Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PLUK DIE VRUGTE VAN AANGEVULDE INTERNASIONALISERING
Outeur: Prof Hester C. Klopper, Deputy Vice-Chancellor: Strategy, Global and Corporate Affairs​
Gepubliseer: 07/10/2021

​Namate lande wêreldwyd hulle inentingsprogramme begin implementeer, sien ons hoe die wêreld weer begin oopmaak en terugkeer na 'n mate van wat ons as normaal onthou. Nietemin het ons almal aanvaar dat ons werks- en leefwyse ingrypend verander het, en dat ons waarskynlik nie sal terugkeer na die normaal wat ons geken het nie.

Die COVID-19-pandemie het die hele wêreld ernstig geraak. Nietemin het daar ook 'n hele aantal innoverende idees en praktyke uit hierdie teenspoed voortgespruit. Tegnologie verander nou vinniger as ooit vantevore in die geskiedenis van die mensdom, en is 'n noodsaaklike deel van ons wêreld.

By die Universiteit Stellenbosch (US) het ons heelwat gedoen om die impak van die pandemie te beperk en die sistemiese volhoubaarheid van ons instelling te verseker. Ons het jou die afgelope jaar in hierdie nuusbrief van baie van hierdie innovasies vertel. Hierdie innovasies het ons op die weg na aangevulde internasionalisering geplaas as 'n manier om ons internasionaliseringswerk in 'n nuwe globale arena te versterk. Boonop het dit ons gehelp om die US se internasionaliseringstrategie doelgerig aan te hou implementeer.

Danksy aangevulde internasionalisering het ons programme vir studente en personeellede by die US en sy vennootinstellings ontwikkel om steeds die voordele van mobiliteit fisies én virtueel te ervaar. Ons het reeds in Oktober 2020 ons eerste aanlyn Globale Week aangebied, waar ons studente aangemoedig het om hibridiese mobiliteitsgeleenthede te benut. Sedertdien beleef ons 'n toename in studente wat doelbewus virtuele mobiliteit kies in die verskillende programme wat ons aanbied.

Ons wêreldwye vennootskapsnetwerk en deelname aan internasionale netwerke en konsortiums het ook aansienlik baat gevind by ons aangevulde internasionaliseringsbenadering. Trouens, die US se vennootskappe het sedert 2018 jaarliks toegeneem, ondanks die beperkende omstandighede wat die pandemie sedert die begin van 2020 meegebring het.

Die US is vasbeslote om sy internasionaliseringspogings uit te brei, en die verskuiwing na aangevulde internasionalisering het ons die geleentheid gebied om dít te doen en ons internasionale voetspoor sodoende te verdiep en uit te brei. Namate ons voortgaan om ons voete in hierdie nuwe realiteit te vind, sien ons daarna uit om met ons internasionale studente en vennote te skakel, hetsy persoonlik óf virtueel.

  • Prof Hester C. Klopper, Viserektor: Strategie, Korporatiewe en Globale Sake