Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Behoorlike belegging, biodiversiteitsbestuur uiters noodsaaklik vir SA se ekologiese infrastruktuur
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 07/12/2021

Belegging in ekologiese infrastruktuur (EI) – ekostelsels soos bergopvanggebiede, vleilande, kusduine en oewerdeurgange wat 'n verskeidenheid noodsaaklike dienste aan mense lewer – word grootliks aangedryf deur die behoefte om biodiversiteit te beskerm en te bewaar, en om die uitwerking van omgewingsagteruitgang te versag.

Só meen navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) en die departement van Omgewingsake, Bosbou en Visserye (DOBV). Hulle het 'n sistematiese oorsig van toepaslike bewaringsbronne (hoofsaaklik vaktydskrifte) gedoen wat tussen 1970 en 2019 verskyn het om (1) die dryfkragte agter EI-beleggings te verstaan, (2) om private grondeienaars en grondgebruikers se bereidwilligheid en begeerte te verstaan om aan EI deel te neem en by te dra tot EI-beleggings, en (3) om institusionele ondersteuningsmeganismes te identifiseer wat gebruik word om beleggings aan te moedig.

Die studie, wat onlangs in die South African Journal of Science verskyn het, het ten doel om raad, lesse en insigte oor bewysgebaseerde bewaringsbeleide aan beleidsmakers en besluitnemers en natuurlikehulpbronbestuurpraktisyns te verskaf.

“Ons het in ons ondersoek na die mees fundamentele aandrywers of sleutelbehoeftes vir belegging in EI gevind dat bewaring, natuurrampe en sosio-ekonomiese behoeftes druk plaas op verskeie instellings en rolspelers om grondige maatreëls te formuleer ten einde EI te herstel, rehabiliteer en volhoubaar te maak," sê Malukhanye Mbopha van die DOBV. Mbopha, wat ook na navorsingsgenoot by die US se departement Bewaringsekologie en Entomologie is, het die navorsing saam met Karen Esler (departement Bewaringsekologie en Entomologie by die US), Theo Kleynhans (departement Landbou-ekonomie by die US) and Christo Marais (DOBV) onderneem.

Volgens die navorsers het “die vinnige agteruitgang van die omgewing en die potensiële impak daarvan op die samelewing 'n behoefte aan aansienlike beleggingspogings laat onstaan ten einde hierdie uitwerkings teen te werk terwyl volhoubaarheid bevorder word. Ander aansporings sluit die verbetering van lewensbestaan, aanpassing by en versagting van die uitwerking van klimaatsverandering en natuurrampe, en die beskerming van waterbronne in".

Hulle sê hul ondersoek het getoon dat openbare instellings en private grondeienaars in EI belê deur beleidsimplementering, bestuur, politieke ondersteuning en self-aangewese omgewingsbewustheid en ondersteuning aan kampvegters by nieregeringsorganisasies.

“Groot institusionele beleggings is finansiële meganismes soos aansporings en beleidsraamwerke vir verbeterde oorsigbestuur. Bewaringsprogramme en -fondse word deur hierdie beleggings op die been gebring om bewaringsdoelwitte vir EI te bereik, terwyl dit ook die ekonomie en maatskaplike welvarendheid versterk. Hierdie dubbeldoelige benadering is noodsaaklik in 'n land soos Suid-Afrika waar daar verwag word dat bewaringsprogramme beide ekologiese en sosio-ekonomiese opbrengste in een begroting sal lewer."  

Die navorsers wys ook daarop dat beleggings vir volhoubaarheid hoofsaaklik deur die regering aangedryf word, en deur die private sektor vir maatskaplike verantwoordelikheid.

“As die vernaamste belegger het die regering programme vir natuurlikehulpbronnebestuur ingestel om EI te herstel, in stand te hou en te beskerm, terwyl dit ook armoede verlig."

Hulle sê ook private grondeienaars is gewillig om deel te neem aan en te belê in EI wanneer daar vergoedingsmaatreëls ingestel is.

“Aansporingsgebaseerde beleide en gunstige sosio-ekonomiese toestande is deurslaggewend om bereidwilligheid aan te spoor om aan EI-programme deel te neem."

Volgens die navorsers kan ons nie bekostig om onder te belê in EI nie, aangesien die vinnige agteruitgang en bedreigings soos veldbrande, droogtes, klimaatsverandering en indringerplantegroei gaan volhou en 'n negatiewe uitwerking op ekonomiese aktiwiteite – veral in die landbou en bosbou – sal hê.

“Behoorlike beleggings is uiters noodsaaklik om EI in stand te hou en te herstel, wat op hulle beurt weer produktiwiteit en ekonomiese groei aanvul en voedselsekerheid beskerm."

Hulle doen 'n beroep op vennootskappe tussen die openbare en die private sektor om beleggings te vergroot omdat dit sal help om hulpbronne vir ekostelsel-gebaseerde ingrypings uit te brei.

“Geld uit die omgewings- en watersektore, van versekeringsmaatskappye, internasionale befondsingsagentskappe vir klimaatsverandering, koolstofbelastinggeld, maatskappye en weldoeners kan gebruik word om ondersteuningsmeganismes vir risikoverminder te vestig om sake-ondernemings te beskerm, ekostelseldienste te lewer en die beskerming van EI op die lange duur uit te brei."

Die navorsers beklemtoon ook die belangrikheid van programme vir biodiversiteitsbestuur in die bestuur van EI. 

“Voorspraak en kommunikasie moet versterk word om bewustheid te bevorder, kapasiteit te verhoog en belangstelling in bewaring aan te wakker. Duidelike boodskappe oor die voordele van EI-rehabilitasie kan politieke en maatskaplike ondersteuning vir EI-belegging hefboom."

  • Bron: Mbopha MS, Marais C, Kleynhans TE, Esler KJ 2021. Unlocking and securing ecological infrastructure investments: The needs and willingness to invest and institutional support mechanisms used. South African Journal of Science 2021;117(9/10): doi.org/10.17159/sajs.2021/8666

​SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Malukhanye Mbopha

Departement Omgewingsake, Bosbou en Visserye

Departement Bewaringsekologie en Entomologie, Universiteit Stellenbosch

E-pos: msmbopha.mbopha@gmail.com / mmbopha@dffe.gov.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za