Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe webtuiste skep veilige ruimte om oor kampusverkragtingskultuur te praat
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 11/10/2021

​Hoewel statistieke belangrik is om kwessies van kampusverkragtingskultuur te hanteer, is dit dikwels vroue se eie kragtige verhale en lewenservarings wat die treffendste insig bied in wat dit beteken om geslagsgebaseerde geweld te ervaar. Dít is die logika agter 'n innoverende nuwe aanlyn uitstalling en webtuiste wat die Eenheid vir Godsdiens- en Ontwikkelingsnavorsing (EGON) van die Universiteit Stellenbosch (US) op 30 September bekend gestel het.

Die projek “Vroue se ervarings van kampusverkragtingskultuur: Wat kan ons by een Suid-Afrikaanse universiteitskampus leer?" bestaan uit 'n versameling fotografiese en oudiobevindinge van 'n navorsingstudie oor wat US-vrouestudente as die dryfvere van kampusverkragtingskultuur verstaan en ervaar. Met behulp van PhotoVOICE 2.0 – 'n deelnemende navorsingsmetodologie – het vyf vrouestudente oudiovisuele data uit hulle eie lewens bymekaargemaak en ontleed. “Hulle het hulle slimfone gebruik om foto's in hulle daaglikse omstandighede te neem wat met die onderwerp van kampusverkragtingskultuur en die dryfvere daarvan verband hou," verduidelik dr Elisabet le Roux, EGON-navorsingsdirekteur. “Daarna het hulle die foto's oor WhatsApp aan die navorsingsleiers gestuur, vergesel van 'n kort stemnota."

Die studentenavorsers het hulle eie data deur die groepsproses genaamd Photoboarding ontleed om die kerndryfvere van kampusverkragtingskultuur te bepaal, waarna die projekleiers die materiaal 'n laaste keer ontleed het. Die uiteindelike foto's en stemnotas is gepubliseer op 'n webtuiste in die vorm van 'n aanlyn uitstalling, wat hopelik baie gesprekke oor kampusverkragtingskultuur aan die gang sal sit, sê dr Le Roux, wat die projek saam met EGON-kollega dr Selina Palm bestuur het. “Die uitstalling maak deel uit van die groter gesprek oor die wêreldwye kwessie van kampusverkragtingskultuur," sê Le Roux. “Dit is werklik nie net 'n Universiteit Stellenbosch- of 'n Suid-Afrikaanse kwessie nie."

Die navorsers wou aanvanklik 'n fisiese uitstalling, kampuswye indabas, studentevergaderings en interaktiewe geleenthede aanbied, maar COVID-19 het dít in die wiele gery, voeg Le Roux by. EGON het die projek dus noodgedwonge na die kuberruim verskuif en met die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid, Transformasiekantoor, Afdeling Studentesake sowel as die US se beweging teen geslagsgebaseerde geweld saamgewerk om die bekendstelling te beplan en aan te bied.

Dr Palm het die gehoor gedurende die bekendstellingsgeleentheid op 'n begeleide “kliktoer" van die webtuiste geneem. Sy het beklemtoon hoe belangrik dit is om vroue se werklike ervarings, en die realiteite van diegene wat aan geweld en viktimisasie blootgestel word, aan te teken, daarna te luister en daarop te reageer. “Die webtuiste nooi julle elkeen om 'n soortgelyke ervaring te hê. Luister na die stemnotas, kyk na die foto's, en reis saam met elke studentenavorser deur hulle verskillende ervarings en die algemene temas wat uit hulle verhale na vore kom," het sy gesê. “Hopelik moedig hierdie uiteenlopende brokkies van diep verhale julle aan om ook júlle stemme by ons uitstalling in te sluit sodat dit 'n deurlopende platform vir verandering kan word."

Die kerntemas wat uit die projek in die geheel na vore gekom het, is koshuise, sosiale norme, alkohol, manlike identiteite, vrees, en reaksies. Die aksieblad van die webtuiste bevat voorstelle oor hoe diegene wat die webtuiste besoek verandering kan help teweegbring. Die blad sluit hulpbronne in om meer uit te vind en bystand te bekom, sowel as 'n kommentaarafdeling vir terugvoer oor die uitstalling. Boonop is daar 'n spesiale blad waar besoekers hulle eie verhale kan vertel.

Die pas verkose voorsitter van die Studenteraad (SR), Viwe Kobokana, het die webtuiste verwelkom, en beloof dat die SR “die platform sal gebruik sodat die harde werk nie verniet sal wees nie". Sy het bygevoeg: “Ons het daadwerklike stappe nodig om kampusverkragtingskultuur die stryd aan te sê. Dít is waarom ek so opgewonde is oor hierdie webtuiste, want dit sit 'n realistiese gesprek oor kampusverkragtingskultuur aan die gang en dien as 'n platform vir studente om ook hulle eie stemme te laat opklink."

Prof Amanda Gouws, professor in Politieke Wetenskap en bekleër van die US se navorsingsleerstoel in genderpolitiek, het by die bekendstelling 'n oorsig gebied van die institusionele werk wat al gedurende haar tyd by die US gedoen is om kampusverkragtingskultuur te bestry, waaronder die skryf van die instelling se eerste beleid oor seksuele teistering. Sy het beskryf hoe studente haar in die vroeë 1990's sou nader om probleme te bespreek “waarvoor hulle nie 'n naam gehad het nie", want “die meeste studente het destyds gedink seksuele aanranding en verkragting is die enigste tipes seksuele teistering".

Reaktiewe beleide en prosedures oor seksuele teistering is nie genoeg om verkragtingskultuur te hanteer nie, het Gouws gesê. “Ons het 'n proaktiewe benadering tot verkragtingskultuur nodig. Hierdie webtuiste is 'n poging tot bewusmaking van wat vrouestudente as verkragtingskultuur beleef, en van die beperkte institusionele reaksie wat hulle ervaar. Ander universiteite kan hieruit leer."

Tshego Matsha, 'n lid van die Universiteit se studentegedrewe beweging teen geslagsgebaseerde geweld, het aangrypend vertel hoe die gruwelike moord op haar klasmaat, Hannah Cornelius, in 2017 haar geraak het, en aangespoor het om aktief betrokke te raak.

Die bekendstelling is afgesluit met voorafopgeneemde stemnotas waarin die vyf studentenavorsers sê wat hulle hoop die webtuiste sal bereik. “Ek hoop dit skep bewustheid en dien as 'n platform om op 'n vryer en veiliger manier oor hierdie kwessies te praat," het een gesê. “En ek hoop mense leer dat dit nie maar net 'n gier op sosiale media is nie, maar 'n uiters belangrike kwessie wat hanteer moet word en oukei is om oor te praat."

Die webtuiste is aktief en by www.campusrapeculture.co.za te kry.

*Die navorsing het etiese klaring van die Universiteit ontvang, terwyl die projek ook deur die Universiteit befonds is.