Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Samewerking help ontwikkel aspirerende en ontluikende akademici in en vir Afrika
Outeur: Sarah J Howie
Gepubliseer: 18/11/2021

Afrika-universiteitedag is verlede week (Vrydag 12 November) gevier. In ʼn meningsartikel vir Cape Times skryf prof Sarah Howie van die Afrika-sentrum vir Akademieskap hoe samewerking tussen tersiêre instellings regoor die kontinent kan help om aspirende en ontluikende akademici in en vir Afrika te ontwikkel.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

​Sarah J Howie*

Die Vereniging vir Afrika-universiteite (AAU) nooi elke jaar op 12 November hoëronderwysinrigtings regoor die vasteland om Afrika-universiteitedag te vier. Vanjaar se tema is “Bou nóú tegnologie-gebaseerde, veerkragtige universiteite!" Die AAU voer aan dat hierdie tema “geïnspireer is deur die feit dat die meeste Afrika-universiteite 19 maande nadat die COVID-19-openbare pandemie verklaar is, steeds in 'n verknorsing blyk te wees oor hoe om vorentoe te beweeg in die rigting van 'n volhoubare proses van tegnologie-ondersteunde onderrig, leer, navorsing, samewerking en administratiewe werksaamhede".

'n Mens kan ook die belangrike aspek van akademiese ontwikkeling op die vasteland byvoeg wat baie uitdagings en unieke geleenthede in die gesig staar. Oor die algemeen onderbelê Afrika-lande, Suid-Afrika ingesluit, aansienlik in navorsing en ontwikkeling. Die afname in regeringsondersteuning en die beduidende daling in die sakesektor se bydrae tot navorsingsuitgawes en -ontwikkeling in die land is kommerwekkend.

Die beweging na die globale Noorde en elders het tradisioneel 'n verstrooiing van Afrika-intellektueles veroorsaak wat op 'n uittog van kundiges uitgeloop het. Die beweging van sommiges uit Afrika na die suide van die vasteland het Suid-Afrika tot voordeel gestrek, maar in sommige gevalle was dit problematies vir ander Afrika-lande. Verskeie akademici keer nie na hul land van oorsprong terug nie weens die ongelykheid in hulpbronne en omgewings, asook blootstelling aan beter werkstoestande.

Akademieskap (wat navorsing-, onderrig- en leerontwikkeling insluit, staan sentraal by internasionale universiteite om nuwe kennis deur navorsing en innovasies te skep. Afgesien van sommige van die tipiese infrastruktuur-hindernisse in Afrika, ondervind sommige universiteite in Afrika aansienlike uitdagings (verder vererger deur die huidige pandemie). Dit sluit probleme in met stabiele internettoegang, betroubare en standhoudende elektrisiteit, asook 'n gebrek aan akademiese hulpbronne soos biblioteekdienste, laboratoriums en wetenskaplike toerusting. Dit is egter die ouerwordende professors en die krimpende poel kundige akademici wat as mentors en studieleiers vir nagraadse studente en jong personeel by universiteite kan optree wat ook 'n bron van kommer is.

Afrika moet sy eie hulpbronne mobiliseer, losbreek uit sy afhanklikheid van eksterne befondsing en hulpbronne en in sy eie ontwikkeling belê. Tersiêre inrigtings en akademici kan slegs deur samewerking in Afrika die uitdagings verbonde aan die ontwikkeling van akademieskap aanspreek, en tot navorsing, onderrig en leer in Afrika vir Afrika (en die res van die wêreld) bydra tot voordeel van die voorspoed van die vasteland en verder.

  • Klik hier om die res van die geplaasde artikel te lees.

​*Prof Sarah J Howie is die Direkteur van die Afrika-sentrum vir Akademieskap by die Universiteit Stellenbosch.