Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verseker gehalte van nuwe Afrikagerigte internasionale skoolverlaterskwalifikasie
Outeur: SU International
Gepubliseer: 06/10/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n opwindende werksooreenkoms met die internasionale afdeling van die Onafhanklike Eksamineringsraad (“IEB-International") gesluit om as gehalteversekeraar op te tree van 'n Afrikagerigte skoolverlaterskwalifikasie wat internasionaal bekend gestel sal word.

IEB-International is 'n onderafdeling van die Onafhanklike Eksamineringsraad (“IEB"), 'n Suid-Afrikaanse organisasie sonder winsoogmerk. Die IEB is 'n internasionaal erkende raad wat die assessering van skoolverlaters in die onafhanklike skoolsektor behartig. Die raad neem onder andere die Suid-Afrikaanse Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) af, wat tot en met 2021 ook in ander lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) aangebied is.

Onlangse nasionale regulasiewysigings verhoed egter dat die IEB-NSS voortaan buite Suid-Afrika aangebied word, en dus het buurlande wat van die NSS gebruik gemaak het 'n alternatiewe, vergelykbare kwalifikasie en kurrikulum gekort. Om in hierdie behoefte te voorsien, het IEB-International die IEB Internasionale Sekondêre Sertifikaat (“IEB-ISC") ontwikkel. Die kwalifikasie is Afrikagerig, van 'n hoë gehalte, en internasionaal vergelykbaar.

Die IEB-ISC sal vanaf 2022 beskikbaar wees, en is deur Universiteite Suid-Afrika (USAf) geëvalueer. Dít beteken dat internasionale kandidate wat die kwalifikasie met lof of op 'n gevorderde vlak verwerf, en by 'n Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstelling plek ontvang, aan die minimum toelatingsvereistes vir graadprogramme sal voldoen. Die IEB het boonop kontak bewerkstellig met UK Ecctis (voorheen UK NARIC) – wat die Verenigde Koninkryk in alle internasionale kwalifikasie-aangeleenthede verteenwoordig – om die kwalifikasie en spesifieke vakkurrikulums met internasionale eweknieë te vergelyk.

Nietemin mag Suid-Afrika se nasionale owerheid vir die gehalteversekering van basiese onderwys ingevolge sy mandaat nie as gehalteversekeraar van 'n internasionale skoolverlaterskwalifikasie buite Suid-Afrikaanse grense optree nie. Daarom is die US vir dié doel genader. Ingevolge die ooreenkoms sal die US se Eenheid vir Internasionale Kwalifikasies (“SU-UIC"), wat in US Internasionaal se Africa Centre for Scholarship (ACS) geleë is, 'n kernrol vervul om die gehalte van die IEB-ISC te verseker. Dít sluit in die vasstelling en handhawing van konsekwente, gepaste akademiese standaarde op individuele vakgebiede, bevestiging dat die IEB gepaste gehalteversekeringsprosesse toepas om geloofwaardige jaarlikse eksamens af te neem, en die versekering dat die sertifikasie eg en sonder enige manipulasie is.

'n ISC-gehalteversekeringsbeheerkomitee het reeds twee keer ontmoet. Die komitee sal toesig hou oor die gehalteversekering van belangrike IEB-ISC-prosesse, die ISC-verwante werk van die SU-UIC, sowel as die funksionering van die twee werkskomitees belas met onderskeidelik kurrikulum en assessering, en standaardisering. Die beheerkomitee, met die Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, prof Hester Klopper, as voorsitter, bestaan uit nasionaal gerekende opvoedkundiges en leiers in die basiese en hoër onderwys, sowel as voormalige beleidskrywers op kurrikulum- en assesseringsgebied.

Die gehalteversekering van die ISC bied die US 'n unieke geleentheid om deel te wees van baanbrekerswerk om alternatiewe internasionale skoolverlaterskwalifikasies op die vasteland te voorsien. Die Universiteit is trots daarop om tot 'n bekostigbare, Afrikagerigte benadering tot kurrikulums en assessering te kan bydra.