Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hibridiese Desember-gradeplegtighede vier akademiese sukses ondanks moeilike 2021
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 09/12/2021

​Die Universiteit Stellenbosch (US) ken vanjaar 5 629 kwalifikasie toe by sy hibridiese gradeplegtighede van 13–16 Desember 2021. Dit sluit in 'n rekord-getal van 677 meestersgrade – die meeste die afgelope tien jaar. 'n Rekord-getal van 500 voorgraadse kwalifikasies word ook aan kandidate in die Fakulteit Ingenieurswese toegeken. Daarby sal die Universiteit ook 143 doktorsgrade verleen – 6 meer as die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Ses eredoktorsgrade, die Pro Bene Merito-toekenning, die Kanselierstoekennings en die Kanseliersmedalje sal ook toegeken word.

As gevolg van die COVID-19-pandemie sal die US van 13 tot 16 Desember 'n hibridiese gradeweek aanbied. Dit sal bestaan uit 11 klein fisiese (kontak-)plegtighede in die US Konservatorium vir die verlening van doktors- en eredoktorsgrade sowel as toekennings en medaljes, tesame met aanlyn fakulteitspesifieke gradeplegtighede.

'n Gradeplegtigheid word ook vandag (Vrydag, 10 Desember) vir die graduandi van die Fakulteit Krygskunde gehou. 

Eredoktorsgrade

Eredoktorsgrade word Maandag, 13 Desember aan die volgende mense toegeken:

  • Die graad Doktor in die Regsgeleerdheid (LLD) honoris causa sal verleen word aan regter Frederick Daniël Jacobus (Fritz) Brand vir sy uitmuntende bydraes op regsgebied. Hierdie US-alumnus word erken vir sy hoogs invloedryke uitsprake as regter van die hooggeregshof en die Hoogste Hof van Appèl, en vir sy betrokkenheid by die akademieskap van die regte en die opleiding van 'n nuwe geslag regters, sowel plaaslik as internasionaal.
  • Dr Marlene le Roux sal die graad Doktor in die Opvoedkunde (DEd) honoris causa ontvang vir haar werk om benadeelde groepe te bemagtig en te ondersteun om 'n vervullende loopbaan in die kunste na te jaag. Haar uitreikprojekte strek van teaterwaarderingsessies tot die bekendstelling van volledige produksies – kompleet met slypskole en opvoedkundige teater – in landelike gebiede en gemeenskappe met beperkte kuns- en kultuurgeleenthede.
  • Die US-alumna me Nicky Newton-King ontvang die graad Doktor in die Regsgeleerdheid (LLD) honoris causa vir haar bydrae tot die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse finansiële reg en regulering, en die versterking van die Johannesburgse Aandelebeurs (“JSE"), synde 'n hoeksteen van die Suid-Afrikaanse ekonomie, deur haar leierskap oor meer as 23 jaar.
  • Prof Marlene van Niekerk sal vereer word met die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil) honoris causa vir haar enorme impak op die Afrikaanse letterkunde en literêre landskap, nie net deur haar eie skryfwerk nie, maar ook deur die opleiding van studente wat later bekende skrywers geword en gesogte letterkundepryse gewen het.
  • Die graad Doktor in die Opvoedkunde (DEd) honoris causa​ sal verleen word aan prof John David Volmink vir sy voortreflike bydrae tot die onderwys en kurrikulumhervorming, die bevordering van wiskundeonderwys, en die gehalteversekering van skoolonderrig in Suid-Afrika ná apartheid.

Pro Bene Merito-toekenning, Kanselierstoekennings en -medalje

Die ontvanger van die prestigeryke Pro Bene Merito-toekenning, wat erkenning verleen aan 'n individu wat uitsonderlike diens aan die US gelewer het, is Desmond Kent Smith, 'n voormalige voorsitter van die US Raad en voorheen besturende direkteur van die Sanlam Groep. Die toekenning bestaan uit 'n medalje en sertifikaat.

Die Kanselierstoekennings gaan aan personeellede wie se loopbane van volgehoue uitnemendheid in navorsing, innovasie, leer en onderrig, sosiale impak en professionele dienste getuig. Die Kanseliersmedalje word op sy beurt toegeken aan 'n finalejaar- of nagraadse student wat akademies uitgeblink het.

Akademiese sukses

Volgens die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, was 2021 – die tweede jaar van COVID-19 – net so uitdagend soos 2020, maar het die Universiteit ook uitdagings in geleenthede omskep en nuwe, innoverende werkswyses gevind.

“Ons doelwitte vir 2021 was min of meer dieselfde as in 2020: om studente hulle akademiese jaar suksesvol te laat voltooi, en om as instelling volhoubaar te bly. En tog kon ons as gevolg van die aanpasbaarheid en deursettingsvermoë van ons personeel en studente hierdie doelwitte oortref, en floreer," het prof De Villiers gesê.

Die Rektor het gesê die US het sy studente aan die begin van die jaar suksesvol teruggebring kampus toe danksy aangevulde afstandsonderrig, -leer en -assessering (ARTLA) – 'n hibridiese leerstelsel waarmee studente hetsy persoonlik of aanlyn kon klas bywoon. Alle nodige protokolle is ook ingestel sodat studente die lewe op kampus weer fisies kon ervaar.

Prof De Villiers het die hoop uitgespreek dat hierdie inisiatiewe die klas van 2021 se studente-ervaring verbeter het, en gesê: “Universiteitsopleiding gaan oor méér as wat jy in die klas leer. Elke interaksie wat jy die afgelope paar jaar gehad het – akademies of sosiaal – sal jou toekoms help vorm."

  • Klik op die toepaslike skakels op www.sun.ac.za vir meer inligting oor die verskillende gradeplegtighede.