Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Toyota US Woordfees TV-opwipkanaal Vrydag op die lug
Outeur: Toyota SU Woordfees / Toyota US Woordfees
Gepubliseer: 30/09/2021

Die Toyota US Woordfees TV-opwipkanaal saai vanaf Vrydag, 1 Oktober 2021 uit.  Fees TV, soos dit op DStv bekend sal staan, is die eerste kunstefees wat op Suid-Afrikaanse televisie uitgesaai word en sal van 1 tot 7 Oktober 2021 op die lug wees.

Fees TV bring die verskeidenheid en vreugde van een van Suid-Afrika se grootste kunstefeeste na die kassie. Die programinhoud sluit 'n wye verskeidenheid genres in wat top- plaaslike talent ten toon stel: teater, skrywers en boeke, dans, leefstyl, komedie, kontemporêre en klassieke musiek, film, diskoers en visuele kuns. Die program het 'n sterk fokus op gehalteboeke, -teater, -musiek en -film in Afrikaans. 

Fees TV sal in Suid-Afrika van 1 tot 7 Oktober 2021, 24 uur 'n dag, op DStv-kanaal 150 aan alle Premium- en Compact Plus-intekenaars beskikbaar wees. In Namibië word dit op GOtv-kanaal 15 uitgesaai, waartoe alle GOtv Max-intekenaars toegang het. Die Fees TV-opwipkanaal sal ook op DStv Now beskikbaar wees en 'n seleksie van aanbiedings ook op DStv Catch Up.

“ 'n Groot verskeidenheid inhoud deur plaaslike vervaardigers is uitgesoek met die belangstellings en voorkeure van ons lojale feesgangers in gedagte. Die feesprogram sal dus aanklank vind by alle kultuurnuuskieriges en liefhebbers van die kunste, boeke, musiek, goeie kos en wyn. Mense uit verskeie omgewings en agtergronde sal kan saamkom rondom hul entoesiasme vir die kunste om skoonheid, skouspel, debat, stimulerende en uitdagende idees en 'n gevoel van gemeenskap te ervaar. Leefstylinhoud sal fokus op alles wat Stellenbosch en sy omgewing bied, aangesien dit die plek is waar die fees gewoonlik aangebied word," sê die Toyota US Woordfees-direkteur, Saartjie Botha.

Hoogtepunte en ankerproduksies wat by die programbekendstelling uitgelig is, sluit die volgende in:

Skrywersfees

Die Woordfees het in 2000 as 'n deurnagpoësiefees by die Universiteit Stellenbosch (US) begin, en boeke en skrywers is steeds die hart van die program. Skrywers, digters en denkleiers wat op Fees TV sal optree, sluit in Lien Botha, Andries Bezuidenhout, Nataniël, Nathan Trantraal, Joan Hambidge, Zandra Bezuidenhout, Bernard Odendaal, Ashwin Arendse, Veronique Jephtas, Dominique Botha, Jolyn Philips, Hilda Smits, Rudie van Rensburg, Erns Grundling, Ingrid Jones, Reuben Riffel, Max du Preez, Oscar van Heerden, Albert Grundlingh, Louise Viljoen en Willem Anker.

Toneel

Ervaar 'n verskeidenheid van Suid-Afrika se mees gevierde talent op die verhoog – op jou eie TV-skerm. Die Fees TV-teaterreeks sluit in:

  • Die veelbekroonde Valsrivier (gegrond op Dominique Botha se pryswennerroman) met Anna-Mart van der Merwe, Tinarie Van Wyk Loots en Stian Bam, teaterregie deur Janice Honeyman en filmregie deur Christiaan Olwagen
  • Die 2020 Fiësta-wenner vir Beste aanbieding, Die poet, wie's hy?, 'n viering van Adam Small se digkuns, met Dean Balie, teaterregie deur Frieda van den Heever en filmregie deur Christiaan Olwagen 
  • Reza de Wet se Mis met Nicole Holm, Martelize Kolver, Jane de Wet en Laudo Liebenberg, teaterregie deur Wolf Britz en filmregie deur Jaco Bouwer
  • Adam Small se Krismis van Map Jacobs met June van Merch, Ilse Klink, Dann-Jacques Mouton en Elton Landrew, teaterregie deur Jason Jacobs en filmregie deur Jaco Bouwer
  • Ferine and Ferase met teaterlegendes Andrew Buckland en Sylvaine Strike, teaterregie deur Toni Morkel en filmregie deur Jaco Bouwer
  • Die satiriese speletjiesprogram Off the Record van die Standard Bank Jong Kunstenaar-wenner Jefferson “J Bobs" Tshabalala
  • Hannes van Wyk in die gewilde eenmanstuk, Sê groete vir ma

Klassieke musiek

Kykers kan kies uit 'n verskeidenheid konserte, insluitend: die wêreldbekende US Koor; pianis Megan-Geoffrey Prins; Italiaanse opera-arias met bariton Theo Magongoma, sopraan Kimmy Skota en tenoor Arthur Swan; die Kaapstadse Barok-ensemble met Handel se Londen-operas; mezzo-sopraan Minette du Toit Pearce begelei deur Phillipus Hugo; pianiste Nina Schumann en Luis Magalhães; en Zorada Themmingh op die orrel van die Moederkerk in Stellenbosch.

Kontemporêre Musiek

Hoogtepunte in dié reeks sluit in:

  • 'n Viering van David Kramer se 70ste verjaardag met Emo Adams, Loukmaan Adams, Robin Auld, Schalk Joubert en vriende: Boland tot Broadway.
  • Karen Zoid sing 20 van haar grootste treffers onder begeleiding van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes.
  • Karoo Suite – 'n ode aan die skoonheid van die Groot-Karoo in woord, musiek en beeld deur Coenie de Villiers en Deon Meyer
  • Luna Paige, Ramon Alexander, Frazer Barry en ander vier die herkoms en verskeidenheid van Afrikaanse musiek in Smeltkroes.

Ook op die musiekspyskaart: Amanda Strydom, Spoegwolf, Die Heuwels Fantasties (met Francois van Coke, Tarryn Lamb en Jack Parow), jazz, kabaret, folk, swing en toonsettings van gedigte.

Komedie

Lag saam met 13 van die land se gewildste komediante: Marc Lottering, Schalk Bezuidenhout, Nik Rabinowitz, Shimmy Isaacs, Alan Committie, Bennie Fourie, Alfred Adriaan, Melt Sieberhagen, Kagiso Mokgadi, Joey Rasdien, Hannes Brümmer, Conrad Koch en Wayne McKay.

Die program-inhoud van Woordfees TV is hoofsaaklik in Afrikaans, maar daar is ook Engelse en meertalige werk op die program. Alle Afrikaanse programme met narratiewe inhoud wat deur die Woordfees vervaardig is, soos toneelstukke en diskoers, sal Engelse onderskrifte hê.

Belangstellende wat nie DStv-intekenaars is nie, kan slegs vir 'n maand inteken en die hele fees veilig in hul sitkamer geniet.

Die programbekendstellingsaanbieding van ongeveer 20 minute is steeds op die Toyota US Woordfees se Facebook-blad en DStv se YouTube-kanaal beskikbaar.

* Die Toyota US Woordfees TV-opwipkanaal word van 1 tot 7 Oktober op DStv-kanaal 150 in Suid-Afrika uitgesaai en op GOtv-kanaal 15 in Namibië. Hou woordfees.co.za en die Woordfees se sosialemediaplatforms dop vir nuwe inligting oor Fees TV.

Vir navrae, kontak Danie Marais: danie_marais@sun.ac.za