Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US stel COVID-19-opwipinentingsentrums bekend
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 10/11/2021

Die eerste van meer as tien COVID-19-opwipinentingsentrums is Maandag (8 November 2021) op die hoofkampus van die Universiteit Stellenbosch (US) bekendgestel. Dit stel studente en personeel wat nog nie ingeënt is nie, in staat om dit gou nog voor die einde van die akademiese jaar te laat doen.

Die eerste opwip-inentingsentrum is by die Schumann-gebou opgestel. Joshua Eva, 'n voormalige ondervoorsitter van die Primkomitee, was een van die eerste besoekers aan dié sentrum om sy inenting te ontvang.

“Ek was in die gebou vir klas en het toe gou hier ingeloer. Ek het nog nie vir die inspuiting gegaan nie omdat ek lang toue vermy. Hierdie opwip-sentrum is baie gerieflik," het Eva gesê.

Eva, 'n nagraadse student in Finansiële Ontleding, ondersteun inentings en glo dit is die verantwoordelike ding om te doen. Hy dat hoewel hy jonk en gesond is, het hy sy inenting gekry omdat hy Suid-Afrika veiliger vir almal wil maak. “Ek het die inenting ontvang want ek wil my bydrae tot ons land maak."
Hy sê hy is ook deur sy ouers, wat albei onderliggende siektetoestande het, gemotiveer om ingeënt te word.

Dr Melissa Janse van Vuuren, koördineerder van die opwipsentrums, het personeel en studente aangemoedig om van die sentrums gebruik te maak. Beide die Johnson & Johnson (J&J) en die Pfizer-entstowwe is by die sentrums beskikbaar en mense kan self kies watter entstof hulle ontvang.

Die Johnson & Johnson-inenting behels net een inspuiting, terwyl die Phizer uit twee inspuitings bestaan wat 42 dae uitmekaar toegedien word.

Die maklik-toeganklike sentrums sal tussen drie geboue op die kampus roteer. Die sentrums sal tot einde November op die volgende dae van 09:30 tot 14:00 oop wees:

  • Maandae (8, 15, 22 en 29 November): Schumann-gebou, tweede verdieping (Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe)
  • Dinsdae (9, 16, 23 en 30 November): Algemene Ingenieurswesegebou, eerste verdieping  
  • Woensdae (10 en 17 November en Donderdag, 25 November): voorportaal van die Adam Small-teaterkompleks

Let asb daarop dat jy op die EDVS-stelsel moet registreer om die inenting te kan ontvang. Studente en personeel moet ook onthou om hul ID, studente- of personeelkaart en, indien van toepassing, hul siekefondskaart saam te bring.

​Elkeen reageer anders op die COVID-19-inenting. Daarom word studente aangeraai om eerder na afloop van 'n eksamen as vóór 'n eksamen 'n opwipinentingsentrum te besoek, ingeval hulle enige newe-effekte sou ervaar.