Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-akademici as mees aangehaalde navorsers aangewys
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 17/11/2021

​Drie van die Universiteit Stellenbosch (US) se voortreflikste akademici is onder die wêreld se mees aangehaalde navorsers volgens die Highly Cited Researchers™ 2021-lys van die Web of Science-groep wat Dinsdag (16 November 2021) bekendgemaak is.

Proff Oonsie Biggs (oorkruis​-gebiede), Umezuruike Linus Opara (Landbouwetenskappe) en Dave Richardson (Omgewing en Ekologie) is onder die wêreld se mees aangehaalde navorsers. Biggs is die bekleër van die DWT/NNS Navorsingsleerstoel in Sosio-ekologiese Stelsels en Veerkragtigheid by die Sentrum vir Kompleksiteitsisteme in Oorgang. Opara, 'n uitgelese professor, beklee die DWT-NNS Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel in Na-oes Tegnologie. Richardson, ook 'n uitgelese professor, is die direkteur van die DWT-NNS Sentrum vir Uitnemendheid in Indringerbiologie (SIB) en is 'n professor in die departement Plant- en Dierkunde. 

“Dié onderskeiding van drie van ons topnavorsers gee erkenning aan die kwaliteit en impak van hul navorsing. Die US is baie trots op hierdie prestasie," het prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, aan die US gesê.

Die lys, waarna daar elke jaar met groot verwagting uitgesien word, identifiseer wetenskaplikes en sosiale wetenskaplikes wat veelvoudige referate en artikels gelewer het wat in die boonste 1% volgens die aantal aanhalings in hul vakgebiede en jaar van publikasie verskyn en dus as uiters invloedryk onder hul eweknieë beskou word. Vanjaar se lys bevat sowat 6 602 mees aangehaalde navorsers uit meer as 70 lande en streke in 21 velde van die natuurwetenskappe en sosiale wetenskappe.

Biggs, Opara en Richardson bevind hulle in uitgelese geselskap saam met 24 Nobelpryswenners, insluitende vyf wat vanjaar aangekondig is, en 77 aangehaalde bekroondes (Engels: Citation Laureates). Hierdie groep is individue wat met behulp van aanhalingsontledings deur Clarivate erken word as 'van Nobel-gehalte' en moontlik Nobelpryswenners kan wees.

Die metodiek wat die room van invloedryke navorsers bepaal, maak op die inligting en ontledings staat wat bibliometriese kundiges by die Instituut vir Wetenskaplike Inligting van die Web of Science-groep doen. Hulle gebruik InCites Benchmarking & Analytics, Essential Science Indicators en 'n unieke samestelling van wetenskapprestasie-metrieke en neigingsinligting gegrond op vakkundige publikasiegetalle van artikels en aanhalingsinligting van die Web of Science-groep, die wêreld se grootste uitgewer-neutrale aanhalingsindeks en navorsingsinligtingsplatform.

David Pendlebury, hoof van navorsingsontleding by die Instituut vir Wetenskaplike Inligting, het in reaksie op die 2021-lys gesê dit word al hoe belangriker dat lande en instellings erkenning en ondersteuning bied aan die buitengewone navorsers wat die uitbreiding van die wêreld se kennis aandryf. “Hierdie lys identifiseer en vier buitengewone individuele navorsers wat 'n betekenisvolle invloed op die navorsingsgemeenskap het, soos gesien kan word in die koers waarteen hul werk deur eweknieë aangehaal word.

“Hul navorsingsbydraes is die brandstof wat die innovasie, volhoubaarheid, gesondheid en veiligheid aanvuur wat só belangrik is vir die toekoms van ons samelewing," het hy bygevoeg.

  • Klik hier vir die volledige Highly Cited Researcher 2021-lys en uitvoerende opsomming. Besoek hierdie webbladsy vir die metodiek.