Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Akademiese biblioteke help om COVID-19-verwante fopnuus te fnuik
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 14/09/2021

​Akademiese biblioteke in Suid-Afrika het tot dusver hoë-gehalte inligting verskaf om die negatiewe uitwerking van fopnuus wat met COVID-19 verband hou, te neutraliseer.

Dit is een van die vernaamste bevindings van 'n onlangse studie by die Universiteit Stellenbosch (US).

“Akademiese biblioteke het 'n belangrike rol as bronne van betroubare inligting gespeel teen fopnuus en het op verskeie strategieë staatgemaak om dit beveg," sê Siviwe Bangani, Direkteur: Navorsingsdienste by die US se Biblioteek- en Inligtingsdiens.

Hy het navorsing gedoen oor hoe akademiese biblioteke tot die stryd teen fopnuus in Suid-Afrika bygedra het sedert die pandemie ons land bereik het. Die bevindings van sy studie het onlangs in die Journal of Academic Librarianship verskyn.

Bangani het 'n literêre oorsig en inhoudsontleding van webwerwe en biblioteekgidse (oftewel LibGuides) van Suid-Afrika se openbare universiteite tussen Julie en Augustus 2020 gedoen toe die land op die hoogtepunt van die eerste vlaag COVID-19-infeksies was.

Benewens sy soektog na gratis COVID-19-hulpbronne en -inligting op die landingsblaaie van universiteite se webwerwe, het hy ook op aanlyn platforms soos EbscoHost, Science Direct, SA ePublications, Scopus, Web-of-Science en Google Scholar gesoek deur sleutelwoorde soos “COVID-19", “COVID-19 en (fake news or infodemic)", en “fake news or the infodemic" te gebruik.

Volgens Bangani was universiteite se landingsblaaie 'n ryk bron van data vir gratis COVID-19-hulpbronne, terwyl hul LibGuides die meeste data oor fopnuus of die infodemie verskaf het.

“My studie toon dat akademiese biblioteke COVID-19-verwante fopnuus teengewerk het deur onder meer gehalte- en geloofwaardige inligting en inligtings- en mediageletterdheidsonderrrig te verskaf, deur bewustheid oor fopnuus te skep, deur bibliotekarisse wat webinare en konferensies bywoon en aanbiedings daar doen, asook deur die versameling van hulpbronne wat nuttig kon wees in die stryd teen fopnuus.

“Sommiges het toegewyde LibGuides opgestel wat daarop gefokus was om die jongste inligting oor COVID-19 verskaf. Hierdie LibGuides skakel na gratis elektroniese materiaal soos boeke, vaktydskrifte en webwerwe, soos die Suid-Afrikaanse regering se webwerf wat geloofwaardige inligting oor COVID-19 verskaf. Die LibGuides het inligting verskaf oor die virtuele dienste wat die biblioteke gedurende hierdie tydperk gelewer het.

“Hierdie biblioteke het hul webwerwe en LibGuides gebruik om gehalte- en geloofwaardige COVID-19-hulpbronne en inligting te verskaf en toegang tot dit te bevorder."

Bangani sê die meeste LibGuides in Suid-Afrika bevat skakels na evalueringsinstrumente soos die Internasionale Federasie van Biblioteekverenigings en -instellings (IFLA) se “How to Spot Fake News", CRAAP (Currency, Relevance, Authority, Accuracy and Purpose) en video's oor hierdie onderwerp.

“IFLA se 'how to spot fake news' is baie gewild onder bibliotekarisse wat inligting oor hoe om fopnuus in Suid-Afrika te bekamp, by hul LibGuides inwerk."

Bangani voeg by dat sommige universiteitsbiblioteke ook teen-fopnuusboeke aangekoop het. Hulle het ook hul kliënte oor die skadelike uitwerking van fopnuus gewaarsku en het skakels na instrumente om dit op te spoor verskaf en het hulle gehelp om onafhanklik inligting te vind.

“Aanlyn opleiding, wat dikwels geanker was in maniere om geloofwaardige inligtingsbronne te vind, het regdeur die COVID-19-staat van inperking voortgeduur. Die US het byvoorbeeld met sy #SmartResearcher-werksessies voortgegaan en het ook opleiding aan studente en navorsers verskaf sodat hulle nuwe vaardighede kon aanleer wat hulle 'n voorsprong gegee het in hul hantering van fopnuus."

Volgens Bangani dui hierdie stappe deur akademiese biblioteke daarop dat hulle positief gereageer het op die Biblioteek- en Inligtingsvereniging van Suid-Afrika se oproep aan alle inligtingspraktisyns om fopnuus te bekamp.

Hy sê die resultate van sy studie kan as 'n templaat gebruik word van hoe biblioteke krisissituasies in die toekoms kan hanteer.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Siviwe Bangani

Biblioteek- en Inligtingsdiens

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4641

E-pos: sbangani@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za

​