Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Terugvoer van die IKBV
Outeur: Prof Stan du Plessis: Chair: ICBC/ Voorsitter: IKBV
Gepubliseer: 05/11/2021

​Beste kollegas en studente

Namate die jaar vinnig einde se kant toe staan, kyk ons na die metode van onderrig, leer en assessering wat vir aanstaande jaar beplan word, asook die verbandhoudende kwessie van 'n moontlike inentingsreël by die Universiteit Stellenbosch (US).

Hierdie was van die sake wat Woensdag, 3 November 2021 by 'n vergadering van ons Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) bespreek is, so gun my die geleentheid om julle op hoogte te bring.

COVID-19

Prof Juliet Pulliam van SACEMA (die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Epidemiologiese Modellering en Analise) het in haar gebruiklike inligtingsessie bevestig dat die voorkoms van koronavirus-infeksies steeds aan die afneem is in die land. Die derde vlaag is dus finaal verby.

'n Vierde vlaag bly egter steeds 'n moontlikheid, daarom moet ons by die voorsorgmaatreëls hou waaraan ons nou al gewoond geraak het – dra 'n masker in die openbaar, handhaaf 'n veilige afstand van andere, ontsmet jou hande gereeld en vermy plekke waar daar 'n samedromming van mense en swak ventilasie is – ongeag of jy ingeënt is of nie. En onthou asb om Higher Health se daaglikse risikobepalingsinstrument, HealthCheck, te gebruik voordat jy kampus toe kom. 

Prof Pulliam het ook aanbeveel dat “monitering vir nuwe variante en groter toegang tot inenting prioriteite moet bly".

INENTINGS

Ek kan bevestig dat navorsers en gesondheidswerkers van die US hulle uitstekend van hul taak kwyt in die stryd teen die koronavirussiekte. Dit is ook 'n institusionele prioriteit vir die Universiteite dat al ons personeel en studente ten volle teen COVID-19 ingeënt word.

Entstowwe is veilig, doeltreffend en 'n gepaste openbare gesondheidsreaksie op die koronaviruspandemie – die wetenskap maak dit baie duidelik. Klik hier vir antwoorde op gereelde vrae oor COVID-19-entstowwe en inentings.

Byna 9 000 inentings is al by ons Lentelus-sentrum op Stellenbosch toegedien sedert dit drie maande gelede geopen het. Ons sal ook binnekort mobiele inentingsgeriewe bekendstel vir nog groter gerief. Al wat jy hoef saam te neem, is jou ID!

Voorts is ons besig met 'n risikobepaling as 'n stap in die rigting van die oorweging van 'n moontlike beleid/reël oor COVID-19-inentings vir studente en personeel – soos deur die US Raad gemagtig. Die risikobepalingsfase nader voltooiing, waarna 'n moontlike beleid/reël oorweeg sal word.

PLANNE VIR 2022

Indien COVID-19 dit toelaat, wil ons graag almal terughê op kampus wanneer die nuwe akademiese jaar aanbreek. Stellenbosch is 'n residensiële universiteit met uitstekende geriewe en infrastruktuur wat ontwerp is vir studente op kampus om aan hulle 'n verrykende ervaring binne en buite die lesinglokaal te bied.

Die IKBV het bevestig dat die US voornemens is om aanstaande jaar terug te keer na onderrig, leer en assessering wat van aangesig tot aangesig plaasvind. Die eerste kwartaal van 2022 begin op 14 Februarie, wat later as gewoonlik is omdat die matriekuitslae na verwagting eers teen 21 Januarie op die vroegste bekendgemaak sal word. Klik hier vir die US se kwartaal- en eksamendatums vir 2022.

Hoe meer mense op ons kampusse ten volle ingeënt is, hoe groter is die kans dat ons aanstaande jaar na die volledige kampuservaring sal kan terugkeer. Klik hier vir die US se inentingsverklaring, en hier vir meer oor ons inentingsveldtog.

STUDENTESAKE

Assesserings

Ons het die einde van die vierde kwartaal bereik en die komende A2- en A3-assesserings sal vanaf 8 November tot 11 Desember 2021 soos beplan voortgaan. Dit sal hoofsaaklik in persoon op kampus onder toesig afgelê word.

Die US se COVID-19 eksamenprotokol is bygewerk – raadpleeg dit asb en kom dit na. Jy sal nie in 'n lokaal toegelaat word tensy jy 'n masker dra nie, en sal gevra word om die lokaal te verlaat indien jy dit gedurende die eksamen verwyder.

Jy sal jou groen klaring wat jy op jou selfoon van HealthCheck (https://healthcheck.higherhealth.ac.za) ontvang het, moet toon. Oneerlikheid hiermee kan tot dissiplinêre stappe lei. Jy kan ook weggewys word by assesseringslokale indien jy ernstige COVID-verwante simptome toon.

