Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Robinson as president van SAERA verkies
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 23/11/2021

Prof Maureen Robinson van die Universiteit Stellenbosch (US) is as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Onderwysnavorsingsvereniging (SAERA) verkies.

Robinson is een van die stigterslede van SAERA, wat in 2013 bekendgestel het. Die organisasie se hoofdoelwit is om professionaliteit en kohesie in opvoedkundige navorsing en akademiese werk, in Suid-Afrika te bevorder en te verbeter.

Robinson, wat by die onlangse algemene jaarvergadering verkies is, sê sy voel geëerd, maar is ook bewus van die groot verantwoordelikheid wat met die amp gepaardgaan.​

Sy is tans die waarnemende Visedekaan: Onderrig en Leer by die Fakulteit Opvoedkunde en professor in die departement Kurrikulumstudie en het al verskeie sleutelposte in die onderwyssektor beklee. Sy was by twee universiteite dekaan van die opvoedkundefakulteit – Die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (2002–2012) en die US (2012–2017). Sy het al op die uitvoerende komitees van verskeie nasionale en internasionale beleidstrukture, insluitende die Forum vir Opvoedkunde-dekane, gedien.

As 'n Nasionale Navorsingstigting- (NNS) gegradeerde navorser ondersteun Robinson se werk as navorser en dosent haar passie vir innovasie in die onderwyssektor. “Ek geniet nuwe projekte, om oor opvoedkundige innovasies na te dink en om leermateriaal te ontwikkel, maar ook om met studente te werk en om met jong vakkundiges om te gaan. Bowenal geniet ek dit om aan inisiatiewe deel te neem wat die gehalte van onderwys in ons land kan verbeter," sê sy.

Robinson is maar al te bewus van die uitdagings wat studente, akademici en ander wat by die onderwyssektor betrokke is, mee te kampe het.

Volgens haar het SAERA 'n uiters belangrike rol om te speel om navorsing, beleid, teorie en die praktyk met mekaar te verbind, asook om die bevordering van gehalte-navorsing aan te moedig en om die volgende geslag navorsers te help ontwikkel.

​In ooreenstemming met SAERA se strategie is Robinson daartoe verbind om te help om interaksie en samewerking tussen nasionale en provinsiale onderwysdepartemente en navorsingsorganisasies soos beleidseenhede en die NNS te bevorder. Afgesien van hierdie verantwoordelikhede, hoop sy ook om bestaande netwerke tussen internasionale opvoedkundige navorsingsorganisasies en ander toepaslike organisasies in Suider-Afrika en op die vasteland van Afrika uit te brei.​