Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tuiskoms 2021 word aanlyn gevier
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 16/09/2021

Die Universiteit Stellenbosch se sesde jaarlikse Tuiskoms en Familienaweek word vanjaar aanlyn gevier.

“Covid-19 met sy vele golwe het 'n einde gebring aan al ons noukeurig bereide planne, maar moenie bekommerd wees nie," sê Karen Bruns, Senior Direkteur van die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge. “Ons sal steeds daardie kenmerkende Matie-gees bring en ons is gereed om die virtuele maroentapyt uit te rol vir ons alumni, personeel en vriende van die Universiteit. Sien dit as 'n kans om aanlyn te gaan en tyd met die res van jou Matie-familie deur te bring, waar ook al hulle hulself in hierdie wêreld bevind."

Sluit by ons aan op Donderdag 23 September om 19:00 vir 'n aanlyn gesprek met die hoogaangeskrewe Suid-Afrikaanse skrywer en draaiboekskrywer, Deon Meyer. Sy boeke is al in meer as 40 lande gepubliseer en wêreldwyd in 27 tale vertaal. Matie-alumnus, Jonathan Amid, bekende boekjoernalis en -kritikus, is gereed om hierdie gesprek te lei. Deon sal sy reis as 'n gevierde skrywer deel en sy onlangse topverkoper, Donkerdrif, wat in die pragtige dorp Stellenbosch afspeel, bespreek.

Op Vrydag 24 September wil ons graag hê dat jy jou braaivleisvure moet aansteek. Dra asseblief jou Matie-maroen en nooi jou gesin om saam met jou Matie-gees te vang. Al wat jy hoef te doen is om 'n foto van jou, jou gesin en die braai op een van OAB se sosialemedia platforms te plaas. Daar is wonderlike pryse op die spel en 'n paar wynmakers is gereed om hul beste braaivleisresepte en wynparings voor die groot dag met jou te deel.

Op Saterdag 25 September kan jy jou hardloopskoene afstof, die oop pad aandurf en sommer terselfdertyd die volgende generasie Maties ondersteun. Jy kan kies om 'n 5 km, 10 km of 20 km op jou geselekteerde roete aan te pak. Oorweeg dit om vir elke kilometer wat jy hardloop of stap 'n skenking aan ons Jaarfonds, Bridge the Gap, te maak. Bridge the Gap is ʼn jaarlikse geldinsamelingsinisiatief wat alumni, die studentegemeenskap, personeel, ouers en vriende van die Universiteit uitnooi om ons studente te ondersteun in hulle poging om die hindernisse op hulle pad na sukses te bowe te kom. Jy kan op Strava registreer sodat jy jou vordering op jou roete met ons kan deel.

Stuur gerus 'n e-pos na marvin@sun.ac.za om jou plek vir Tuiskoms 2021 te bespreek.

Volg gerus ook die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge se sosialemedia-platforms vir die jongste nuus en Tuiskoms-kompetisies.

  • Facebook – Stellenbosch Alumni
  • Instagram – @MatiesAlumni
  • Twitter – @SU_Alumni