Enige besorgdheid of oortredings wat met COVID-19 verband hou, kan by die hoof van die Eksamenkantoor, mev Ruby Frans, aanhangig word by ruby@sun.ac.za.

Let asb daarop dat 'n nuwe eksamenantwoordboek in die komende assesseringstydperk gebruik sal word. Alle studente moet hulle vergewis van die instruksies oor hoe om die antwoordboek in te vul. Klik hier vir 'n kort video.

Net soos vroeër vanjaar, sal besluite oor toegang tot 'n bykomende assesseringsgeleentheid (A3) drie dae (insluitende naweke) voor die assesseringsgeleentheid bekendgemaak word. Die dag van die bekendmaking/kennisgewing en die datum van die A3-assessering is nie by die kennistydperk van drie dae ingesluit nie.

Vir die jongste inligting, raadpleeg asb dikwels die US se COVID-19-webblad.

Aandklokreël

Studente word daaraan herinner dat 'n aandklokreël van middernag tot 4-uur soggens onder die huidige aangepaste risikovlak 1 van die nasionale ramptoestand geld. Wanneer jy saans uitgaan, maak seker dat jy betyds terug is by jou woonplek voordat die aandklokreël in werking tree. Kampussekuriteit kan voetgangers nie tydens die aanklokreëltydperk vergesel nie.

Beurtkrag

​Die feit dat assesserings hoofsaaklik op kampus sal plaasvind waar talle lokale kragopwekkers het, sal help om onderbrekings weens beurtkrag te voorkom. Hieronder is 'n paar prakties voorstelle om die ontrigtende impak van kragonderbrekings op jou eksamenvoorbereiding te beperk, bv.:

  • Jy kan sekere funksies van die SUNLearn-toepassing sonder internettoegang gebruik, en jy kan ook materiaal aflaai wanneer daar wel krag en internettoegang is. Meer wenke vir aanlyn leer is hier beskikbaar.
  • Weet wat jou buurt se beurtkragskedule is. Laai 'n betroubare toepassing af en raadpleeg dit gereeld vir bywerkings.
  • Sorg dat jou skootrekenaar, foon, batterypak en ander toestelle altyd vol gelaai is.
  • Gebruik jou foon as 'n WiFi-sender gedurende beurtkrag, maar toets dit voor die tyd.
  • Sommige assesserings sal aanlyn plaasvind, so beplan vir moontlike beurtkrag deur plekke in 'n ander sone naby jou te identifiseer waar jy toegang tot krag en die internet kan kry.

PERSONEELSAKE

Terug kampus toe

Die IKBV het ons vorige besluit bevestig om personeel op 'n gefasseerde wyse na ons kampusse terug te bring namate ons voorberei vir die herinstelling van onderrig, leer, assessering van aangesig tot aangesig op kampus aanstaande jaar. Dit word só gedoen dat risiko's steeds bestuur en COVID-19 regulasies en protokols steeds nagekom word. Wees op die uitkyk vir meer gedetailleerde inligting van Menslike Hulpbronne af hieroor.

Verlof

Kollegas, julle word aangemoedig om verlof te neem. Die afgelope twee jaar was uitmergelend en jul harde werk om die Universiteit op koers te hou, word baie waardeer. Dit is egter ook belangrik dat jy nie jou gesondheid en welwees afskeep nie.

Boonop kan jy van jou verlofbalans verloor as jy nie die dae neem wat jou toekom nie. Verlof wat per spesiale vergunning van 2019 af oorgedra is, het aan die einde van Julie 2021 verval (sien die reëlings wat in April in werking getree het). Die volgende sperdatum is 31 Januarie 2022, wanneer verlof wat van die 2020-siklus oorgedra is, sal verval.

Doen dus sonder verwyl aansoek om verlof – in oorleg met jou lynbestuurder. Teken asb alle verlof, insluitende siekverlof, akkuraat op SUN-e-HR aan.

TEN SLOTTE

Baie dankie aan almal vir jul bydrae in hierdie uitdagende tyd. En voorspoed met die komende eksamens!

Ons sien uit na gradeplegtigheidsweek aan die einde van die jaar. Ongelukkig het ons nie toestemming om volskaalse fisiese seremonies te hou nie, weens die beperkings op die grootte van toelaatbare byeenkomste. Voorgraadse, honneurs- en meestersgraadstudente se gradeplegtighede sal dus weer aanlyn plaasvind, maar ons werk daaraan om meer persoonlike en feesvierende elemente by die seremonies in te sluit. Klein fisiese seremonies vir die toekenning van doktors- en eredoktorsgrade, asook die Kanselliersmedalje en -toekennings sal soos beplan van 13 tot 16 Desember 2021 plaasvind.

Sterkte vir die laaste deel van die jaar. Wees asb veilig en kyk mooi na jouself en jou geliefdes.

Prof Stan du Plessis
Voorsitter: IKBV