Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nadeem is HEFMA se nuwe president
Outeur: Operations and Finance
Gepubliseer: 16/11/2021

​Nadeem Gafieldien, Direkteur Eiendomsdienste by Fasiliteitsbestuur, is verkies tot President van die Hoër Onderwys Fasiliteitsbestuurvereniging (HEFMA) by die mini-konferensie wat die Universiteit Stellenbosch in Oktober 2021 aangebied het.

HEFMA se doel is om hoë-gehaltestandaarde in die fasiliteitsbestuur kampusse vir Hoër Onderwys te ontwikkel en te handhaaf. Afgesien van inligting deel en netwerkvorming, is die vereniging aktief betrokke by die opleiding van lede in hoëronderwys-fasiliteitsbestuursomgewings.

Nadeem is al baie jare aktief betrokke by die vereniging se werk. Hy sê: "ons missie is om fasiliteitsbestuurders te bemagtig om fasiliteite en infrastruktuur van hoë gehalte vir hoëronderwysinstellings te ontwikkel, in stand te hou en te onderhou. Hierdie vereniging bring fasiliteitsbestuurders van 26 universiteite regoor Suid-Afrika bymekaar om by mekaar te leer. HEFMA is die kennissentrum van fasiliteitbestuurverwante kwessies vir en namens sy lede."

As HEFMA se nuwe President, wil Nadeem die vereniging se voetspoor uitbrei om die sowat vyftig kolleges regoor die land in te sluit. "Ek sal ook ons aksies herfokus om ons lede toegang te gee tot professionele opleiding en opgradering, sowel as 'n sterk klem lê op bestuur. Aangesien ons ons verskillende instellings se grootste bates by fasiliteitsbestuur beheer, moet ons lede ten volle vaardig wees in hul spesialisareas. Ons bestuur inderwaarheid klein munisipaliteite. Daarom kan 'n mens nie bekostig om die bal te laat val nie," sê Nadeem. "Ons moet verseker dat ons lede hierdie fasiliteite kan bestuur en op hoogte is van die nuutste tegnologie en bestuurstyle."

HEFMA hou drie tot vyf opleidingsessies per jaar in verskeie streke. Een maal per jaar word lede na 'n konferensie genooi waar hulle aan eweknieë en kundiges in fasiliteitsbestuur in die hoëronderwysomgewing blootgestel word.​