Die jongste uitgawe van die Universiteit Stellenbosch (US) se veelbekroonde publikasie Research at Stellenbosch University is nou beskikbaar. Die publikasie word jaarliks deur die Afdeling Navorsingsontwikkeling (ANO) uitgegee en word gesien as een van die US se vlagskip publikasies.
Dit is 'n spesiale uitgawe van innoverende en interessante COVID-19-navorsing aan die US gedurende 2020 en daarna, wat die pandemie voorop stel in studies oor alle akademiese dissiplines heen.
Die publikasie bied die nasionale en internasionale navorsingsgemeenskap sowel as ander belanghebbendes 'n uitgebreide, maar tog toeganklike oorsig oor hierdie navorsing. Dit belig deurbrake in mediese navorsing, beklemtoon die belangrike rol wat die immunologiedeskundiges van die US speel in die bestryding van die pandemie, en kyk hoe biotegnologie aangewend word om COVID-19 verwante uitdagings die hoof te bied. Dit bevat ook navorsing wat die sosio-ekonomiese impak van die pandemie volg en beklemtoon hoe navorsers en denkers in die geestes- en sosiale wetenskappe op ons huidige situasie gereageer het.
Sommige van die onderwerpe wat in hierdie uitgawe gedek word, fokus op COVID-19-navorsing wat verband hou met genome, die bestuur van afvalwater, immunologie, biomerkers, nuwe diagnostiese hulpmiddels, sintetiese farmaseutiese produkte, bewaring, suurstofbehandeling, oordrag van patogene, behuising, kinders, sport- en oefening-geneeskunde, entstowwe, opvoeding, persoonlike beskermende toerusting, voedselsekerheid, vroulike navorsers, musiek, visualisering van die koronavirus, sosiale afstand, inperkings, geestesgesondheid, belastingverligting, rehabilitasie, verpleegsters, geslagsgelykheid, gestremdheid en besighede.
Die pandemie het die afgelope jaar en `n half soveel verwoesting, persoonlike tragedie en lewensverlies wêreldwyd veroorsaak. Maar ongeag die inperkings, isolasie en die aanpassings wat ons moes maak, het navorsers aan die US op 'n verbysterende wyse die geleentheid aangegryp om `n bydrae te maak.
Navorsing vir impak is een van ons kernwaardes, en dit was nog nooit meer tasbaar as tydens die pandemie nie, want navorsing het onmiddellike, werklike impak. Hierdie kernwaarde vorm ook deel van ons Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019-2024, wat ons missie toelig om gefokus te bly op die toekoms en maniere te vind om die impak van die US eksponensieël uit te brei. In ons benadering kyk ons na die Nasionale Ontwikkelingsplan, die Afrika-unie se Visie 2063 en die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte, want ons glo dat 'n universiteit met die wêreld verbind moet wees.
Volgens Prof Wim de Villiers, US Rektor en Visekanselier, is die publikasie `n tentoonstelling van wat die US op koers was om te doen - om by te dra tot die oplossing van sommige van die dringendste uitdagings in ons wêreld. "Dit is wat navorsing vir impak beteken - om ons navorsingskundigheid te gebruik om die samelewing ten goede te verander en 'n positiewe verskil in mense se lewens te maak".
US-navorsers het ook verskeie COVID-19-verwante opiniestukke geskryf. Die ANO het `n verslag Lees gerus Die ANO het `n verslag opgestel met meer as 50 van hierdie bydraes wat tussen Maart 2020 en Februarie 2021 geproduseer is.
Gedurende die komende weke sal ons 'n paar van die hoogtepunte in die publikasie op die Research at Stellenbosch University Facebook-bladsy plaas: https://www.facebook.com/stellenboschuniresearch of @stellenboschuniresearch.
Kyk gerus na die video om 'n voorsmakie te kry van wat u kan verwag!
SLEGS VIR MEDIA NAVRAE:
Maryke Hunter-Hüsselmann (redakteur)
Direkteur: Navorsingsinligting en -strategie
Afdeling Navorsingsontwikkeling
Universiteit Stellenbosch
Epos: mh3@sun.ac.za
UITGEREIK DEUR:
Martin Viljoen
Bestuurder: Media
Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Universiteit Stellenbosch
Tel: 021 808 4921
Epos: viljoenm@sun.ac.za