Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Geen vuil tekkies vir CleanSneakers.co se stigter, Charles Mudima
Outeur: Faculty of Science (Wiida Fourie-Basson)
Gepubliseer: 16/11/2021

Loop jy steeds met vuil tekkies rond? Dan het jy waarskynlik nog nie van CleanSneakers.co, die breinkind van Charles Mudima, 'n student aan die Universiteit Stellenbosch (US) gehoor nie.

Met 'n visie dat hy teen 2022 tot 1000 studente se tekkies per jaar wil skoonmaak en teen 2025 sy besigheid na ander universiteite wil uitbrei, sal Charles die US verteenwoordig by die EDHE Entrepreneurship Intervarsity Finals wat hierdie Donderdag 18 November 2021 in Johannesburg gehou word. Vir sy plek in die finaal moes hy teen 150 streeksfinaliste van alle openbare universiteite in Suid-Afrika meeding.

Die Entrepreneurskapsontwikkelingsprogram in Hoër Onderwys (EDHE) word aangebied deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding in samewerking met Universiteite Suid-Afrika. Die doel van die kompetisie is om die top- studente entrepreneurs by elke universiteit te identifiseer, hulle ondernemings bekend te stel en beleggers te nooi om daarin te belê. Die kompetisie word deur die Allan Gray Orbis Foundation en die SAB Foundation ondersteun.

Charles, 'n tweedejaarstudent met Rekenaarwetenskap en Geografiese Inligtingstegnologie as hoofvakke, sê hy het die besigheid vroeëer vanjaar begin omdat hy gesien het dat baie studente op kampus met vuil tekkies rondloop. Nadat hy met sommige van die studente gesels het en bietjie marknavorsing gedoen het, het hy 'n gaping in die mark geïdentifiseer vir 'n tekkieskoonmaakdiens by die US: “Ons het op YouTube die fynere kunsies van tekkies skoonmaak geleer en tot op hede het ons alreeds meer as 165 paar tekkies vir meer as 100 studente skoongemaak. Volgende jaar beplan ons om ons kliëntebasis na 1 000 studente te vergroot en die besigheid na vyf ander Suid-Afrikaanse universiteite uit te brei," sê hy.

Tans verskaf CleanSneakers.co werk aan vier medewerkers: Zina Nazer, 'n tweedejaar-BA-student in Geesteswetenskappe, Lunga Momoza, 'n derdejaar-BA-student in Sosiale Dinamika, Esihle Vellem, 'n ingenieur, en Vuyani Ndlovu, 'n finalejaarstudent in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese. Dit behels dat hulle die vuil tekkies by hulle eienaars gaan oplaai en die skones terugbesorg - tans per fiets - die was daarvan, sowel as die bestuur van die besigheid se sosiale mediarekeninge en die finansies. 

“Dit verg geloof, harde werk en moed om in 'n eenvoudige idee, iets soos die skoonmaak van tekkies te glo," erken hy. “Maar vir enige een wat daarvan droom om sy of haar eie onderneming te besit: jy moet klein begin, hard werk en in jou wildste drome glo."

Benewens sy studies en die besigheid, het Charles ook saam met Goodforthesole, 'n nieregeringsorganisasie gewerk en gehelp met hulle skoeninsamelingsveldtog: “Verlede maand het ons die studentegemeenskap gevra om hulle skoene wat nie meer gedra word nie, te skenk. Ons het dit ingesamel, gewas en toe aan die Local Surf Lounge Academy in Muizenberg geskenk. Soos wat die onderneming groei, wil ons in die gemeenskap terugploeg," voeg hy by.

Charles het in Zimbabwe grootgeword en in 2009, in sy graad 3-jaar, saam met sy familie na Suid-Afrika gekom. Hy het egter verkies om sy hoërskoolloopbaan aan die Marist Brothers Nyanga High School in die Manicaland-provinsie in Zimbabwe te voltooi. By hierdie Katolieke skool wat in 1962 gestig is, het hy volgens hom beduidend gegroei ten opsigte van sy studies, entrepreneursvaardighede en 'n diep spirituele lewe met waardering vir die eenvoud van die lewe.

Tussen sy akademiese studies, sy pligte as huiskomiteelid in Dagbreek-koshuis en die bestuur van CleanSneakers.co, het hy meer as genoeg om te doen, dog maak hy altyd tyd om ander te help.

In terme van toekomsplanne hoop hierdie jong man met sy skitterwit tekkies om 'n loopbaan in lugvaart te volg: “Ek is mal oor wiskunde, maar ek het ook 'n passie vir lugvaart. Ek het met my studies agtergekom dat wiskunde in verskeie velde en in verskeie industrieë toegepas kan word. Dit het my laat besef dat die meeste probleme vanuit 'n wiskundige perspektief gekwantifiseer en opgelos kan word. Met CleanSneakers.co gebruik ek wiskunde vir ruimtelike analise om finansiële vooruitskattingsmodellete te skep. Miskien kan ek dieselfde in lugvaart doen," sluit hy af.

Fotograaf: Stefan Els