Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Erfenis word ook in die hede geskep – Dr Chris Jones
Outeur: Chris Jones
Gepubliseer: 27/09/2021

Vrydag (24 September) het Suid-Afrikaners Erfenisdag gevier. In ʼn meningsartikel vir News24, skryf dr Chris Jones (Eenheid vir Morele Leierskap) dat erfenis nie net iets is wat tot die verlede behoort nie, maar ook in die hede geskep word. 

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

*Hierdie artikel is deur Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gefasiliteer. Dit kan wees dat daar ander Erfenisdag-artikels verskyn het wat personeel en studente self vir die media gestuur het.

Chris Jones*

Op Erfenisdag (24 September) word ons aangemoedig om ons uiteenlopende kulture, godsdienste, tale, kos, musiek en ander tradisies te vier. In my besinning oor hierdie belangrike nasionale vakansiedag wil ek fokus op godsdiens en nuwe ontwikkelings rakende heilige plekke, en ook wat dit beteken vir die manier waarop ons ons godsdienstige erfenis vier.

ʼn Paar jaar gelede het ʼn kollega van die Universiteit van Tilburg in Nederland, die morele teoloog Jan Jans, vir my ʼn afskrif van navorsing by die Tilburgse Skool van Geesteswetenskappe gegee. Die titel daarvan was Humanities Perspectives (2012) en Jans was die redakteur. Twee artikels het veral my aandag getrek: die een geskryf deur Inez Schippers en die ander deur Lieke Wijnia.

Schippers skryf hoe sy tydens haar navorsingstyd oor heiliges in die voorstede gereeld deur Leidsche Rijn, wat deel uitmaak van die stad Utrecht, gery het. Die Leidsche Rijn-ontwikkeling was/is deel van die Nederlandse regering se program om die behuisingskrisis in Nederland aan te spreek.

Sy het gevind dat kerke nie deel uitmaak van hierdie spesifieke stedelike ontwikkeling nie, omdat die beplanners aangeneem het dat daar geen vraag of behoefte aan sulke plekke is nie. Dit het haar gehelp om “verder as die kerkgebou te kyk na nuwe vorms van heilige ruimtes en na nuwe plekke vir die beoefening van rituele".

Dit is vir my van belang, want soos ek erfenis beskou, word dit nie net in ons verlede aangetref en gevier nie, maar ook in die hede geskep. Dit is miskien iets wat ons ook moet oorweeg in ons debatte oor erfenis.

Schippers maak die belangrike punt dat die “de-institusionalisering van godsdiens" nie noodwendig beteken dat die heilige uit die samelewing verdwyn het nie.

Terwyl ons Erfenisdag en ons verskeie godsdienste vier, moet ons ook onthou dat heiligheid op verskillende maniere en plekke in ons stede, dorpe en buurte herken en/of ervaar kan word. Wanneer ons dit identifiseer en ondersoek en die werklike, sowel as die ideale verhoudings tussen die verskillende mense wat hierdie plekke en ruimtes deel verbeter, skep ons meer erfenis. Dit sal dan hopelik gevier word, betekenisvol oor besin word, en selfs kreatief omvorm kan word deur diegene wat ná ons kom.

Lees hier verder wat *dr Chris Jones, hoof van die Eenheid vir Morele Leierskap in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch, oor hierdie kwessie te sê het.