Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Dzama skryf saam aan boek oor Zimbabwe se inheemse vee
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 27/10/2021

Prof Kennedy Dzama, 'n uitgelese professor in Dieretling en Genetika in die Departement Veekundige Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), het meegewerk aan 'n boek wat die kollig plaas op hoe belangrik inheemse veerasse soos beeste, pluimvee, boerboeke en varke in Zimbabwe is. Die publikasie lig ook die voordele uit wat inheemse rasse geniet in terme van gehardheid en produktiwiteit, in vergelyking met ingevoerde rasse.

Prof Dzama is een van drie skrywers wat meegewerk het aan Performance of indigenous animal genetic resources in Zimbabwe and their potential contribution to the livestock. Sy medeskrywers is die Zimbabwiese veekundiges en veeteeltspesialiste dr Patrick Tawonezvi en dr Themba Khombe.

Prof Tawonezvi doen reeds 40 jaar lank landbounavorsing en -ontwikkelingswerk in Zimbabwe, oor onder meer die evaluering van inheemse en uitheemse herkouers. Hy is betrokke by universiteitsonderrig, kommersiële landbou-inisiatiewe en doen konsultasiewerk. Dr Khombe is die medestigter van die Institute for Rural Technologies, en is tans 'n kommissaris in die staatsdienskommissie van Zimbabwe.

Die boek is geloods by 'n virtuele geleentheid wat georganiseer is deur die Centre for Coordination of Agricultural Research and Development for Southern Africa (CCARDESA), in samewerking met die US se Fakulteit AgriWetenskap.

Tydens die funksie het prof Dzama gesê die boek is gemik op studente, akademici, boere, NRO's, beleidmakers, ontwikkelingsvennote en landbou-voorligtingsbeamptes. Hy glo dit vul 'n belangrike gaping deur beskikbare kennis en navorsing oor inheemse veerasse uit Afrika in handboekvorm saam te voeg. Hy reken die uitdra van inheemse kennis gebaseer op wetenskaplike bewyse steun pogings om universiteitskurrikulums te dekoloniseer en te verseker dat kennis uit Afrika en die streek nie verlore gaan nie.

“Dit sal wonderlik wees as inligting oor ons Nguni-beeste, Tuli-beeste, Tswana-beeste, Kalahari-boerbokke en Damara-skape, byvoorbeeld, verder versprei en wyer benut word," het hy gesê.

Volgens prof Dzama is die boek die eerste in 'n reeks oor die genetiese vee-bronne van lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG). Saam met elke boek sal 'n akademiese handboek ook verskyn wat vir onderrigdoeleindes gebruik kan word deur studente en lektore.

Een van die teenwoordiges by die boekbekendstelling het die publikasie beskryf as “'n geskenk aan veekunde, die SAOC en Afrika as 'n geheel", terwyl 'n ander dit as “plafon-brekend" beskryf het.

Die CCARDESA se Uitvoerende Direkteur, dr Cliff Dlamini, het die skrywers bedank vir hul toewyding om landboukundige kennis gebaseer op navorsing te fasiliteer en te deel. Hy het die hoop uitgespreek dat belangstelling in die rol wat inheemse genetiese bronne kan speel in terme van voedselsekerheid en handelsgeleenthede in die streek sal verskerp, en ook sal lei tot soortgelyke oorkoepelende publikasies vir ander lande.

“Teen die agtergrond van die fenomeen van klimaatsverandering blyk inheemse rasse meer veerkragtig te wees omdat hulle so gehard is. Hulle moet nie toegelaat word om te verdwyn nie," het mnr Duncan Samikwa, 'n verteenwoordiger van die SADC se Direktoraat vir Voedsel, Landbou en Natuurlike Hulpbronne, tydens die aanlyn-seremonie opgemerk.

“Zimbabwe is geseën met 'n wye verskeidenheid diergenetika-bronne wat gebruik word of gebruik kan word as voedsel en in boerdery. Die vernaamste veespesies is beeste, boerbokke, skape, varke en pluimvee," het dr Khombe opgemerk. “Nasionale statistiek wys dat inheemse rasse 'n groter bydrae maak tot landbou- en voedselsekuriteit in Zimbabwe as uitheemse rasse.

“Inheemse rasse het egter baie minder aandag gekry in kommersiële vee-produksie teenoor ingevoerde rasse. Dis ten spyte daarvan dat hulle beter aangepas is en in die algemeen meer produktief is as uitheemse rasse in die meeste produksie-stelsels in die land."

Dr Khombe sê dit geld veral vir vleisrasse.

Die boek verskaf inligting en relevante navorsing oor verskillende rasse en aspekte van hul prestasie in vergelyking met ingevoerde rasse.

“Die groeivoordele van uitheemse rasse is nie genoeg om hul swakker fertiliteit, oorlewing en hoër onderhoudskoste te verreken nie, want hul groeikoers en grootte dra relatief min by tot algehele produktiwiteit," het dr Tawonezvi gesê tydens 'n aanbieding oor die boek se inhoud.

Hy reken inheemse rasse moet die basis vorm van vee-ontwikkeling in Zimbabwe.

Die skrywers hoop die boek sal help om by te dra tot die ontwikkeling van 'n omvattende nasionale telingsbeleid en -strategie, asook institusionele reëlings wat die basis kan vorm vir die ontwikkeling en geskikte gebruik van Zimbabwe se veegenetika-bronne. Hulle hoop ook dat inheemse rasse, weens die voordele wat hulle inhou, eerder bevorder sal word.

Die boek belig ook die rol wat telingsprogramme en kruistelingsprojekte kan speel in die verbetering van rasse.

“Tot dusver het baie min verbetering plaasgevind by inheemse rasse, afgesien van Mashonaland-beeste," het dr Tawonezvi genoem.