Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ubuntu: Deel die planeet en woon goed saam
Outeur: SU Museum (Biénne Huisman)
Gepubliseer: 03/10/2021

​By ʼn sendingkosskool in die landelike omstreke van Bulawayo, Zimbabwe, is die 13-jarige Otrude Moyo gestraf omdat sy haar moedertaal, isiNdebele, gepraat het. As deel van haar straf, en in ʼn poging om haar te beskaam, moes sy in die hitte van die dag en sonder water, ubhima (ʼn doringrankplant) met haar kaal hande uittrek in die kampe waarin die sendingstasie se perde gewei het.

“Ek was geprogrammeer om skaam te wees vir my taal," skryf Moyo in haar boek, Africanity and Ubuntu as Decolonizing Discourse, wat in Februarie vanjaar gepubliseer is. Sy onthou hoe slegs een uit vyftien onderwysers by dieselfde kosskool die moed gehad het om teen die 'slegs Engels'-reël op te staan. Dit was ʼn manlike wetenskaponderwyser wat leerders toegelaat het om Newton se swaartekragwet in hulle moedertaal te verduidelik.

“Laat ek die besonderhede van die voorbeeld van Bantoe-wees as ʼn dertienjarige meisie wat met hoërskool begin, verken," gaan Moyo voort. “Die woord Bantoe, as verwysend na Afrikane, was vir my ʼn raaisel. Ek onthou dat ek gedink het dat die wit wêreld so hard probeer het om homself van enige gedeelde menslikheid, u-lu-ntu, te verwyder. Wit heersugtigheid , soos dit deur kolonisering, apartheid en verwante onderdrukkingstelsels uitdrukking gevind het, het aparte rasse geskep, waardeur witmense hulle uit daardie gedeelde u-lu-ntu verwyder het. Witmense het weer taal gebruik om Afrikane in Suider-Afrika as Bantoe te merk – ʼn term wat op 'die ander' dui."

Vir Moyo is besinning oor ubuntu steeds “verstrengel met die geskiedkundige ervaring van witheid en die omskrywingsmag wat dit oor elke aspek van my lewe gehad het".

Vandag is Moyo ʼn professor en die Programdirekteur van die Skool van Maatskaplike Werk aan die Universiteit van Indiana in South Bend, waar haar werk sentreer rondom “die ongedaanmaking van onderdrukkings teen diegene wat histories as 'die ander' benoem is". Sy is veral geesdriftig oor die onderrig van kursusse in maatskaplike geregtigheid en multikulturalisme.

In ʼn webinar, Ubuntu, Menswaardigheid en ʼn Ordentlike Samelewing (Ubuntu, Human Dignity and a Decent Society), wat as deel van die Ubuntu-dialoë deur die Stellenbosch Universiteitsmuseum aangebied is, som Moyo die hoofvraag wat haar navorsing aandryf, op: “Ons deel hierdie een planeet – hoe gaan ons goed saamleef?"

In ʼn Zoom-onderhoud uit haar kantoor in South Bend sê sy: “Die vraag oor hoe ek goed met ander kan saamleef, bly steeds aan my knaag. Dit bly die geesdrif wat my op en aan die gang kry. Hoe kan ons goed saamleef? Ek het die filosofiese idees oor goed saamleef, veral individualisme, ondersoek. En ons grondliggende filosofieë of instellings wat op individualisme berus, stel my nie tevrede nie. Want dit laat die hantering van 'die ander' – iets of iemand wat nie in die familie van die planeet ingesluit moet word nie – uit. Met ander woorde, die rangordestelling van dinge of mense, en dan die skep van diegene wat beter is."

Vir Moyo, sluit “die ander" of “rangordestelling" ook mense in wat hulleself aan “die toppunt" van die aarde se spesies plaas, en dus diere en plante uitbuit; en mense wat dominansie oor ander mense toe-eien.

Moyo verduidelik dat, omdat sy ʼn lewe moes leef wat deur wit oorheersing gevorm en dikwels deur waardes van individualisme aangedryf is, ubuntu vir haar die primêre teendiskoers vir die uitdrukking van haar eie menslikheid, en ʼn gedeelde menslikheid, geword het. Sy haal die Zulu gesegde, Izandlaziyagezana, aan, wat beteken dat een hand die ander was en dus in wedersydse wisselwerking gedy.

