Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee Maties onder Afrika se beste regstudente
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 12/10/2021

​Twee regstudente van die Universiteit Stellenbosch (US) is onlangs as naaswenners aangewys in die Christof Heyns Afrika-menseregteskynhofwedstryd, en het sodoende hulle regsfakulteit 'n plek onder die voorste vier in Afrika besorg.

Megan Roos, 'n LLB-student wat tans die laaste semester van haar studie in Finland voltooi, en Shaniaé Maharaj, in haar voorlaaste jaar van BRekLLB-studie, is oorstelp met hulle prestasie. Hulle het nie net die eindronde gehaal, wat 'n prestasie op sigself is nie, maar hulle boonop as een van die beste twee Engelssprekende regstudentspanne in Afrika bewys.

Saamgestelde spanne met Engelssprekende en Frans- of Portugeessprekende pare het aan die eindronde deelgeneem. Die US-span deel hulle tweede plek met 'n Portugeessprekende span van die Universidade Eduardo Mondlane in Mosambiek. Die saamgestelde span van die regsfakulteite van Kenyatta-universiteit in Kenia en die Félix Houphouët-Boigny-universiteit in die Ivoorkus het as die wenners uit die stryd getree.

Die wenners en naaswenners was aanvanklik deel van 13 spanne (agt Engels, vier Frans en een Portugees) in die kwarteindronde van die jaarlikse wedstryd, wat deur die Universiteit van Pretoria se Sentrum vir Menseregte gereël word en vanjaar deur die US aangebied is. Alle deelnemers het 'n werklike hofscenario gesimuleer deur 'n hipotetiese menseregtesaak voor 'n bank regters en vooraanstaande regskenners te beredeneer, wat die studente se argumente aan streng ondersoek onderwerp word.

Om aan die wedstryd deel te neem was 'n bevredigende, verootmoedigende en senutergende ervaring, veral toe hulle tot die eindronde deurgedring het, sê Roos en Maharaj albei. “Dit was bevredigend omdat ons vir ons moeite beloon is, verootmoedigend weens die voorreg om deel te wees van die gerespekteerde wedstryd, en senutergend omdat ons voor 'n bank vooraanstaande regters teen uiters begaafde opponente moes meeding," verduidelik hulle. “Ons het in elke ronde geweldig baie uit die regters se vrae geleer, en van ons teenstanders was van die beste redenaars wat ek al ooit teëgekom het," voeg Maharaj by. “As ons nie in elke ronde erns gemaak het met die regters en ons afrigter se terugvoer nie, sou ons nie die eindronde gehaal het nie."

Volgens Roos was hulle reeds sedert Maart, toe die voorlopige rondes begin het, hard aan die voorberei. “Voorbereiding vir die skynhof het heelwat tyd en toewyding geverg, waartydens ons argumente en ons spanwerk versterk is," sê sy. Die taalhindernis was 'n groot uitdaging om te oorkom. Aangesien hulle saam met 'n Portugeessprekende span ingedeel is, moes hulle ten nouste saamwerk om hulle argumente vir die eindronde te formuleer. Hoewel tolke Addie Morgado, Roberta Fox en Leo Gouveia hulle gesprekke vertaal het, was misverstande en verwarring onafwendbaar. “Dit het by tye gevoel of ons nooit eenstemmigheid gaan bereik nie. Dit was beslis 'n ervaring wat ek nooit sal vergeet nie!" sê Roos.

Ook vir Maharaj was dit uitdagend om oor taalgrense heen te moes werk. Trouens, as gevolg dáárvan het hulle in die eindronde vyf uur lank met mekaar verskil voordat hulle uiteindelik tot 'n vergelyk kon kom. “Ek het nie gedurende die dag gedink ons sal ons voorbereiding betyds afhandel nie, maar gelukkig het ons," sê sy. “Dit het my geleer hoe belangrik dit is om te luister met die uitsluitlike doel om te luister, nie om te reageer nie. Nóg belangriker is dat dit my bewus gemaak het van verskillende sienings oor geslagsgebaseerde geweld, kinderhuwelike, genderidentiteit en seksuele oriëntasie, en dat daar meer as een manier is om mense te beskerm. Dit was geweldig waardevol en het my ontvanklik gemaak vir idees wat ek nooit voorheen oorweeg het nie," gaan Maharaj voort.

Prof Nicola Smit, dekaan van die US se Fakulteit Regsgeleerdheid, het die Matiespan kort ná die wedstryd gelukgewens: “Die Fakulteit is besonder trots op Roos en Maharaj se prestasie deur die hele wedstryd, en dat hulle tot die eindronde gevorder het. Albei studente het aansienlik baie tyd en harde werk aan hulle deelname gewy. Sulke werksetiek en intellektuele talent sal Roos en Maharaj goed te staan kom wanneer hulle binnekort met hulle professionele loopbane begin. Dat ons 'n US-span in die eindronde van die wedstryd kon hê in ons Fakulteit se eeufeesjaar en met Stellenbosch as gasheer kan tereg as 'n historiese prestasie beskou word."  

Die afrigter van die US-span, Claire Rankin, 'n nagraadse LLB-finalejaarstudent, is ook trots daarop dat die twee studente 'n besonder moeilike eindronde teen sterk teenstanders en voor 'n “bitter streng bank regters" oorleef het. “Hulle het merkwaardig presteer, en kan hulleself gerus op die skouer klop," sê Rankin.

Maharaj oorweeg dit om met 'n LLM-graad te begin wanneer sy haar huidige kursus voltooi het, en hoop om eendag 'n advokaat te word. Roos begin op haar beurt volgende jaar as leerlingprokureur by die Kaapstadse regsfirma ENS Africa werk, en is ook sterk op pad om haar drome van advokaat wees te verwesenlik.