Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch verbeter posisie op wêreldranglys
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 02/09/2021

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het sy posisie op Times Higher Education (THE) se wêrelduniversiteitsranglys (WUR) vir 2022 verbeter en is nou tweede in Suid-Afrika volgens die ranglys wat vandag (2 September 2021) uitgereik is.

Die US verskyn vir 'n derde agtereenvolgende jaar in die kategorie 251–300 op die ranglys en het een plek verbeter van verlede jaar se ranglys toe dit in die derde plek in SA was. Meer as 1 600 universiteite van 93 lande verskyn op die THE-WUR

“Die US se konsekwente prestasie op die THE-wêrelduniversiteitsranglys hou groot belofte in vir die instelling se visie om 'Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder'," sê prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering.

“Wat nog meer bemoedigend is, is dat die US daarin geslaag het om in die meeste aanwysers wat die THE-wêrelduniversiteitsranglys gebruik, te verbeter. Dit is geen geringe prestasie nie as 'n mens die COVID-19 pandemie en veral die uitdagings wat universiteite in ontluikende ekonomieë in die gesig gestaar het, in ag neem."

Sy het beklemtoon dat hoewel universiteite bewus is van die belangrikheid van ranglyste in die algehele persepsie van 'n instelling se wêreldwye akademiese en navorsingsaansien, “bly ons fokus by die US op akademiese en navorsingsuitnemendheid wat die wêreld vir ons almal beter sal maak. Dit is egter baie bevredigend wanneer ons internasionaal erken word vir ons soeke na oplossings vir probleme in die samelewing deur navorsings- en wetenskaplike programme van wêreldgehalte."

Aanwysers

Die THE-wêreldranglys vir universiteite is as 'n gesaghebbende ranglys van die wêreld se beste universiteite, die enigste wêreldwye prestasietabelle wat navorsingsintensiewe universiteite regoor hul kernmissies, naamlik onderrig, navorsing, kennisoordrag en internasionale uitkyk beoordeel.

Die US het weer eens verbeter in die aanwysers Bedryfsinkomste (kennisoordrag en 'n universiteit se vermoë om befondsing uit die handelsplek te bekom), Onderrig, Navorsing (aantal gepubliseerde akademiese artikels, reputasie vir navorsingsuitnemendheid en inkomste) en Sitasies (aantal kere wat 'n universiteit se gepubliseerde werk deur vakkundiges wêreldwyd aangehaal word).

Die vernaamste verbetering was in die tellings vir bedryfsinkomste* en onderrig** wat onderskeidelik met 8,8% en 5,6% verbeter het. Met 'n verbetering van 8,8%, het die bedryfsinkomstetelling van die vorige jaar (2021) se telling van 73,1 tot die telling van 79,5 vir 2022 verbeter. Die verbetering van 5,6% bring die onderrigtelling op 30,3 te staan, in vergelyking met 28,7 in 2021.

*THE WUR beskryf die “Bedryfsaanwyser" as 'n universiteit se vermoë om die bedryf met innovasies, uitvindings en konsultering en het 'n kernmissie van die hedendaagse wêreldakademie geword. Hierdie kategorie is poog om hierdie aktiwiteit van kennisoordrag te bepaal deur te kyk hoeveel navoringsinkomste 'n instelling uit die bedryf (aangepas vir PPP) verdien, wat dan met die aantal personeel wat die instelling in diens het, vergelyk word. Die kategorie dui die omvang van sakeondernemings se gewilligheid om vir navorsing te betaal en 'n universiteit se vermoë om befondsing in die handelsplek te vind – nuttige aanwysers van institusionele gehalte.

** Die “Onderrig"-kategorie word deur die jaarlikse Akademiese Reputasie-opname ondersteun. Hierdie opname ondersoek die waargeneemde prestige van instellings in onderrig en navorsing. Dit gee 'n idee van hoe toegewyd 'n instelling daaraan is om die volgende geslag akademici te kweek en 'n groot hoeveelheid nagraadse navorsingstudente dui ook op die verskaffing van onderrig op die hoogste vlak wat gegradueerdes lok en dat die universiteit daarin slaag om hulle te ontwikkel.

  • ​Klik hier vir die THE WUR-metodologie.
  • In Maart 2021 is die Universiteit Stellenbosch 23ste uit 606 instellings geplaas op die THE-wêreldranglys vir universiteite in ontluikende ekonomieë in lande of streke wat as “gevorder ontluikend", “sekondêr ontluikend" of “nuwe terrein" (frontier) geklassifiseer word. Die US het stelselmatig van die 42ste plek in 2017 verbeter. 
  • Foto: Stefan Els