Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-akademici binnekort op TV te sien
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/ | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 23/09/2021

​As jy vroeg in die 1980's TV gekyk het, onthou jy waarskynlik die oorgeklankte reeks Beste Professor. In dié reeks, wat oorspronklik as The Paper Chase in die Verenigde State uitgesaai is, het die briljante regstudent James T. Hart (gespeel deur James Stephens) dit behoorlik hot-agter gehad met sy ou knorpot van ʼn professor, Charles W. Kingsfield jr. (John Houseman).

Dít was 'n tyd voordat sofapokkels 'n magdom kykstof met die druk van ʼn knoppie kon bekom, en die week tot die volgende episode kon lánk raak. Hart was natuurlik almal se held, maar die prof was ook ʼn ster danksy die gesag waarmee hy sy vakkennis en ervaring aan sy studente oorgedra het.

Nou kan ons uitsien na 'n soort herlewing van Beste Professor wanneer insetsels met dié naam as deel van die Toyota US Woordfees in die eerste week van Oktober op DStv uitgesaai sal word. Hoewel in ʼn heel nuwe gedaante, behou die insetsels ʼn belangrike element van die oorspronklike resep, naamlik ʼn kundige wat sy of haar kennis deel. Maar hierdie keer is dit op feite gebaseer, nie fiksie nie. (Klik hier vir die Beste Professor skedule.)

Die kundiges aan die woord is almal vooraanstaande akademici verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US), wat toeganklike praatjies oor interessante onderwerpe lewer. Die aanbiedings vind in TED Talk-styl plaas en duur 10 minute elk. Die Engelstalige weergawe (met onderskrifte) heet Professor Presenting.

So byvoorbeeld gesels die ekonoom prof Johan Fourie oor wat ons uit syfers oor die geskiedenis kan wys word. Die selbioloog dr Hanél Sadie-van Gijsen vra of natuurlike produkte regtig met gewigsverlies kan help, en die ingenieur prof Thinus Booysen het raad met die “honger donkie" op jou plafon (oftewel jou warmwatersilinder).

Mikrobioloog prof Karin Jacobs verwonder haar oor die groot verskeidenheid swamme in fynbos, en die toekomskundige dr Morne Mostert praat oor hoe ons krisisse beter kan hanteer. Prof Stella Viljoen, ʼn dosent in Visuele Kuns, lê rassisme en seksisme bloot in die tydskrif Scope, en die plantkundige prof Nox Makunga raak opgewonde oor al die plante in Suid-Afrika met gesondheidsvoordele.

Ons kan die wêreld verander as ons kinders eerste stel, sê prof Mark Tomlinson, kenner van openbare gesondheid. Die datawetenskaplike prof Kanshu Rajaratnam wys slaggate uit in die inligtingslandskap van COVID-19, en die klinikus prof Helmuth Reuter gebruik werklike gevallestudies om te verduidelik hoe ons immuunstelsel teen artritis en virus-pneumonie baklei.

So, vir 'n klasdrafervaring sonder om jou rusbank te verlaat, skakel gerus in. Lank lewe Beste Professor!

* Die Toyota US Woordfees 2021 word van 1 tot 7 Oktober op DStv-kanaal 150 in Suid-Afrika uitgesaai, en op GOtv-kanaal 15 in Namibië. Hou www.woordfees.co.za en die Woordfees se sosialemediaplatforms dop vir nuwe inligting oor Fees TV.​ Klik hier vir die Beste Professor skedule.​