Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale Dag van Demokrasie: SA se wapenuitvoere vererger humanitêre krisis in Jemen
Outeur: Chris Jones
Gepubliseer: 15/09/2021

Woensdag (15 September) is die Internasionale Dag van Demokrasie. In ʼn meningsartikel vir Daily Maverick fokus dr Chris Jones (Eenheid vir Morele Leierskap) op die oorlog in Jemen en hoe Suid-Afrika se wapenuitvoere na Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate die humanitêre krisis in daardie land vererger en Jemeniete se menseregte skend.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

​Chris Jones*

Menseregte word deur baie as onvervangbare beginsels (of die hoeksteen) van demokrasie beskryf. In die lig hiervan, en ter viering van die Internasionale Dag van Demokrasie (15 September), wil ek fokus op die haglike menseregtesituasie in Jemen waartoe Suid-Afrika en verskeie ander demokratiese lande bygedra het.

Humanitêre krisis

Ons weet dat Jemen die grootste humanitêre krisis ter wêreld geword het weens die voortgesette burgeroorlog. ʼn Verbysterende 80% van die bevolking of ongeveer 24 miljoen mense het dringend humanitêre hulp nodig. Na raming het 85 000 kinders tussen die begin van die oorlog in September 2014 en 2018 reeds aan honger gesterf.

Ná ses jaar van gewapende konflik is meer as 18 400 burgerlikes dood. Hierdie land ervaar die ergste voedselonsekerheid ter wêreld “met 20,1 miljoen mense - byna twee derdes van die bevolking - wat voedselhulp aan die begin van 2020 benodig het".

Teen die einde van 2019 het 18 miljoen Jemeniete nie toegang tot veilige water gehad nie en meer as 'n miljoen is deur 'n cholera-uitbraak geraak. In 2017 het meer as 'n miljoen swanger Jemenitiese vroue aan matige tot akute wanvoeding gely. Meer as driekwart van die ontheemdes in Jemen is vroue.

Lugaanvalle

In 2020 is minstens 212 burgerlikes, waaronder 54 kinders, dood of beseer weens Saoedi-lugaanvalle. Volgens Human Rights Watch se 2019-verslag het ten minste 90 “skynbaar onwettige koalisie-lugaanvalle" sedert 2015 plaasgevind, wat noodsaaklike infrastruktuurgeriewe soos skole, hospitale, huise, markte en moskees getref het en duisende mense gedood het.

In September 2015 was daar 'n lugaanval op 'n troue in Al-Wahijah, waarin 131 burgerlikes dood is (“die lyke was tussen die bome versprei"), terwyl 'n soortgelyke aanval in 2016 op 'n begrafnis in Sana'a, 155 mense hul lewens gekos het en nog honderde gewond het - minstens 525.

Die Jemen-dataprojek ('n onafhanklike data-insamelingsprojek oor die konflik in Jemen) het sedert die begin van die oorlog 23 351 koalisie-lugaanvalle onder leiding van Saoedi aangeteken en meer as 18 600 burgerlikes is dood of beseer.

Jemen bevind hom in hierdie krisis omdat daar 'n gebrek aan aanspreeklikheid en geen gevolge was/is vir die partye wat tot hierdie konflik bydra nie. Oorlogsmisdadigers is ook nie tot verantwoording geroep nie en daar was geen regstelling vir die slagoffers nie. Dit is nie verbasend nie dat die Verenigde Nasies se Menseregteraad die land beskryf as “ ʼn gemartelde land, met sy mense wat verwoes is op maniere wat die gewete van die mensdom behoort te skok".

Die rol van demokratiese Suid-Afrika

Dit bring ons by Suid-Afrika wat tussen 2010 en 2019 wapens ter waarde van 11 miljard rand aan Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) verkoop het. Beide lande word daarvan beskuldig dat hulle wapens na Jemen herlei het, die verwoestende konflik aangeblaas en die wydverspreide lyding en menseregteskendings daar vererger het. Hulle is ook van die grootste invoerders van Suid-Afrikaanse ammunisie sedert 2014. Die getuienis dui daarop dat sommige van hierdie wapens in aanvalle op burgerlikes gebruik is. In 2015 en 2016 het goedkeuring vir uitvoer na hierdie twee lande meer as 40% van alle goedgekeurde wapenuitvoere vanaf Suid-Afrika uitgemaak.

  • ​Foto: ʼn Huis wat in die suide van Sana'a in lugaanvalle vernietig is. Krediet: Wikimedia Commons.

Lees hier verder wat*dr Chris Jones, Hoof van die Eenheid vir Morele Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch, oor die kwessie te sê het.