'n “suksesvolle studentelewe" en “studentesukses " in die internasionalisering van hoëronderwysinstellings?

Die rol van, of eerder die fokus op die studentelewe is om te verseker dat ons aan alle studente 'n “transformatiewe ervaring" bied, wat een van die kern‑ strategiese temas van die Universiteit is. In hierdie hoedanigheid doen ons dit via verskeie inisiatiewe soos die Matie Buddy‑program, die Internasionale Studente‑organisasie van Stellenbosch (ISOS), vrywilligerswerk en gemeenskapsbetrokkenheid, en kortkursusse soos Globale Burgerskap en Interkulturele Kommunikasie, wat ontwerp is om studente se globale leer te verbeter.

Dit klink dalk asof hierdie programme klaskamergefokus is, maar dit behels opwindende inisiatiewe wat pasgemaak is vir interkulturele betrokkenheid, en dit gee studente die geleentheid om pret te hê!

Hoe het Covid‑19 sekere van jou programme geraak en, as die hoofdrywer van die programme, hoe het Covid‑19 jou beïnvloed?

Die inperkings, die inperkings, die inperkings!

Covid‑19 het vele beperkings geplaas op die dinge wat ons kon doen. Tot nou toe kon ons hoofsaaklik sekere programme hervat. Aangesien heelwat van ons programme van aangesig‑tot‑aangesig‑deelname afhang, kon ons dit hierdie semester slegs met 'n minimale aanbod bekendstel.

Voor die streng grendeltyd het ons reeds kreatief geraak en verskeie digitale platforms verken, maar ons het gou gesien die studente ontvang dit nie so goed nie. Ons Matie Buddy program is byvoorbeeld aanlyn aangebied, maar ons het gaandeweg gesien dat studente belangstelling verloor, wat 'n groot invloed op ons gehad het.

Die beperkings wat geplaas is op die getal persone wat by 'n geleentheid mag wees, het ook tot probleme gelei. Toe ons byvoorbeeld 'n ISOS‑aktiwiteit moes fasiliteer, was daar verskeie uitdagings, veral met vervoer. In 'n situasie waar jy slegs tien persone in een bus mag vervoer, moet twee busse bespreek word om aan die regulasies te voldoen.

Wat was die belangrikste skuif wat gemaak is met die oriëntering van internasionale studente en hul integrering by die US‑studentelewe?

Die skuif na digitaal was die belangrikste verandering. Alhoewel ons reeds na groter aanlyn betrokkenheid beweeg het, het ons nie verwag dat die skuif met soveel haas sou plaasvind nie en dat ons slegs aanlyn sou kon werk nie.

Hierdie skuif na aanlyn programme het werklik die wese van onderlinge verbondenheid belemmer, wat deurslaggewend is vir die integrering van internasionale studente by die studentelewe en die verbetering van plaaslike studente se internasionale ervarings.

Almal kan getuig van “digitale uitputting" vanweë die skuif na die aanlyn omgewing, en heelwat kontakte het daardeur in die slag gebly.

Nietemin het die skuif na aanlyn programme beslis nuwe dimensies toegevoeg wat werkswyses betref.

Hoe het jy dit reggekry om hierdie veranderings makliker te maak? Wat was/is van die verdere uitdagings wat jy moes hanteer?

Om die skuif van aangesig‑tot‑aangesig‑ruimtes na aanlyn ruimtes makliker te maak, het ons WhatsApp‑groepe begin gebruik. Alhoewel dit steeds 'n aanlyn platform is, is dit effe meer persoonlik as e‑pos en ons het opgelet dat baie studente beter op WhatsApp as op e‑pos reageer.

Om meer interaksie te bewerkstellig toe die inperkings dit toegelaat het, het ons kleingroepfietstoere gereël om meer studentebetrokkenheid te bekom.

Die huidige uitdagings, terwyl ons stadigaan 'n mate van normaliteit bereik, is dat 'n mens gedurig aan kapasiteit moet dink wanneer jy beplan. Die getal studente wat teenwoordig moet wees, byvoorbeeld, hoe raak die Covid‑19‑inperkings hulle? Met bepaalde gemeenskapsbetrokkenheidsprojekte moet ons ons studente na plaaslike skole stuur. Selfs al sou al die studente dalk ingeënt wees, stel ons hulle dan bloot aan 'n omgewing waar sekere kinders dalk nie ingeënt is nie. So, ja, seker deur hierdie risiko's minder te maak.

Met al jou ou gereedskap voorlopig onbruikbaar en met twee groepe internasionale studente wat op die kampus aangekom het, wat sou jy sê is 'n goeie maatstaf van sukses vir die internasionale studentelewe, en hoe het jy herbesin daaroor?

Deur beide dele van die spektrum te laat saamwerkʼn hibriede benadering​. Aanvanklik het ons net aangesig‑tot‑aangesig‑aanbiedings gehad. Toe is ons gekonfronteer met die groot taak om betrokkenheid voort te sit terwyl ons volledig aanlyn moet werk. Indien 'n student byvoorbeeld die kursus in Interkulturele Kommunikasie moet neem, ontwerp ons dit nou so dat ons 'n mengsel van aangesig‑tot‑aangesig‑sessies én aanlyn sessies gebruik.