Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-beurs ʼn lanseerblad vir suksesvolle loopbaan in sportfisioterapie
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 23/11/2021

​ʼn Fisioterapie-gegradueerde van 2012 is aangewys as een van die Mail & Guardian se Top 200 Suid-Afrikaners vir 2021 – ʼn eer wat hom die lof laat besing het van sy dosente en mentors by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch.

Nicholas Pereira (32), stigter van die fisioterapiepraktyk, Enhanced Physio in KwaZulu-Natal, is vereer vir sy toewyding tot die skep van hulpbronne wat vir baie mense toeganklik is.

In ʼn onderhoud het hy gesê hy voel “ongelooflik trots en beskeie" om op die Mail & Guardian se prestigeryke lys, wat nou reeds 15 jaar lank aan die gang is, te verskyn. Hierdie lys is ʼn tentoonstelling van Suid-Afrika se knapste jongmense – die “ongelooflike innoveerders en voorlopers" in die land.

“Daar is baie goeie professionele mense daar buite en hulle almal kry nie erkenning nie," het Pereira gesê. “Met die ontvangs van hierdie toekenning wil ek beklemtoon dat niemand dit op hulle eie doen nie. Baie mense het my gehelp om hier uit te kom. Ek hoop ek maak hulle trots en dat hulle kan sien dat ek die meeste maak van die geleenthede wat ek gegee is."

Hy het bygevoeg dat hy nog baie kontak het met sy FGGW-dosente en die fisioterapie personeel sedert hy graadgevang het. “Hulle het ʼn groot bydrae gemaak tot my loopbaansukses."

Pereira  is gebore en getoë in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte, en hy het krieket gespeel in laer- en hoërskool voordat hy oorbeweeg het na die hokkieveld. Hy het Westerford-hoërskool bygewoon waar hy in sport uitgeblink het en so ʼn werwingsbeurs ontvang het om by die Universiteit Stellenbosch te studeer.

“Dit het die fooie baie meer bekostigbaar vir my en my ouers gemaak," het hy gesê. Hy het deeltyds gewerk terwyl sy ouers hom met die oorblywende fooie gehelp het.

Pereira het in 2012 sy BSc in Fisioterapie van die FGGW ontvang, en het aangegaan om ʼn MSc in Oefening en Sportfisioterapie by die Universiteit van Kaapstad in 2019 te voltooi.

“Tydens my voorgraadse studies het ons ʼn mentorskap-program gehad waardeur elke studente ʼn dosent as ʼn mentor aangewys is. Ek het dr Marianne Unger as my mentor gehad en sy het dinge in my raakgesien wat ek nie in myself kon sien nie. Ons het in kontak gebly nadat ek klaar studeer het en my gemeenskapsdiensjaar voltooi het. Dit was so ʼn waardevolle konneksie."

Na sy studies het Pereira sy gemeenskapsdiens in Queenstown in die Oos-Kaap voltooi.

“Ek het as vrywilliger gewerk by Queens-kollege, ʼn seuns hoërskool waar ek werkskadu vir seunsrugby gedoen het. Ek het baie daarso geleer.

“Daarna het ek ʼn werk in Pietermaritzburg gekry in sport en met buitepasiënte in fisioterapie. Daarna het my loopbaan weggespring."

Pereira het in 2014 begin as ʼn junior fisioterapeut by die Maritzburg United Voetbalklub, en het beweeg van die junior spanne, na die eerstespan fisio en daarna die hoof van fisioterapie. In 2017 het hy sy eerste praktyk by Hilton-kollege geopen, en dien steeds as die hoof van fisioterapie.

In 2017 het hy sy eie fisioterapie-praktyk in KwaZulu-Natal geopen, wat tans by verskeie persele in die KZN-middelland bedryf word – Hilton-kollege en Martizburg-kollege. Dit bedien ook verskeie professionele sportspanne – Martizburg United Voetbalklub en Hollywood Bets KZN Tuskers, die krieketspan.

Hy is ook sedert 2019 die navorsingskonsultant vir Suid-Afrikaanse Skolehokkie.

“My grootste bydrae tot my veld in Suid-Afrika, wat ook waarskynlik gelei het tot die erkenning deur Mail & Guardian, was my blog/vlog en sosiale media teenwoordigheid wat ek geskep het as ʼn hulpbron vir die publiek, my kliënte, en kollegas. Ek gebruik sosiale media om die filosofie van voorkomende gesondheidsorg oor te dra aan die jeug en aan professionele atlete, en ook om bewustheid te skep van fisioterapie in Suid-Afrika en om betekenisvolle gesprekke aan die gang te sit. Ek is ook ʼn dosent vir EduPro Health, ʼn aanlyn professionele opleidingsmaatskappy."

Volgens Pereira is hoogtepunte uit sy loopbaan die bywoning van twee hokkie-wêreldbeker toernooie saam met die Suid-Afrikaanse span, toe hy in 2015 aangewys is as die span-fisio vir Bafana Bafana en om in professionele sokker in Suid-Afrika te werk saam met Maritzburg United in die PSL sedert 2014.

Oor sy Wêreldbeker ervaring het hy die volgende te sê gehad: “Om Suid-Afrika te verteenwoordig by ʼn globale geleentheid was ongelooflik spesiaal en ek was bevoorreg om dit so vroeg in my loopbaan te kon doen. Ek was op die regte plek op die regte tyd, en het die regte ding gedoen."

Maar dit was ongetwyfeld die geleenthede wat hy vroeg in sy loopbaan ontvang het wat regtig die verskil gemaak het.

“Die beurs by die Universiteit Stellenbosch het die koers van my lewe verander. Ek is so dankbaar vir die geleentheid wat ek gegun is en vir die gehalte opleiding wat ek ontvang het – dit het my gehelp om ʼn ongelooflike loopbaan in sportfisioterapie aan die gang te sit. Ek kon my loopbaan begin het sonder massiewe studentelenings – ʼn groot voordeel in vandag se ekonomiese klimaat."

Pereira is getroud met die sportwetenskaplike Roslyn en het ʼn nuwe babadogter Olivia, wat in Julie vanjaar gebore is.

In sy spaar-tyd beoefen hy graag sport. “Ek is ʼn oefening-entoesias. Ek geniet draf en Crossfit. Om met atlete te werk, hou ek daarvan om net so fiks en gedissiplineerd te wees soos wat ek verwag hulle moet wees!"

Oor sy toekomsplanne het hy die volgende gesê: “Ek glo my praktyk sal aanhou groei en ek hoop om meer mense te bereik, mee saam te werk, te skakel en te ontmoet en gesondheid en welwees verder te bevorder. Ek sal graag die Olimpiese Spele en die Statebondspele saam met Suid-Afrika wil bywoon en sal dalk terugkom na die Universiteit Stellenbosch vir ʼn PhD – maar ek is baie dankbaar en tevrede met my loopbaan sover, en ek sien uit daarna om te sien hoe die toekoms van fisioterapie in Suid-Afrika deur my generasie gevorm sal word."