Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ADA brei uit met Webinaar-Woensdae
Outeur: SU International
Gepubliseer: 07/10/2021

US Internasionaal se Afrika Doktorale Akademie (ADA) bied sedert 2009 vermoëbouprojekte vir huidige en voornemende PhD-kandidate, studieleiers en navorsers aan. Met sy jaarlikse somer- en winterskole – 'n vlagskipprojek – het die ADA oor die jare 'n aansienlike ondersteunersbasis opgebou. Hierdie skole bestaan uit 'n aantal kortkursusse oor navorsingsontwerp en -metodologie, akademiese gereedheid, navorsingsverspreiding en studieleiding, en word deur die Universiteit Stellenbosch (US) geakkrediteer en deur sowel US- as ander kenners aangebied.

'n Nuwe ADA-inisiatief, Webinaar-Woensdae, bied sedert Februarie 2021 gereelde steun en stimulasie aan die ADA se volgelinge, en dien as 'n platform vir US-personeel en ADA-medewerkers om oor hulle werk en navorsingsbelangstellings te gesels. Die webinare, wat op die eerste of tweede Woensdag van die maand plaasvind, bied die ADA boonop 'n teenwoordigheid deur die hele jaar, in plaas van net in die weke voor die jaarlikse skole.

Sewe webinare is tot dusver aangebied:

  • In “Skep 'n akademiese visie, en die gewoontes wat dit 'n werklikheid maak" het prof Sarah Tracy, 'n kwalitatiewe navorser van Arizona-staatsuniversiteit, Verenigde State, deelnemers gehelp om navorsingsmikpunte te stel en hulle akademiese doelwitte te bereik.
  • Prof Kanshu Rajaratnam, direkteur van die onlangs gestigte US Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, het gepraat oor “Datawetenskap en die relevansie daarvan in Afrika", en onder meer verwys na hoe datawetenskap ons die wêreldwye verspreiding van COVID-19 help verstaan het.
  • In die webinaar “Skep 'n doeltreffende tuiskantoor" het prof Sebastian Kernbach, 'n genoot aan Stanford en 'n dosent aan die Universiteit van St Gallen, Switserland, ondersoek ingestel na hoe die beginsels van ontwerpdenke gebruik kan word om 'n produktiewe afstandswerkomgewing in te rig.
  • Die US se Doris Viljoen, 'n senior toekomskundige aan die Instituut vir Toekomsstudie, het in haar sessie “Scenariobeplanning" verken watter voordele toekomsdenke vir sowel navorsers as instellings se scenariobeplanning inhou.
  • Prof Brigitte Smit, 'n ervare instrukteur in rekenaargesteunde sagteware aan die universiteite van Alberta en Johannesburg, het in “Die gebruik van digitale instrumente vir navorsing" nuttige wenke en instrumente vir data-insameling, -transkripsie en -ontleding gebied.
  • Laastens het die US se prof Leslie Swartz, wat self al meer as 400 akademiese uitsette gepubliseer het, in sy sessie “Wenke om gepubliseer te word" nuwelingskrywers touwys gemaak oor hoe om publiseerbare manuskripte vir vaktydskrifte te skryf.
  • ​Laastens, Inleiding tot data -visualisering, met Marié Roux van die Universiteit Stellenbosch se biblioteek- en inligtingsdienste, waar sy die #SmartResearcher -werkswinkels gerig het op nagraadse studente, navorsers en akademiese personeel.

Die reaksie is uitstekend: Die webinare het gemiddeld elk meer as 100 deelnemers van alle vakrigtings gelok, en een het tot 260 mense bereik. Alle webinare is vryelik beskikbaar op die ADA se YouTube-kanaal by https://www.youtube.com/channel/UCD4ct5mOJ1zpkB2HIB9xQtg.

  • Diegene wat graag tot Webinaar-Woensdae wil bydra en oor hulle navorsing wil gesels, kan die ADA-programbestuurder, Corina du Toit (corina@sun.ac.za​), kontak.​