Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Le Roux Burrows van Ekonomie groet ná 37 jaar
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 08/11/2021

Vanaf 2022 sal mnr Le Roux Burrows nie meer die daaglikse rit van sy huis in Kleinmond na die Universiteit Stellenbosch onderneem nie. In plaas daarvan sal dié ekonomiedosent nou ander, minder bekende paaie aandurf, letterlik en figuurlik.

Die Departement Ekonomie het verlede week (6 November 2021) afskeid geneem van Burrows, een van sy langsdienende dosente, tydens 'n personeelfunksie by die Lanzerac Hotel in Stellenbosch.

Burrows sal ná 37 jaar van lojale diens aftree wanneer hy die laaste keer huis toe ry aan die einde van Desember.

Dit het alles in Roodepoort, Gauteng begin, waar hy gebore is en grootgeword het. Die jong Burrows het sy vormingsjare by die Laerskool Jozua Naudé en die Hoërskool Roodepoort deurgebring. Daarna, soos die gebruik toe was, het hy sy verpligte militêre opleiding voltooi voordat hy aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) en later die Universiteit van die Vrystaat verder gaan studeer het. Sy hoofvakke was Ekonomie en Wiskundige Statistiek.

​“Ek het aan die einde van my eerste jaar by RAU na die Universiteit van die Vrystaat oorgeskakel, hoofsaaklik weens finansiële redes. My pa is na Bloemfontein verplaas en die hele gesin het verhuis. Omdat ek dit nie kon bekostig om by die koshuis in RAU aan te bly nie, moes ek saamgaan."

Dit was ook aan die Universiteit van die Vrystaat waar hy sy loopbaan as akademikus begin het toe hy die pos van dosent in die Departement Ekonomie aangebied is, 'n pos wat hy van Julie 1980 tot Desember 1982 beklee het. 'n Twee jaar lange skof as ekonomiese navorser by Sanlam se hoofkantoor in Bellville het gevolg voordat “ek besef het dat die private sektor nie vir my is nie en gelukkig het die pos by die Universiteit Stellenbosch beskikbaar geword".

Hy is in Januarie 1985 formeel as dosent in die Departement Ekonomie aangestel. Gedurende sy tyd in die Departement het Burrows ook by 'n aantal dienslewerings- en gemeenskapsinteraksieprojekte betrokke geraak. Hy was onder andere 14 jaar lank lid van die Institusionele Forum (waarvan hy minstens 11 jaar as voorsitter gedien het), ses jaar lid van die Universiteitsraad, en byna 20 jaar lank 'n lid van die trusteeraad van die US-aftreefonds. Hy is ook die huidige waarnemende uitvoerende sekretaris van die Ekonomiese Vereniging van Suid-Afrika.

En net so, ná al die jare waar hy studentegetalle by die Departement sien verdubbel het en die Universiteit se taalbeleid van Afrikaans na een van veeltaligheid verander het, is sy reis op Stellenbosch verby.

“Wat ek die meeste gaan mis, is die kollegiale ingesteldheid van die personeel in die Departement Ekonomie. Dit was die belangrikste eienskap van die personeel toe ek daar begin het en dit is vandag nog so," sê hy.

Dit is seker te verstane dat dié selferkende “go to" persoon wat verantwoordelikheid aanvaar het vir nie-akademiese aspekte in die Departement soos rekenaarvereistes en administrasiepligte, soos volg sou reageer toe hy gevra word oor hoe hy sy aftrede gaan deurbring.

​“Ek sal nou meer tyd hê om na my vrou, Ria, om te sien. Sy is op die herstelpad na ernstige mediese probleme. Haar ondersteuning het 'n groot rol in my lewe gespeel. Ons is nie net man en vrou nie, maar ook beste vriende," sê hy.

En wat van jou? Wat gaan jy doen?

“Ek sal nou ook meer tyd hê om by die breër gemeenskap en die kerk betrokke te raak.

Maar wat van jou …?

Hy gee in: “Ek sal doen-dit-self-take in en om die huis pak. My Ekonomie-kollegas skerts juis dat ek verslaaf is aan die reuk van nat sement! En dalk 'n bietjie reis – 'n slag al daardie agterpaaie deurkruis waarvoor ek nog nooit regtig genoeg tyd gehad het nie."

Hy het natuurlik, soos almal van ons, spyt oor sekere dinge.

“Ek is teleurgesteld dat ek nooit my PhD voltooi het nie. Dit is lekker om dienslewering en gemeenskapsinteraksie op jou CV te hê, maar dit tel nie regtig wanneer jy vir bevordering oorweeg word nie. Soos enige ekonoom sal weet, is daar nie iets soos 'n gratis ete nie en die konsep van geleentheidskoste is van toepassing as ek terugkyk."

Maar dis sy nalatenskap wat vir hom saak maak.

“Ek hoop my kollegas sal my onthou as die een wat nooit nee gesê het vir enigiets nie; akademies of andersins. En ek hoop dat studente my sal onthou as die dosent wat te alle tye beskikbaar was. Ek sal gelukkig wees daarmee," sê hy.

  • ​Foto (verskaf): Ria en Le Roux Burrows by sy afskeidsfunksie Saterdagaand by die Lanzerac Hotel. Voor haar aftrede was Ria 'n dosent in die Departement Ondernemingsbestuur.