Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Groot hupstoot vir vaardighede in agrituinbou vir Kolleges vir tegniese en beroepsgerigte onderwys en opleiding
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 30/08/2021

​Motheo Kollege vir tegniese en beroepsgerigte onderwys en opleiding (TBOO) is die eerste TBOO Kollege in Suid-Afrika wat 'n tegnologie-gedrewe kweekhuistonnel gevestig het. Dit het ten doel om die TBOO-graduandi in die agrituinbousektor se vaardighede te ontwikkel en aanstelbaarheid te verbeter.

Dit is een van die mylpale van die gesamentlike drie jaar lange Orange Knowledge Programme van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Maastricht School of Management (MSM) getiteld: “Strengthening Skills of TVET Staff and Students for Optimizing Water Usage and Climate Smart Agriculture in South Africa". Hierdie projek word gefinansier deur die Netherlandse Universiteite-stigting vir Internasionele Samewerking (NUFFIC), deur middel van die Nederlandse Ministerie van Buitelandse Sake.

Die installasie van die kweekhuistonnel is die gevolg van 'n aantal assesseringsaktiwiteite wat navorsers van die US, Nederlandse kweekhuisdeskundiges wat deur MSM gekoördineer is, asook TBOO-personeel van Boland, Motheo en Vhembe Kolleges betrek het. Een van hierdie assesserings wat van Desember 2019 tot Januarie 2020 uitgevoer is, het die belangrikste industriegedrewe vaardigheidsvereistes in die privaat tuinbousektor in die domein van waterwyse agrituinbou uitgelig. Die beleggging in die kweekhuis sal dus die vaardighede van die TBOO-graduandi ontwikkel en daardeur hul aanstelbaarheid verhoog.

Tydens die oorhandiging wat op Vrydag 13 Augustus 2021 plaasgevind het, het prof Dipiloane Phutsisi, prinsipaal van Motheo Kollege, die behoefte aan samewerking en kennisuitruiling beklemtoon ten einde suksesvolle opleiding in oesproduksie in die kweekhuis te kan bewerkstellig. Dr Rykie van der Westhuizen, 'n oesproduksie-spesialis, het die kweekhuis inspekteer en sy werking en funksionaliteit goedgekeur deur dit af te teken en amptelik aan Motheo Kollege te oorhandiging. Dr van der Westhuizen sal oor die volgende paar weke 'n kardinale rol speel in die inwerkingstelling van die kweekhuis en die aanvang van die tuinbou-opleiding van studente in die kweekhuis. 

Mnr Brent Stevens van Vegtech, die verskaffers van die tonnel, het ook 'n aantal van die TBOO-personeel bekendgestel aan die tegniese aspekte van die kweekhuistonnel. 'n Ander kweekhuistonnel is intussen ook by die Vhembe TBOO Kollege in Limpopo voltooi, en 'n derde tonnel behoort teen November 2021 by Boland TBOO Kollege voltooi te wees.  

Medianavrae

Mnr Peter Makae

Bestuurder in die kantoor van die prnsipaal, Motheo TVET Kollege, Bloemfontein

E-pos: makaep@motheotvet.co.za

 

Mnr Manuel Jackson

Programbeampte, Universiteit Stellenbosch Waterinstituut (USWI)

E-pos: jacksonm@sun.ac.za