Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oasis skenk R1m om minderbevoorregte Maties te ondersteun
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 10/12/2021

Die globale fondsbestuursmaatskappy Oasis Group Holdings het Donderdag (9 Desember 2021) R1 miljoen aan die Universiteit Stellenbosch (US) geskenk tydens 'n amptelike oorhandigingsgeleentheid by Die Stal. 

Die skenking sal gelykop tussen die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en die Fakulteit Regsgeleerdheid verdeel word om minderbevoorregte studente met finansiële behoeftes te ondersteun om hul studies suksesvol te voltooi. 

Oasis het deur middel van sy Oasis Crescent Fund Trust oor die jare miljoene geskenk aan gesondheidsorg, maatskaplike ontwikkeling, ramphulp en onderwys. Hul befondsing van onderwys is op drie sleutelareas gefokus – vroeë kinderontwikkeling, primêre en sekondêre onderwys en tersiêre vlak befondsing. Hulle het tot dusver fondse aan 'n paar hoëronderwysinstellings geskenk​. 

Dit is die eerste keer dat die Oasis-groep befondsing aan die US skenk, maar volgens hulle is dit beslis nie die laaste keer nie. 

“Hierdie skenking is net die begin. Oor die volgende paar jaar beoog ons om 'n verhouding met die Universiteit Stellenbosch op te bou wat ons hoop sal groei en ontwikkel tot ander wedersyds voordelige geleenthede," sê Nazeem Ebrahim, ondervoorsitter van Oasis, wat saam met sy broer Mohamed Shaheen Ebrahim, voorsitter van Oasis, die tjek van R1 miljoen aan die Universiteit oorhandig het. 

Rektor en Visekanselier van die US, Prof Wim de Villiers, het die Oasis-groep bedank vir hul ondersteuning. 

“Soveel van ons studente beskik oor die nodige akademiese potensiaal, maar sukkel finansieel. Oasis se geskenk aan hierdie twee fakulteite sal ons help om daardie finansiële gaping te oorbrug en om gegradueerdes op te lewer wat betekenisvolle bydraes tot die sukses van Suid-Afrika kan maak." 

Prof Ingrid Woolard, Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het gesê die skenking is die resultaat van samesprekings met die maatskappy wat drie jaar gelede begin het. 

“Daar was beslis 'n bietjie belangstelling van hulle kant. Maar wat ek uit daardie vergadering geneem het, is dat Oasis baie versigtig te werk gaan. Die reaksie was 'kom ons bou die verhouding op 'n meer geleidelike manier', en ek dink vandag is die begin van daardie verhouding. Ons is baie dankbaar dat Oasis ons gehoor het en dat die maatskappy belangstel om 'n verhouding met ons te hê. Hierdie skenking sal beslis 'n verskil aan ons nagraadse studente maak." 

Prof Nicola Smit, Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, het gesê die fakulteit is uiters dankbaar vir hierdie wonderlike geskenk. 

​“Ons is gelukkig by Stellenbosch dat ons wonderlike fasiliteite vir ons studente het, so dit gee ons 'n bietjie vryheid om hierdie tipe geskenke te gebruik waar dit werklik 'n groot impak kan maak. Ons beplan om hierdie skenking te gebruik waar dit ons studente die meeste kan beïnvloed."

Foto: Prof Ingrid Woolard, prof Wim de Villiers, Mohamed Shaheen Ebrahim, Nazeem Ebrahim en prof Nicola Smit. (Fotograaf: Henk Oets)