Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Holland-Stellenbosch vennootskap baat landelike gesondheidsorg
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 02/09/2021

Danksy 'n vennootskap tussen die Holland Stellenbosch Mediese Stigting (HSMF) en die Universiteit Stellenbosch (US), is mediese sorg beskikbaar vir derduisende mense in landelike gebiede vir wie dit andersins nie moontlik sou gewees het nie.

Dié stigting het sy ontstaan te danke aan twee Nederlandse pulmonoloë, drr Stijn Mol, HSMF-voorsitter, en Maarten van Nierop. Dit was die geesteskind van Mol, wat ná opleiding aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) besluit het om in Suid-Afrika terug te ploeg.

Een inisiatief wat hieruit voortgevloei het, is 'n beursprojek vir mediese studente aan die US. Vir net 2021, die jaar waarin die HSMF sy twintigste bestaansjaar gedenk, beloop die totale beursgeld R2,4 miljoen.

Die HSMF-beursprojek word via die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid deur me Lindsay-Michelle Meyer gekoördineerder.

Volgens haar steun die HSMF Ukwanda reeds sedert 2007 finansieel, maar het dit aanvanklik verskeie projekte behels. Na 'n besoek in 2009 deur die Nederlandse ambassadeur in Suid-Afrika en ander hooggeplaastes is op 'n meer gefokusde benadering besluit. Op 'n latere beraad in Amsterdam, wat Meyer ook bygewoon het, is beurse vir behoeftige senior mediese studente as die grootste behoefte geïdentifiseer. “Baie van ons toppresteerders het werwingsbeurse wat net vir vier jaar geldig is. Daarom sukkel heelwat in hul finale jare met finansies," verduidelik sy.

Dis 'n feit dat dokters met studieskuld dikwels in die privaat sektor opeindig of die land verlaat, voeg sy by.

Een voorwaarde van die HSMF-befondsingsmodel is dat studente vir dieselfde tydperk as wat die beurs aan hulle beskikbaar gestel is, in 'n landelike omgewing of staatsinstelling met onvoldoende mediese dienste moet werk. “Dit pas dus in by ons strategie om landelike dokters vir die land te behou," sê Meyer.

Die HSMF se strewe is groter toegang tot mediese sorg in landelike gebiede en onderbediende gemeenskappe in Suid-Afrika se grootste stede. Die raming is dat minstens 200 000 mense vir wie dit andersins nie moontlik sou gewees het nie, elke jaar toegang tot mediese sorg kry danksy hierdie beurse.

Die beurstydperk wissel tussen een en drie jaar, en studente moet jaarliks aandui of hulle steeds ondersteuning benodig.

Onder die nege studente aan wie die eerste beurse in 2012 toegeken is, was vier heel gepas ook onder die tweede inname van die Landelike Kliniese Skool in Worcester.

Die HSMF-finansiering het aanvanklik vir al die FGGW-programme gegeld. “Omdat baie terapeute gesukkel het om werk te kry en dus ook om hul beursvoorwaardes na te kom, is dit deesdae egter net vir mediese studente beskikbaar," sê Meyer. Oor die jare het 58 mediese studente, ses arbeidsterapeute, drie dieetkundiges, twee fisioterapeute en twee spraakterapeute daarby gebaat. Die oorgrote meerderheid hiervan (69%) is vroue.

Van 2012 tot 2021 is R13,7 miljoen vir 174 beursjare uitbetaal. Altesame 24 studente – 14 bestaandes en 10 nuwes – ontvang vanjaar elk R100 000.

Meyer beskryf dit as 'n ongelooflike vennootskap tussen 'n universiteit en 'n niewinsgewende organisasie. “En dit het 'n reuse-impak op ons retensiestrategie, veral in landelike gesondheid waar ons sukkel om dokters te behou."

“Hoewel ek nie kan sê wat presies my toekomsplanne behels nie, sal ek vir seker in Suid-Afrika bly," sê Nicole Petersen, 'n beurshouer. “Ek het in 'n gesin grootgeword wat vir al hulle mediese behoeftes op openbare gesondheidsorg staatgemaak het. Een familielid het op die jong ouderdom van 47 blind geraak weens onbeheerde diabetes mellitus en as broodwinner sy bestaansmiddele verloor. In sulke gevalle is die voorkoming van eindorgaanskade die verantwoordelikheidheid van primêre gesondheidsorg-fasiliteite. Dit is dikwels hierdie sentrums – pasiënte se eerste toegangspunt tot die gesondheidsorgstelsel – wat die minste hulpbronne en personeel het.

“Ons kliniese rotasies is hoofsaaklik tot staatsfasiliteite beperk. Die behoeftes van daardie pasiënte is voor die hand liggend en daarom sal ek nie sommer my rug op hulle kan draai nie. Hoewel ek dus nie weet waar ek werk gaan kry nie, strewe ek daarna om in my gemeenskap te werk waar ek diegene kan dien wie se gesondheid geraak en beïnvloed word deur ander faktore as net die patofiosologie van siektes."

Volgens die Ukwanda-direkteur, prof Ian Couper, is daar internasionale bewyse van die sukses van hierdie tipe programme. “Beursprogramme wat van graduandi vereis om diens te lewer in ruil vir befondsing, het internasionaal getoon om ʼn verskil te maak aan landelike sorg. Dit is die een van verskeie voorstelle deur die Wêreldgesondheidsorganisasie oor hoe om ʼn verskil te maak aan die werksmag in landelike gebiede," sê Couper.

Onderskrif: Lede van die Holland-Stellenbosch Mediese Stigting het met FGGW-bestuurslede en -personeel vergader tydens 'n besoek 'n paar jaar gelede.