Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW-alumni deel hulle navorsingsreistogte tot by die Universiteit van Oxford
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Anina Visser
Gepubliseer: 26/10/2021

Vyf alumni van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het onlangs die verhale gedeel van die onderskeie reistogte wat hulle tot by die Universiteit van Oxford gelei het. Dit was tydens ʼn virtuele geleentheid, genoem die 'Roads to Research: The Road to Oxford', wat aangebied is deur die Tygerberg Voorgraadse Navorsingsvereniging (TURS – Tygerberg Undergraduate Society) om die verskeie roetes ten toon te stel wat studente kan neem om ʼn loopbaan in navorsing na te volg – beide plaaslik en oorsee.

Die MBChB-studente Sanguen Lee en Motheo Mmotong van TURS (anders genoem die Q-vereniging) en Dr Debbie Marais, hoof van die Voorgraadse Navorsingskantoor by die FGGW se Navorsing Ontwikkeling- en Ondersteuningsafdeling, het die geleentheid gefasiliteer. “Ons hoop om meer studente aan te spoor om navorsing te doen," het Marais gesê. “Een van die belangrikste maniere om dit te doen is deur middel van portuur-ervarings en om van diegene te leer wat dit alreeds gedoen het."

Teen die agtergrond van mentorskap, het die alumni se ervaring en die voorgraadse studente se ywerigheid gesorg vir geesdriftige gesprekke. Die sprekers, drs Helene-Mari van der Westhuizen, Koot Kotze, Nabeela Kajee, Jonas Bovijn en Kirsten Rowe is almal alumni van die Universiteit Stellenbosch asook alma mater van die Universiteit van Oxford.

Loopbaantrajek in geneeskunde en navorsing

Die paneellede het elkeen hulle persoonlike stories oor hulle ervaring in navorsing en hulle nagraadse aktiwiteite gedeel.

Die paneellede was dit eens dat jy nie hoef te kies tussen ʼn loopbaan as ʼn klinikus en ʼn navorser nie. Volgens Bovijn is die loopbaan as ʼn klinikus of ʼn navorser nie tweeledig nie aangesien die twee nie mekaar teëwerk nie. “Ek dink daar is baie sinergie tussen die twee rolle," het hy verduidelik. “Byvoorbeeld, as ʼn klinikus het jy unieke insigte oor belangrike gesondheidsverwante probleme en die tipe probleme wat verdere wetenskaplike ondersoek benodig."

Kotze het hierdie sentiment geëggo en bygevoeg dat die balans waarskynlik sal verander soos wat ʼn mens se loopbaan vorder. “Jy kan die metafoor gebruik van die verskillende seisoene in jou lewe," het Kotze gesê. “Ek dink aan die begin van jou loopbaan sal jy waarskynlik meer kliniese werk doen aangesien daar ʼn groot verwagting is daarvoor. Soos wat ʼn mens vorder in jou loopbaan, neem jy ander rolle aan in navorsing, administrasie of bestuur."

Navorsing kan op ʼn voorgraadse of nagraadse vlak begin

Ofskoon navorsing oor die algemeen met nagraadse studies geassosieer word, kan studente hulle navorsingsaktiwiteite reeds op voorgraadse vlak begin. Kajee en Bovijn het byvoorbeeld hulle eerste gesamentlike studie gedoen terwyl hulle besig was met hulle MBChB-grade. Die studie het ondersoek gedoen na voorgraadse studente se betrokkenheid by navorsing, asook hulle houdings en persepsies daaroor. “Dit het my belangstelling in mediese onderrig geprikkel," het Kajee gesê. “My navorsingsreis is ʼn onversadigbare proses wat deur nuuskierigheid gedryf word."

Van der Westhuizen was ook ten gunste daarvan om navorsing reeds op voorgraadse vlak te begin, en het dit vergelyk met die proses om te leer hoe om bloed te trek. “Die eerste keer wat ʼn mens bloed trek neem dit baie lank om alles uit te werk... watter grote naald moet mens gebruik en waar om die bloedbuisies te sit... maar hoe meer ʼn mens dit doen, hoe makliker word dit, en dit is presies dieselfde met navorsing." Van die etiek-aansoek, tot die protokol skryf en uiteindelike publikasie, Van der Westhuizen het studente verseker dat navorsing minder gedug word hoe meer ʼn mens oefen.

Baie geleenthede beide plaaslik en oorsee

Gevra oor of ʼn mens plaaslik of oorsee moet studeer, het Rowe gesê dat multi-kontinentale, globale samewerkings moontlik is in vandag se gekonnekteerde wêreld. In haar tyd by Oxford, het Rowe navorsing gedoen oor die effek van MIV op die ontwikkelende brein en het sy haar data in Suid-Afrika ingesamel. Haar studieleiers was ʼn kombinasie van Suid-Afrikaanse, Italiaanse en Amerikaanse professors wat afsonderlik in die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika gebaseer was. “Dit is merkwaardig hoeveel internasionale navorsingspanne reg oor die wêreld gebaseer is," het Rowe gesê.

Ofskoon die Rhodesbeurs ʼn gewilde toegangspunt na Oxford is, het die paneellede waardevolle insigte gebied oor die groot hoeveelheid beursopsies vir studente om oorsee te studeer. Dit sluit in die Gates Cambridge-beurs; die Statebond-beurs; Chevening-beurs; Erasmus Mundus-beurs; Clarendon-beurs; en Oppenheimer Gedenktrust-beurs.

Om op hoogte te bly van die Roads to Research-reeks en toekomstige geleenthede, skakel in by die Q-vereniging se Instagram en Facebook bladsye.