Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verwelkom tweede Dell-jongleiersklas
Outeur: Michael & Susan Dell Foundation
Gepubliseer: 05/11/2021

​Dit is met groot opgewondenheid dat die Universiteit Stellenbosch (US) die volgende 150 eerstejaarstudente kan aankondig wat vir die Dell Young Leaders-jongleiersprogram gekies is. Hierdie studente sluit aan by 'n gemeenskap van 100 studente wat vir die inleidende klas van 2020 gekies is.

Die program het ten doel om 1 000 Maties teen 2024 te ondersteun. Dell-jongleierstudente is gedrewe en toegewyd, afkomstig uit lae-inkomstegemeenskappe en breek deur grense terwyl hulle vir professionele grade en kwalifikasies wat hoog in aanvraag is, studeer. Die meerderheid van die studente in die program – wat deur die Michael & Susan Dell-stigting geborg word – is die eerste generasie in hul families om universiteit toe te gaan.

Die program het ten doel om studente in staat te stel om suksesvol af te studeer en 'n betekenisvolle loopbaan te begin. Dit bied persoonlike advies en geteikende ondersteuning en hulpbronne, asook bykomende beurse om enige gapings in elke student se volle universiteitsgelde te vul.

Al 100 studente wat in 2020 vir die program gekies is, het veerkragtigheid getoon en op koers gebly met hul studie, met die eerste Dell-jongleiers wat na verwagting in 2022 sal gradueer. Gegradueerdes van die Dell-jongleiersprogram by ander vennootuniversiteite in Suid-Afrika het die weg gebaan na sukses, met 98% van die meer as 530 gegradueerdes wat tot op hede binne drie maande nadat hulle afgestudeer het, reeds begin werk het of verder gaan studeer het om hul loopbaangeleenthede te bevorder. As Dell-jongleier-alumni verdien hulle ook (gemiddeld) 49% meer as die nasionale beginsalaris-mediaan vir pasgegradueerdes afkomstig van die voorste professionele graadprogramme.

“Ons word voortdurend geïnspireer deur die veerkragtigheid wat die studente in ons program toon, ondanks die uitdagings van die laaste twee jaar. Met die werkloosheidsyfer vir jong gegradueerdes wat in 2021 tot 40% gestyg het, is dit nou belangriker as ooit om hierdie jongmense met hul hoë potensiaal te ondersteun sodat hulle die geleentheid kan hê om hul eie lewens en dié van hul gesinne te kan transformeer," sê Helen Vaughan, programbestuurder van Universiteitsukses in Suid-Afrika by die Michael & Susan Dell-stigting. “Ons is opgewonde oor die uitbreiding van die program se omvang in vennootskap met die Universiteit Stellenbosch."

Ten einde te verseker dat meer studente floreer, het die US homself daartoe verbind om meer van sy eie beursgeld toe te ken sodat meer studente by die program sal baat vind, ten einde studentesukses te verdubbel.

Die Dell-jongleiersprogram, wat binne die Registrateursafdeling gesetel is, se doel is om te help om 'n ekostelsel van ondersteuning te vestig en tot verskeie van die US se deurlopende inisiatiewe by te dra om studentesukses aan te moedig. “Die administratiewe ondersteuning van die studentelewensiklus was nog altyd een van die Registrateurspan se hooffunksies. Die Dell-jongleiersprogram bied aan ons 'n geleentheid om regoor die Universiteit saam te werk om ons geïntegreerde studente-ondersteuningaanbod uit te brei – met die potensiaal om hierdie aanbod uit te brei sodat meer studente by die US daarby kan baat," sê die Registrateur van die US, dr Ronel Retief. 

“Ons is dankbaar vir die volgehoue ondersteuning van die Michael & Susan Dell-stigting sodat ons ons tweede Dell-jongleiersklas kan verwelkom, ondanks die baie uitdagende 18 maande sedert die pandemie uitgebreek het. Ons sien uit daarna om die volle potensiaal van hierdie vennootskap te ontsluit tot voordeel en ondersteuning van ons belangrikste belanghebbers – ons studente."

Die tweede Dell-jongleiersklas is op 30 Oktober 2021 bekendgestel. Om meer oor die program te wete te kom, besoek dellyoungleaders.org.