Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ondernemings-bestuurstudente wen finansiële ontledingsuitdaging
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 05/11/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs vir die eerste keer die Suid-Afrikaanse been van die Instituut vir Geoktrooieerde Finansiële Ontleders (CFA) se navorsingsuitdaging gewen.

Die navorsinguitdaging van dié Instituut is 'n jaarlikse internasionale kompetisie wat universiteitstudente praktiese mentorskap en intensiewe opleiding in finansiële analise en professionele etiek bied. Studente se analitiese, waardasie-, verslagskryf- en aanbiedingsvaardighede word getoets. Hulle doen praktiesgeoriënteerde ondervinding op aangesien hulle die rol van 'n navorsingsanalis aanneem.

Calum Harding, Hendro van der Merwe en Simona Coetzee, honneursstudente in Finansiële Analise, asook Jessica Steyn en Roseline Kolony, derdejaarstudente in BCom (Beleggingsbestuur) het 11 spanne van universiteite regoor Suid-Afrika uitgestof.

Die spanne moes 'n sell-side-navorsingsverslag saamstel en hul bevindings aan die beoordelaars voorlê vir evaluering. Hierdie soort navorsing is die fundamentele ontleding van 'n maatskappy en word gewoonlik deur aandelemakelaars gedoen (die verkoopkant van die beleggingsbedryf). Dit word dan aan hul kliënte, wat gewoonlik fondsbestuurders is, voorgelê (die koopkant van die bedryf). Die kwaliteit van die navorsing hang van die meriete van die menings, diepte van analise en persepsies van die span af. 'n Paneel beoordelaars het daarna punte vir die gehalte van verskillende kategorieë toegeken. Daar was ook 'n vraag- en antwoordsessie waar die Stellenbosse span met hul insig en kennis beïndruk het.

Die vier beste spanne – US, die Universiteit van die Vrystaat, die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Johannesburg – is gekies en moes hul verslae op 27 Oktober in die eindstryd aan die beoordelaars voorlê. Stellenbosch is as die wenner aangewys.

Die Stellenbosse span het onder leiding van Johan Steyn, senior lektor: Beleggingsbestuur in die Departement Ondernemingbestuur, deelgeneem.

“Dit is die vierde jaar dat ons die aanbiedingsronde van die kompetisie haal, maar die eerste keer dat ons gewen het," sê Steyn. “Ek is baie trots op die enorme poging wat die span ingesit het, dikwels onder moeilike omstandighede. Spanlede moes die eise van hul normale akademiese programme op so 'n manier organiseer dat hulle die ure kon insit om die verslag te voltooi."

Hy sê die navorsingsuitdaging was 'n geleentheid vir die studente om hul vermoëns ten toon te stel en 'n naam vir hulself te maak.

“Om te wen, is 'n groot eer vir ons. Ons het nie verwag dat ons so goed sou vaar teen ander topklasuniversiteite nie. Vir die studente beteken dit baie, en is dit beslis iets wat elkeen op sy/haar CV kan sit. Daar was reeds belangstelling van beleggingsfirmas wat hulle werksgeleenthede wil bied."

Calum Harding het namens die span gesê: “Om die kans gegun te word om ons teorie prakties toe te pas en by ons bedryfsmentor en toesighouer te leer, was die beste deel van die uitdaging. Die gesprekke met ons mentor het ons gehelp om te besluit hoe die maatskappy gewaardeer moet word en ons laat dink oor hoe om breër en maatskappyspesifieke kwessies in ons ontledings in te sluit. Dit was 'n wonderlike leerkurwe. Die voorbereiding vir die aanbieding het ons geleer om regtig op ons voete te dink."

In die volgende been van die kompetisie in Maart 2022 sal die Stellenbosse span weer hul navorsingsverslag moet aanbied. Hierdie keer sal daar 'n nuwe paneel beoordelaars wees wat beide die navorsingsverslag en hul aanbieding sal evalueer. Daar sal ook nog 'n vraag- en antwoordsessie wees.

As hulle dit in die volgende rondte maak, sal hulle die geleentheid kry om in die halfeindrondte mee te ding. As hulle daar suksesvol is, is die volgende stap die wêreldwye eindstryd in New York in Mei 2022.

  • Foto verskaf. Van links na regs is Roseline Kolony; Hendro van der Merwe; Simona Coetzee (op die rekenaarskerm); Calum Harding; en Jessica Steyn.​