Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwer, beter laboratoriumtoetse kernbelangrik in stryd teen diabetes
Outeur: Annie Zemlin, Rajiv Erasmus & Tandi Matsha-Erasmus
Gepubliseer: 16/11/2021

Sondag (14 November) was Wêrelddag vir Diabetes. In ʼn meningsartikel vir Health24, skryf proff Annie Zemlin en Rajiv Erasmus (Chemiese Patologie) en prof Tandi Matsha-Erasmus (Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie) dat nuwer en beter laboratoriumtoetse uiters belangrik sal wees vir die diagnose en behandeling van diabetes in die komende dekades.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

Annie Zemlin, Rajiv Erasmus & Tandi Matsha-Erasmus*

Tot taamlik onlangs nog is tipe 2-diabetes mellitus net in ontwikkelde lande as 'n groot gesondheidsprobleem beskou, maar daar is 'n toename in die voorkoms daarvan in ontwikkelende lande. Dit word aan vinnige verstedeliking, 'n toename in die verbruik van kitskos en 'n algemene gebrek aan oefening toegeskryf.

Volgens die Internasionale Diabetes Federasie kan Afrika-lande teen 2045 'n styging van tot 143% in die aantal mense met diabetes verwag. Hul jongste verslag toon dat Suid-Afrika die hoogste voorkoms van diabetes, asook die hoogste aantal diabetes-verwante sterftes, op die vasteland het. Die land se diabetes-verwante uitgawes – 23% van die totale gesondheidsbegroting wat in 2019 op die bestuur van die siekte spandeer is – is ook die hoogste. Met die aantal geval wat in die komende dekades verder gaan styg, kan vroeë diagnose van die siekte uiters belangrik wees om mense se lewens te red. Ter viering van Wêrelddag vir Diabetes (14 November) wil ons op die belangrikheid van diagnostiese toetse in die stryd teen die siekte fokus.

Vroeë jare

Die diagnose van diabetes strek millennia terug. So ver terug as 1552 b.C. het die Egiptiese dokter Hesy-Ra gereeld urinering en gewigsverlies by diabetes aangeteken. Die Indiese dokter Sushrata het aangedui dat die urine van diabete miere gelok het en het dit vir diagnose gebruik. In die eerste eeu n.C. het die Griekse dokter Arateus diabetes as die “wegsmelting van vlees en ledemate" na urine beskryf en die naam “diabetes" aan die siekte gegee wat die Griekse woord vir “siphon" is. Die tradisionele driegroep van poliurie, polidipsie en polifagie is in 200 n.C. in China beskryf. Eeue later het “waterproeërs" 'n soet smaak in die urine van diabete opgemerk en vandaar die naam “mellitus" wat heuning beteken.

Toekoms

So, wat hou die toekoms vir laboratoriumtoetse in diabetes mellitus in?

Namate tegnologie vooruitgaan, word nuwer en beter laboratoriumtoetse aanhoudend vir die diagnose en opvolg van diabetes ontwikkel. Hierdie toetse sal help om mense se risiko vir diabetes te voorspel, sodat hulle so vroeg as moontlik die nodige leefstylveranderinge kan maak. Met die aantal diabete wat wêreldwyd gaan vermeerder, is nuwe navorsingstudies dringend nodig.

  • Klik hier om die res van die geplaasde artikel te lees.

*Proff Annie Zemlin en Rajiv Erasmus is verbonde aan die afdeling vir Chemiese Patologie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch en die Nasionale Laboratoriumdiens. Prof Tandi Matsha-Erasmus is verbonde aan die MNR-eenheid vir Kardio-metaboliese siektes by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie.