“Ons moet chirurgie dekoloniseer en dit demistifiseer deur te erken dat dit slegs een onderafdeling in die bereiking van gesondheid en welwees is. 'n Heroorweging van globale chirurgie kan aan miljarde mense – hoofsaaklik in lae- en middelinkomstelande – regverdige en billike toegang bied tot chirurgiese sorg wat hul lewens kan red."
Só meen prof Kathryn Chu, Direkteur van die Sentrum vir Globale Chirurgie by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Sy het verlede week (21 Oktober 2021) haar intreerede gelewer oor die onderwerp Decolonising global surgery: A call to action.
Chu het in haar aanbieding gesê moderne chirurgie is baie Euro- en Westerssentries met die klem op die behoefte aan die heel nuutste in-pasiënt-tegnologie sonder 'n besef van hoe pasiënte, veral dié in lae- en middelinkomstelande, gesondheid en welwees verstaan.
- Selfoongebruikers klik hier vir video.
“Dit is uiters belangrik om ʼn beter begrip te hê van pasiënte se sienings van gesondheid en welwees, asook inheemse gesondheidstelsels en -beskouings ten einde hul aanvaarding van of vrese oor chirurgiese sorg kan verstaan. Die pasiënt word so dikwels buite rekening gelaat in globale chirurgie, wat ten doel het om hindernisse tot toegang tot chirurgiese sorg te verstaan.
“Daar bestaan 'n beslisde hiërargie in globale chirurgie: Eerstens weet die chirurg die beste, en dan miskien die narkotiseur en soms die verpleegkundiges. Maar die persone met die chirurgiese toestande en hul gemeenskappe word selde betrek by navorsing om sorg te verbeter.
“Indien ons globale chirurgie wil dekoloniseer, moet ons hierdie belangrike uitsluiting heroorweeg," het Chu bygevoeg. Sy het ook gesê die neokoloniale benadering tot chirurgie erken nie dat gesondheid multidimensioneel is nie.
“Dokters glo dikwels chirurgiese toestande benodig 'n biomediese wondermiddelkuur. Die pasiënte aanvaar nie altyd hierdie benadering nie. In baie wêrelddele is plaaslike gelowe oor die oorsake van siektes nie suiwer biomedies nie. Sommiges glo hulle het moontlik hul voorvaders kwaadgemaak of daar bestaan 'n wanbalans in 'n bepaalde verhouding wat herstel moet word."
Chu het 'n paar voorstelle aan die hand gedoen om chirurgie te dekoloniseer.
Sy het 'n oproep gedoen vir 'n verskuiwing in plaaslike en wêreldwye magsdinamika deur die bekamping van epistemiese ongeregtigheid.
“Ons kan dit plaaslik doen deur gemeenskappe en persone met chirurgiese toestande by wêreldwye voorspraak en navorsing in te sluit. Dit kan wêreldwyd gedoen word deur die veronderstelling te steun dat globale chirurge en klinikusse in lae- en middelinkomstelande binne hul eie omgewing kennis neem van hindernisse tot toegang en Suid-Noord-samewerking kan lei.
“Ons moet ook korttermyn-diensleweringpogings deur internasionale spanne met die medeskepping van volhoubare chirurgiese gesondheidstelsels deur plaaslike chirurgiese spanne en gemeenskappe vervang. Ons moet 'n voerpyp van jong, globale chirurgiese leiers in middel- en lae-inkomstelande bou, die chirurgiese werksmag diversifiseer en entoesiasme by studente skep oor wat chirurge kan doen."
Volgens Chu is nog 'n stap in die dekolonisering van chirurgie om chirurgie fisiek meer toegangklik vir meer gemeenskappe, veral mense in landelike gebiede, te maak.
Sy het ook die belangrikheid daarvan om strukturele geweld (byvoorbeeld ongelyke toegang tot hulpbronne, politieke mag, onderwys en gesondheidsorg) aan te spreek beklemtoon, aangesien dit 'n reusehindernis tot chirurgiese sorg is.
“Verskeie onderafdelings van strukturele geweld is onderling verbind en dit sal 'n baie groot stap in die dekolonisering van gesondheidsorg, insluitende chirurgiese sorg, wees indien hulle aangespreek kan word."
Chu het gesê meer moet gedoen word om chirurgiese sorg 'n werklikheid by ons distrikshospitale te maak.
- Foto: prof Kathryn Chu. Fotograaf: Damien Schumann