Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste bewyse van inflammatoriese mikrobloedstolsels by individue wat ly aan lang-COVID
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 04/10/2021

​​​Nuwe navorsing dui daarop dat 'n oormaat inflammatoriese molekules wat letterlik in onoplosbare mikroskopiese bloedstolsels (mikrostolsels) “vasgevang" is, die oorsaak kan wees van sommige van die langdurige simptome wat individue met lang-COVID ervaar. 

Hierdie onverwagse bevinding is deur prof Resia Pretorius, 'n navorser in die Departement Fisiologiese wetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US) gemaak, toe sy begin het om mikrobloedstolsels en hulle molekulêre inhoud te bestudeer in bloedmonsters afkomstig van individue wat met lang-COVID gediagnoseer is. Hierdie bevindinge is sedertdien deur die proses van eweknie-beoordeling en is in Augustus 2021 in die vaktydskrif Cardiovascular Diabetology gepubliseer.

“Ons het hoë vlakke van verskeie inflammatoriese molekules gevind wat vasgevang is in die mikrobloedstolsels in die bloed van individue met lang-COVID. Sommige van hierdie molekules wat in die onoplosbare mikrostolses vasgevang is, bevat stollingsproteïene soos fibrinogeen, asook alpha2-antiplasmien," verduidelik sy.

Alpha2-antiplasmien is 'n molekuul wat die afbreek van bloedstolsels verhoed, terwyl fibrinogeen die hoof stollingsproteïen is. Onder normale omstandighede handhaaf die liggaam se plasmien-antiplasmien-stelsel 'n fyn balans tussen bloedstolling (die proses waar bloed verdik en stol om bloedverlies te voorkom in die geval van 'n besering) en fibrinolise (die proses waartydens die fibrien - wat vir die bloedstolling verantwoordelik was en in die verdikte bloed voorkom, - afbreek ten einde die vorming van bloedklonte te voorkom.)

Met hoë vlakke van alpha2-antiplasmien wat in die bloed van COVID-19-pasiënte en individue met lang-COVID voorkom, is die liggaam se vermoë om bloedstolsels af te breek, aansienlik ingekort. 

Dr Maré Vlok, 'n senior analis in die Massaspektrometrie-eenheid by die US se Sentrale Analitiese Fasiliteite, was die eerste om die onoplosbaarheid van hierdie mikrostolsels waar te neem. Dít het aan die lig gekom toe hy opgemerk het dat die bloedplasmamonsters van individue met akute COVID, sowel as die met lang-COVID, voortdurend 'n neerslag van onoplosbare korrels in die onderkant van die proefbuise gevorm het ná voorbereiding vir analise.

Hy het prof Pretorius van sy waarneming in kennis gestel en sy het dit verder ondersoek. Hulle het nou die eerste navorsingsgroep geword wat kon berig dat hulle mikrobloedstolsels gevind het in bloed afkomstig van individue met lang-COVID deur gebruik te maak van fluoresserende mikroskopie en proteomika-analise. En hierdeur is nog 'n raaisel wat met die siekte geassosieer word, opgelos. 

Blood clots Long COVID.jpg

Van spesifieke belang is die feit dat volgehoue anomale mikrostolsels en 'n patologiese fibrinolitiese stelsel gelyktydig voorkom," skryf hulle in die navorsingsartikel. Dit impliseer dat die plasmien-antiplasmien-balans moontlik sentraal kan staan tot patologieë wat by lang-COVID teenwoordig is, en verskaf verdere bewyse dat COVID-19, en nou ook lang-COVID, betekenisvolle kardiovaskulêre en bloedstollingspatologieë inhou.

Verdere navorsing oor 'n stel terapieë wat ten doel het om die gesonde funksionering van die bloedstolling- en fibrinolitiese stelsels in individue met voortslepende lang-COVID-simptome te ondersteun, word aanbeveel.

Die navorsingsgroep wat ook vaskulêre internis, dr Jaco Laubscher van Mediclinic Stellenbosch en ook mede-outeur van die artikel insluit, beplan nou om dieselfde analise op 'n groter steekproef van pasiënte uit te voer. Tot op hede het hulle bloedmonsters van 100 individue met lang-COVID versamel wat deelgeneem het aan die Long COVID registry wat in Mei 2021 van stapel gestuur is, asook van 30 gesonde vrywilligers. Hierdie navorsing word gefinansier deur die Long COVID Research Charitable Trust. Hierdie trust het tot stand gekom met 'n skenking van mnr Koos Pretorius van ENSafrica en het ten doel om fondse in te samel vir verdere navorsing oor die oorsake van, en effektiewe behandeling van individue wat aan lang-COVID ly.

Die artikel, “Persistent clotting protein pathology in Long COVID/Post-Acute Sequelae of COVID-19 (PASC) is accompanied by increased levels of antiplasmin" is in Augustus 2021 in Cardiovascular Diabetology gepubliseer en is aanlyn beskikbaar by https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/34425843/

Op die foto bo: Prof Resia Pretorius van die Universiteit Stellenbosch het deur middel van fluoresserende mikroskopie die bloedstolsels in die bloedmonsters van individue met lang-COVID opgespoor en geïdentifiseer. Foto: Janik Alheit

Medianavrae

Prof Resia Pretorius

Departement Fisiologiese Wetenskappe, Universiteit Stellenbosch

E-pos: resiap@sun.ac.za

Selfoon: 082 929 5041