Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vaarwel, prof Andrie Schoombee!
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 11/11/2021

Wanneer prof Andrie Schoombee later vanjaar die Departement Ekonomie vaarwel roep, laat hy 'n nalatenskap wat nie net die Departement se kernwaardes uitgebou het nie, maar dit ook gehelp het om 'n vastrapplek in die nuwe Suid-Afrika te kry.

Die Departement Ekonomie het verlede week (6 November 2021) afskeid geneem van Schoombee, een van sy langsdienende dosente, tydens 'n funksie by die Lanzerac Hotel in Stellenbosch. Schoombee, wat in 1999 'n hoogleraar geword het, is reeds sedert Augustus 2000 die voorsitter van die Departement.

Van sy begindae in die Departement Ekonomie sê hy: “Toe ek in 1983 by die Departement aangesluit het, was prof Colin McCarthy die voorsitter. Ek onthou dat prof McCarthy altyd  vir my gesê het dat hy uitsette bestuur en nie insette nie. Waar jy gewerk het en wanneer jy gewerk het, was vir hom irrelevant, solank jy net resultate gelewer het. Dit het baie vertroue, kollegialiteit en lojaliteit by personeel geskep. Boonop het die feit dat hy baie deursigtig was in sy besluitneming, 'n omgewing geskep waarin enigiemand kon floreer. Daar was ook 'n baie sterk fokus op ons studente, en ons het hulle altyd eerste gestel."

Dit was dus geen verrassing dat Schoombee, nadat hy as voorsitter aangewys is, dit sy hoofdoel gemaak het om daardie waardes van McCarthy − wat ook deur sy opvolgers, proff Ben Smit, Servaas van der Berg en Antony Melck, gekoester is − te handhaaf.

“Vir my is die hoogtepunt van my ampstermyn die handhawing van daardie hoë vlak van kollegialiteit en lojaliteit in die Departement. Dis daardie waardes wat die Departement onderskei van ander werksomgewings. Verder het ons ook seker gemaak dat ons fokus op die Departement nie afwyk nie. Selfs wanneer individuele personeellede uitblink, was dit altyd die Departement wat eerste gekom het.

“En natuurlik het ons ook ons onwrikbare fokus op ons studente behou. Ons is altyd bewus daarvan dat ons studente ons kliënte is en dat jy te alle tye moet probeer om jou kliënte tevrede te stel."

Hy beskryf sy bestuurstyl as “deelnemend en oop", en sê personeellede is aangemoedig om “alles met my te bespreek; al verskil jy van my".

Onder sy leiding het die Departement se navorsings- en sosiale impakaktiwiteite hand oor hand toegeneem. Dieselfde geld vir die studente- en personeelgetalle, sowel as die ras- en geslagsamestelling daarvan.

“Toe ek in 1983 aangesluit het, was ons omtrent 13 personeellede. Ons het nou 38 permanente personeellede, en dan het ons natuurlik ook heelparty deeltydse personeellede. Ons studentegetalle het ook ongeveer drievoudig toegeneem. Ons het tans sowat 3 000 studente in die Departement. En die diversiteit van ons personeel en ons studente wat taal, ras en geslag betref het uiteraard ook dramaties verander. Toe ek by die Departement begin het, was die akademiese personeel basies almal Afrikaanstalig, wit en het ons net een vroulike akademiese personeellid gehad. Dit het verander: ongeveer een derde van die huidige personeel se huistaal is nie Afrikaans nie. Wat ras betref, is dieselfde waar met ongeveer een derde van die personeel wat swart, bruin, Indiër en Asiër is. En waar ons een vroulike akademiese personeellid gehad het, het ons nou 13.

“Die klem op navorsing het oor die jare om verskillende redes toegeneem. In die beginjare was daar nie so 'n sterk navorsingsfokus nie omdat die Departement en die Fakulteit nie die nodige fondse gehad het nie. En omdat die ratio tussen ons studente en personeel so ongelooflik hoog was, is al ons hulpbronne aan onderrig bestee en was daar baie min tyd oor vir navorsing. Dit het oor die jare verander en ons blink nou werklik uit met ons navorsingsaktiwiteite. Die meeste van die navorsing in die Departement is beleidsgerig en dis waarop ons sosiale impak fokus."

So wat hou aftrede in vir die Johannesburggebore en Affies- (Afrikaanse Hoër Seunskool) getoë Schoombee?

“Aftrede is 'n fokusverskuiwing. Ek sal nou meer tyd bestee aan daardie dinge wat in hierdie stadium van my lewe belangrik is, soos my vrou Ronél, seun Sterrenberg, dogter Danél en hul lewensmaats, Gideon en Rick onderskeidelik. Hulle ondersteuning het oor die jare ontsettend baie vir my beteken."

Hy sal steeds in Stellenbosch aanbly, naby die mense en die Universiteit wat so lank deel van sy lewe was.

“Ek het dit geniet om voorsitter van die Departement te wees en die personeel te bestuur. Om jong personeellede te sien groei en geleenthede vir hulle te skep, was wonderlik en bevredigend. Ek sal dit beslis mis."

Hy het die volgende woorde van dankbaarheid en raad vir diegene wat hy agterlaat.

“Ek wil graag die Universiteit, die Fakulteit en die Departement bedank vir die stimulerende en ondersteunende omgewing waarin ek bevoorreg was om te werk. Dit was 'n ongelooflike reis en 'n voorreg om deel daarvan te kon wees. Aan die personeel wil ek sê: Hou aan om daardie kernwaardes te koester wat so belangrik is vir die Departement. Dit is die moeite werd en dit skep 'n gelukkige en produktiewe werksomgewing."

  • ​Foto 1: Prof Andrie Schoombee. Foto 2: Prof Servaas van der Berg van die Departement Ekonomie aan die woord gedurende die afskeidsfunksie vir prof ​​​Schoombee.