Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD-student in etnoplantkunde skitter op internasionale verhoog
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 20/09/2021

Kaylan Reddy (24), 'n PhD-student in die Departement Plant- en Dierkunde by die Universiteit Stellenbosch, het sopas twee toekennings op internasionale kongresse ontvang. Die een is vir die beste plakkaat in etnoplantkunde by die 2021 Plantkunde virtuele konferensie wat deur die Botaniese Vereniging van Amerika aangebied is, en die ander een vir die beste PhD-aanbieding by die Internasionale Simposium vir Fitochemikalieë in Geneeskunde en Voedsel, wat deur die Vereniging vir Fitochemikalieë van Europa en die Vereniging vir Fitochemikalieë van Asië aangebied is.

Reddy, 'n eerstegenerasiestudent, het aanvanklik sy BSc-graad in Biochemie en Chemie aan die Universiteit Pretoria (UP) verwerf. Sy belangstelling in hoe jy die chemie van lewe by mense kon manipuleer, het gelei tot 'n HonsBSc in Medisinale Plantwetenskap by die UP onder die leiding van dr Gary Stafford. Dr Stafford het hom toe bekendgestel aan prof Nox Makunga by die Universiteit Stellenbosch se navorsing in etnobotanie. In 2020 is sy MSc-projek, onder leiding van prof Makunga, na 'n PhD opgegradeer.

Vir sy PhD-studies ondersoek Reddy die chemiese en genetiese verskille tussen ag verskillende spesies van die medisinale plant Sceletium, wat slegs in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap voorkom. Sceletium, ook bekend as 'kanna' en 'kougoed', word reed dekades lank deur inheemse mense gebruik vir ontspanning, stresverligting en om die gevoel van honger en dors te onderdruk. Reddy hoop om die chemiese komponente wat in die Sceletium- genus voorkom en effektief is in die verligting van depressie- en angssimptome, te karakteriseer. Hy wil ook die mees effektiewe kombinasiesamestellings hiervan vind ten einde middels te kan ontwikkel wat uiteindelik vir die behandeling van angs en depressie gebruik kan word.

Die soeke na hierdie ontwykende spesie het 'n nuutgevonde liefde vir plante by hom laat ontvlam: “Hierdie plant kom nie algemeen in die natuur voor nie en is moeilik te vinde, aangesien hulle letterlik onder ander plante wegkruip. Sommige van hierdie spesies wat ek bestudeer, is laas in die 1980s gesien. Die meeste van die tyd moet ons mense van die omgewing se hulp inroep om te help met die opspoor van die plante. Verlede week het 'n 80-jarige man ons gehelp met die opspoor van 'n populasie sceletium wat groei in 'n omgewing waar hy as 16 jarige laas was," verduidelik hy.

Reddy is ook passievol oor wetenskapskommunikasie en deel gereeld sy werk op sy Instagram-rekening by @sceletium.sci.guy en op Twitter @Plant_Detective. Hy is ook die US se verteenwoordiger by die nasionale semi-finale rondte van FameLab 2021, waar hy oor medisinale plantwetenskap en geestesgesondheid praat.

Op die foto, Kaylan Reddy. Foto: Stefan Els