Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oop data noodsaaklik en soms selfs lewensreddend, sê Biblioteeksimposium
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 02/11/2021

Die pandemie en inperking het bewys dat oop data en die uitruil van inligting, veral deur regerings, lewens red en innovasie, navorsing, oop wetenskap, samewerking en gemeenskapsbetrokkenheid aanmoedig.

So het prof Kanshukan Rajaratnam, direkteur van die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke aan die Universiteit Stellenbosch (US), in sy hoofrede by die opening van die onlangse 16de US Bibioteeksimposium op Stellenbosch gesê.library symposium  (2).png

Die tema van die simposium, wat in 'n hibridiese vorm aangebied is, was “Van held tot superheld: Aanpasbare, innoverende, responsiewe biblioteke". Verskeie internasionale kenners op die gebied van biblioteek- en inligtingswetenskap, datawetenskap, masjienleer, kunsmatige intelligensie, robotika en navorsing was sprekers by die geleentheid. Hulle het gesels oor hul ervarings van hoe akademiese biblioteke op die COVID-19-inperking gereageer en biblioteekdienslewering voortgesit het om hulle instellings die akademiese jaar 2020 suksesvol te help voltooi.

Akademiese biblioteke wêreldwyd was voor die pandemie midde-in die Vierde Nywerheidsrevolusie, met universiteite wat hulle onderrig, leer en navorsing geleidelik na die kuberruim verskuif. Die inperking het hierdie prosesse bespoedig, en biblioteke het in rekordtyd gevorderde tegnologie in gebruik geneem om hulle dienste aanlyn te lewer, het Rajaratnam gesê.

Die pandemie en inperking het egter sowel 'n positiewe as 'n negatiewe impak gehad, het Rajaratnam bygevoeg. Aan die positiewe kant het dit meer geleenthede vir innovasie geskep, soos die implementering van gevorderde tegnologie vir aanlyn dienslewering en die voorsiening van oop data. Aan die negatiewe kant het die pandemie egter ook 'n aansienlike getal leunstoel-epidemioloë, -datawetenskaplikes en -bio-inligtingskundiges opgelewer. Sommige van hierdie “sleutelbordsoldate" misbruik data en inligting om hulle eie gedagtes en agendas te bevorder, wat teenstrydige en dikwels skadelike boodskappe tot gevolg het. Oop data kan die vals berigte wat uit fopnuus, swak data en swak wetenskap spruit, uitskakel, en ook groter deursigtigheid bevorder, het Rajaratnam gesê.

Ondanks die kernrol van goeie toeganklike data, veral in ongekende omstandighede soos pandemies en ander samelewingsbedreigings, bly sommige navorsers en regerings egter huiwerig om hulle data vryelik beskikbaar te stel. In sommige gevalle vrees hulle datamisbruik of moet hulle aan streng databeleide en -regulasies voldoen. Daarbenewens begryp heelwat mense ook nog nie die voordele van oop data nie.

Rajaratnam het moontlike oplossings aan die hand gedoen om meer oop data te bevorder, en onder meer gesê akademiese biblioteke en hoëronderwysinstellings is die beste geplaas en toegerus om oopdatabewaarders te word. Baie van hierdie instellings het immers reeds toegang tot die nodige infrastruktuur en stelsels om die data te bestuur, te stoor, te bewaar en te voorsien, het hy verduidelik.

Prof Robert Kiley, hoof van Oop Navorsing by die Wellcome-trust in die Verenigde Koninkryk, het dít beaam, en ook bevestig dat navorsers die afgelope aantal jaar reeds vir meer data-uitruiling vra. “Die voordele van data-uitruiling was baie duidelik gedurende die pandemie, toe data mense se lewens gered het," het hy gesê. Kiley het uitgewys dat data oor die COVID-19-uitbreking, -simptome en -voorkomingsmetodes nie net individue van die nodige inligting voorsien het nie, maar ook die ontwikkeling van entstowwe en terapieë bespoedig het. “Die kern van die saak is dít: Navorsingsbevindinge en -data is openbare goedere en behoort vir almal beskikbaar te wees om die wetenskap te bevorder," het Kiley gesê.bronwyn (4).JPG​​

Mev Ellen Tise, senior direkteur van die US se Biblioteek- en Inligtingsdiens, wat deelnemers by die simposium verwelkom het, sê biblioteke het met die verskuiwing van hulle dienslewering na die kuberruim sedert die aanvang van die pandemie van blote helde in superhelde verander. “Die simposium was 'n belangrike geleentheid vir biblioteke om te gesels oor hoe hulle verskillende tegnologieë gebruik het om die COVID-19-inperkings te oorleef, en om sommer ook bietjie na die toekoms van akademiese biblioteke te kyk," het sy gesê. “Dit was boonop 'n bevestiging van ons gebruikergerigte tegnologiegedrewe strategieë by die US Biblioteek. Terwyl ek so na die verskillende sprekers geluister het, het ek die gevoel gekry dat ons inderdaad op die regte pad is."

Die US Biblioteek sal die inligting uit die simposium gebruik om leemtes in biblioteekdienste en -aanbiedinge aan te vul, nuwe vennootskappe te smee, veral op die terrein van datawetenskap, en sy tegnologiese vermoëns te versterk. “Ons wil altyd graag een tree voor die res wees," sê Tise. “Ons sal ons ooptoegangsinisiatiewe versnel om te sorg dat data en navorsingsuitsette so toeganklik moontlik is. En ons sal nuwe moontlikhede ondersoek om intelligente stelsels soos robotika, masjienleer en kunsmatige intelligensie vir van ons werksaamhede te gebruik."

 

Foto's van Prof Kanshukan Rajaratnam​ and Mev Ellen Tise

Fotograwe: Bronwyn Bruton en Sandra Mulder​