Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US/Kayamandi-inisiatief gebruik kuns om negatiewe ingesteldheid teenoor geestesiekte te verander
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 13/09/2021

​In 'n eiesoortige sosiale-impakprojek van die Universiteit Stellenbosch (US) het akademici en kunstenaars saamgewerk om die stigmatisering van diegene met geestesiekte te bestry.

Vir dié projek onder leiding van prof Ben Loos en dr Tando Maduna (albei van Fisiologiese Wetenskappe) en prof Elmarie Costandius (Visuele Kunste) is kunswerke gemaak op grond van die wetenskaplike mikrograwe van menslike breinselle wat nagraadse Natuurwetenskappe-studente van die US in hulle navorsing geskep het. Die Kayamandi-kunstenaars Gerald Choga, Portia Mphangwa, Nomsa Mukwira, Zacharia Mukwira, Simon Shumi en Zingisa Vula het die fluoressensie- en elektronmikroskopiebeelde gekies waarby hulle aanklank gevind het, en dit as 'n uitgangspunt gebruik vir hulle skeppings, wat hulle eie opvattings, emosies en ervarings met betrekking tot geestesiekte weergee.

Die kunstenaars, US-personeellede en -studente sowel as gesondheidswerkers en ander gemeenskapslede van Kayamandi wil almal graag onakkuraathede oor geestesiekte regstel wat tans 'n negatiewe ingesteldheid teenoor diegene met geestestoestande veroorsaak. Hulle hoop hierdie projek sal stigmatisering bestry en 'n beter begrip van én 'n positiewer houding jeens persone met geestesiekte in die hand werk.

Dit het alles begin toe Fisiologiese Wetenskappe-studente in hulle navorsing bevind het dat party gemeenskappe hetsy oningelig of verkeerd ingelig is oor geestesiekte, wat gemeenskapslede met geestestoestande blootstel aan verwaarlosing en opvattings dat hulle lui of selfs getoor is.

Prof Costandius het in antwoord daarop besluit om die kunsmedium te gebruik om die probleem die hoof te bied. Sy het kunstenaars van 'n bestaande projek wat fokus op die sosio-politieke geskiedenis van die kunste en die dokumentering van materiële kultuur in histories benadeelde gebiede rondom Stellenbosch betrek. “So, die benadering was om visuele toegang en visuele geletterdheid te gebruik om insig te bied in sekere gestigmatiseerde mediese toestande, waaronder depressie, neurodegenerasiesiektes soos Alzheimersiekte, en tienerselfdood," verduidelik prof Loos.  

“Die kunstenaars se kommentaar oor hulle ervarings is besonder insiggewend," sê hy. “Hulle werk bied 'n werklike blik op van die denke, vrese en hoop met betrekking tot die spesifieke siektes in ons omliggende gemeenskappe. Die proses het die wetenskaplike mikrograwe lewe gegee en 'n bykomende konteks vir die kunswerke geskep."

Wat die inisiatief selfs méér waardevol maak, is die Xhosa-, Engelse en Afrikaanse vertalings van die verklarende byskrifte by elke kunswerk. “Toegang tot taal saam met die prente was vir ons belangrik, so die vertalings gee die projek 'n veel groter reikwydte," sê Loos. Wetenskapkommunikasie word verder ondersteun deurdat nagraadse Natuurwetenskappe-studente die wetenskap in leketaal verduidelik vir besoekers wat na die kunswerke kyk. “Die kuns maak dit baie makliker om die wetenskaplike werk daaragter, sowel as die probleem wat ons graag met die projek wil help oplos, te verduidelik," voeg Loos by.

Die kunswerke is in die Universiteit se kunsversameling opgeneem, en sal vir hetsy een, permanente uitstalling of verskeie tydelike uitstallings deur die hele US gebruik word. Die versameling is op die eerste vloer in die Jan Mouton Leersentrum te siene.

Vir verdere inligting, kontak proff Loos of Costandius by onderskeidelik bloos@sun.ac.za of elmarie@sun.ac.za.