Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Data vanaf Suid-Afrika dui op groter risiko vir herinfeksie deur Omikron
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 02/12/2021

Suid-Afrikaanse wetenskaplikes het vroeë tekens van 'n verhoogde risiko van herinfeksie wat met die Omikron variant van SARS-CoV-2 geassosieer word, geïdentifiseer. Dit is die eerste epidemiologiese bewys van die nuwe variant se vermoë om immuniteit wat deur infeksie bekom is, te ontduik.

'n Analise van roetine waarnemingsdata van Suid-Afrika vanaf 4 Maart 2020 tot 27 November 2021 toon dat die herinfeksierisikoprofiel van Omikron aansienlik hoër is as dié wat tydens die tweede en derde golwe met die Beta en Delta variante geassosieer is. Die waargenome aantal herinfeksies val reeds ver buite die voorspellingsintervalle.

'n Voordruk van die artikel, “Increased risk of SARS-CoV-2 reinfection associated with emergence of the Omikron variant in South Africa", is op 2 Desember 2021 op die voordruk-bedienersplatform medRxiv.org gelaai. Voordrukke is voorlopige verslae van werk wat nog nie deur die ewekniebeoordelingsproses gewaarmerk is nie.

Prof Juliet Pulliam, direkteur van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Epidemiologiese Modellering en Analise (SACEMA) by die Universiteit Stellenbosch en eerste outeur, sê hulle wou vasstel of daar epidemiologiese bewyse is van 'n verhoogde risiko vir herinfeksie met die Omikron variant, in vergelyking met die Beta en Delta variante. Dit is 'n krities-belangrike vraag, aangesien 'n toename in herinfeksies, eerder as nuwe infeksies, sal dien as 'n aanduiding dat die nuwe variant die vermoë ontwikkel het om infeksie-verworwe immuniteit te ontduik.

Hulle het bevind dat die relatiewe risiko vir herinfeksie tydens die vorige twee golwe stabiel gebly het, maar dat hierdie risiko sedert die begin van Oktober en einde November vanjaar drievoudig toegeneem het. Hoewel die relatiewe risiko van primêre infeksie tydens die vorige twee golwe toegeneem het (weens verhoogde oordraagbaarheid en veranderinge in gedragspatrone), blyk dit, gebaseer op die voorlopige data, dat dit nié die geval met Omikron is nie.

Die tydsberekening van hierdie afwyking in die epidemiologiese data word geassosieer met die opkoms van die Omikron variant, wat deur Suid-Afrikaanse wetenskaplikes geïdentifiseer is en op 25 November 2021 aangekondig is.

“Met ander woorde, teenstrydig tot ons verwagtinge en ervaring met die vorige variante, ervaar ons nou 'n toename in die herinfeksierisiko wat ons vorige ervarings oortref," verduidelik prof Pulliam.

Terwyl Gauteng reeds 'n vierde golf ervaar, aangedryf deur die Omikron variant, blyk dit dat 'n soortgelyke patroon besig is om in ander provinsies te ontwikkel: “Indien die hoë aantal herinfeksies in Gauteng en nasionaal 'n aanduiding is dat Omikron infeksie-verworwe immuniteit kan ontduik, sal hierdie patroon teen middel-Desember in die ander provinsies ook ontwikkel," skryf hulle in die artikel.

Volgens dr Harry Moultrie, senior mediese epidemioloog in die Sentrum vir Tuberkulose in die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD), hou hul bevindings belangrike gevolge in vir openbare gesondheidsbeplanning in lande met hoë vlakke van infeksie-verworwe immuniteit en 'n lae inentingskoers, soos onder meer Suid-Afrika en Indië.

“Die grootste prioriteit is nou die kwantifisering van die omvang van Omikron se vermoë om beide natuurlike en entstofverworwe immuniteit te ontduik, sowel as sy oordraagbaarheidskoers relatief tot ander variante en impak op die erns van simptome, te bepaal," sê dr Moultrie.

Intussen, sê prof Pulliam, ongeag vorige infeksie of siekte met COVID19, bied die entstof waarskynlik steeds die beste beskerming teen ernstige siekte.

Agtergrond

  • Die data is ingesamel deur Suid-Afrika se Nasionale Aanmeldbare Mediese Toestande Waarnemingsisteem en is saamgestel deur navorsers by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS).
  • Die analise is gebaseer op 2,796,982 individue met laboratorium-bevestigde positiewe SARS-CoV-2 toetsresultate ten minste 90 dae voor 27 November 2021. Van hierdie was 35,670 vermoedelike herinfeksies.
  • Die data en kode is beskikbaar by https://github.com/jrcpulliam/reinfections en DOI: 10: 10.5281/zenodo.5745339

Medianavrae

Prof Juliet Pulliam

Direkteur: Suid-Afrikaanse Sentrum vir Epidemiologiese Modellering en Analise (SACEMA), verbonde aan die Universiteit Stellenbosch

E-pos: pulliam@sun.ac.za

Vir mediaonderhoude met Prof Pulliam, skakel asseblief via whatsapp met Wiida Basson by 079 427 1976

 

Dr Harry Moultrie

Senior mediese epidemioloog, Sentrum vir Tuberkulose, Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS)

E-pos: harrym@nicd.ac.za

Selfoon: 082 331 1618