In ligter luim vertel sy 'n staaltjie: “Ek gesels met my suster [Thuli]. Ek was aan die ander kant van die aarde, in Noord-Amerika, en sy was in Johannesburg, Suid-Afrika. Sy sê: 'Ek sien ubuntu hier voor my. ʼn Verkeerslig is stukkend, en iemand wat aan die pad werk, het hulle werk eers laat staan om die verkeer te reël. Dit is ubuntu, net daar!'"

Moyo is nou verbonde aan Suid-Afrika. Voor Covid sou sy tot drie maande per jaar in Healdtown en Fort Beaufort in die Oos-Kaap deurbring, waar sy navorsing vir groot dele van haar boek gedoen het. Hier het sy, saam met die gemeenskap, die 'Ubuntu-kunste en -dialoë in Diversiteit'-program gevestig, met die doel om “apartheid deur dialoog, spel, sang, dans, skilderwerk en digkunsvoorlesings te ontleer".

Moyo lag as sy oor die pad van haar loopbaan nadink. Ná hoërskool was sy vasbeslote om nie ʼn onderwyser – soos albei haar ouers – te word nie: “Ek het daaraan gedink om politieke wetenskap te gaan studeer, en toe vra my ma vir my: 'Waar het jy al ooit ʼn politikus gesien wat ʼn eerlike lewe lei?' Ons het ʼn uitval gehad, omdat my ma wou hê dat ek onderwysopleidingskollege toe moes gaan. Ek het gegaan, maar dit het net drie dae lank gehou."

Moyo het uiteindelik ʼn baccalaureus in maatskaplike werk aan die Universiteit van Zimbabwe behaal. Sy was spoedig gefrustreerd en in ʼn dapper stap het sy aansoek gedoen om ʼn meestersgraad in maatskaplike werk aan die Universiteit van Suid-Illinois in Carbondale in die Verenigde State te doen.

“Ek is deel van ʼn minderheidsgroep en in Zimbabwe maak etnisiteit saak," sê sy. “Etnisiteit en gender en of jy uit ʼn polities 'groot' familie kom. As iemand wat nie aan een hiervan voldoen nie, word jy altyd opsy geskuif. Dit is waarom ek Zimbabwe verlaat het."

Nou, vir die bykans twee dekades waartydens sy besig was om haar akademiese loopbaan uit te beitel, onderrig sy inderdaad voorgraadse en nagraadse studente: “So, nou is ek in elk geval ʼn onderwyser en my ma lag, en sê: 'Ek het jou geken!'"

Hoewel Moyo sê dat sy steeds “sielkundig in Zimbabwe gewortel is", het sy ook in die Verenigde State wortel geskiet. Sy het ʼn 28-jarige dogter, wat die assistant-direkteur by die Sentrum vir Maatskaplike Sake aan Indiana se Notre Dame Universiteit is.

Moyo haal aan uit die Dalai Lama se toespraak by die 1992 Rio de Janeiro Aarde-spitsberaad om die sin van universele verantwoordelikheid wat sy voorsien, te illustreer. Destyds het die Dalai Lama gesê: “Ek glo dat, om die uitdagings van die tyd te kan trotseer, mense ʼn veel groter sin van universele verantwoordelikheid sal moet ontwikkel. Ons sal elkeen moet leer om nie net vir onsself, ons familie of nasie te werk nie, maar tot die voordeel van almal [die mensdom]. Universele verantwoordelikheid is die ware sleutel tot menslike oorlewing."

Die 'Ubuntu-dialoë'-projek is ʼn samewerking tussen die Universiteit Stellenbosch en Michigan Staatsuniversiteit, waar dit deur die Afrikastudiesentrum aangebied word. Moyo was in gesprek met dr Motsamai Molefe van die Sentrum vir Leierskapsetiek aan Fort Hare Universiteit, een van die vyf seminaaruitruilgenote van die Ubuntu-dialoë vir 2021.